Foto’s: ‘Ongemaklike’ fotosessie laat mense skater

José Gerber en Michelle van Biljon het internetgebruikers gaande met hulle ‘ongemaklike’ fotosessie. (Foto: Lilly Leigh Photography)

Toe José Gerber en Michelle van Biljon van Pretoria onlangs ʼn skreeusnaakse fotosessie op Facebook gedeel het, sou hulle nie kon raai watter soort reaksie dit van internetgebruikers tot gevolg sou hê nie.

Gerber (26) en Van Biljon (25) se fotosessie, waarin hulle in ongemaklike posisies poseer terwyl hulle in klere uit die tagtigerjare geklee is, is duisende kere op Facebook gedeel.

Talle Facebook-gebruikers het ook kommentaar gelewer oor die paartjie se sin vir humor. “Ek sou nie my lag kon inhou nie,” skryf ene Charmaine Tait, terwyl talle ander mekaar onder die plasing aangemoedig het om dieselfde soort fotosessie te beproef.

Van Biljon, ʼn maatskaplike werker, vertel aan Maroela Media dat sy en haar kêrel al die afgelope vyf jaar ʼn paartjie is en dat hulle nog nooit vantevore saam vir die kameras geposeer het nie.

“Ons is nie regtig die fotosessie-tipe mense nie. Ek het ʼn soortgelyke fotosessie op Instagram gesien nadat my jonger sussie dit vir my aangestuur het. Ek en José het gedink dit is baie snaaks en dit het ons laat dink aan ʼn toneel uit een van ons gunsteling-flieks, Masterminds.”

Toe Van Biljon weer haar oë uitvee, het Gerber by sy niggie, die fotograaf Lee-Anne Lilly Nel van Lilly Leigh Photography, aangeklop om dieselfde soort sessie met hom en Van Biljon te doen.

José Gerber en Michelle van Biljon het internetgebruikers gaande met hulle ‘ongemaklike’ fotosessie. (Foto: Lilly Leigh Photography)

Van Biljon, ʼn bok vir sports, het ingestem om die fotosessie te doen en het saam met haar vriendin, eienaar van die tweedehandse klerewinkel Rags Reloved, aan hulle uitrustings beplan.

“Nóg ek nóg José besit werklik sulke klere, so ek moes ʼn plan maak dat ons darem by die tema inpas.”

Sy vertel laggend dat hulle nie verwag het dat die fotosessie soveel mense sou vermaak nie. “Ons het gedink ons vriendekring sal dit geniet, want hulle deel dieselfde sin vir humor as ons. Ons is ʼn ‘grappige’ paartjie en neem nie die lewe te ernstig op nie.”

Van Biljon bieg dit was nie deurgaans maklik om ʼn veraf uitdrukking op die foto’s te hou nie. “Ons het ons ná elke foto eers pap gelag.”

Die fotosessie het in ʼn parkie in Queenswood, Pretoria, plaasgevind. “Daar was net een ander paartjie en ʼn boemelaar in die parkie wat ons baie snaaks aangekyk het,” sê sy laggend.

Date iemand wat bereid is om Awkward saam jou te wees ????????Jose Gerber Michelle van Biljon

Posted by Lilly Leigh on Saturday, July 24, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert K ·

Ek is mal oor mense wat ‘n sin vir humor het. Hierdie is uniek! Baie oulik julle, ek het gelag, en dit is iets wat ons
in hierdie deurmekaar wêreld nodig het.

Adriaan ·

Nou is ek bietjie bekommerd want van my klere lyk so! Nee, nie regtig nie. Bekommerd nie, bedoel ek.

Elinette ·

‘Skuus, maar wat is snaaks aan die foto’s? Dit is net nog 2 verliefde jongmense in ‘n parkie …

Cherokee ·

Net so Elinette. Mense se sin vir humor verskil. Ek vind ook niks snaaks daaraan nie. Ons lag maar net vir ander dinge.

Sandra ·

Terwyl dit oulik is, is ek seker dom, want ek sien nie die “snaaks” nie. Lyk vir my soos gewone fotos.

Misky ·

Dankie vir die lag. Ons het meer van dit nodig in vandag se onderstebo wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.