Geliefde ‘roosterkoek-tannie’ se droom verwesenlik

Tannie Poppie van As (Foto: Verskaf)

Die geliefde 63-jarige tannie Poppie van As van Laingsburg in die Wes-Kaap se groot droom om buite die grense van die Wes-Kaap te reis, is besig om ʼn werklikheid te word.

En dié is nie sommer enige reis nie – tannie Poppie is op pad Italië toe!

Poppie is al jare lank ʼn vriendelike gesig in die Laingsburg-omgewing met haar geurryke tuisgemaakte roosterkoeke wat sy langs die N1 by haar eie padstalletjie verkoop. Die geliefde roosterkoek-tannie se sprankelende en energieke persoonlikheid laat mense elke keer terugkeer vir nog ʼn roosterkoek en om ʼn vinnige geselsie aan te knoop.

Sowat ses jaar gelede het Stan Engelbrecht (43) van Kaapstad ʼn roosterkoek met kaas en konfyt by haar stalletjie gekoop het. Luidens ʼn verklaring wat deur BackaBuddy uitgereik is, het Engelbrecht in die Laingsburg-omgewing fiets gery toe die heerlike reuke van die roosterkoek-stalletjie hom dadelik nader gelok het.

“Ons het heerlik gesels. Mens hou sommer dadelik van haar omdat sy so ʼn aangename persoonlikheid het. Sy is ʼn bol energie,” vertel Engelbrecht in die verklaring.

Later is Engelbrecht weer terug na dié stalletjie om nóg van die heerlike roosterkoeke te koop.

Poppie van As (links) en haar vriend Stan Engelbrecht (regs). (Foto: Verskaf)

ʼn Paar maande later het Engelbrecht vir Poppie gevra om haar beroemde roosterkoeke by ʼn fietswedren wat hy in die omgewing gereël het, voor te berei. “Haar roosterkoeke was ʼn treffer. Almal was mal daaroor,” vertel Engelbrecht.

Kort voor lank het Poppie deel geword van die fietsry-familie en haar roosterkoeke by al Engelbrecht se fietswedrenne gemaak. Hy vertel dit was ʼn plesier om haar vriendelike gesig by elke fietswedren te sien en dat haar sprankelende menswees nog daagliks talle harte aanraak.

Elke jaar kom talle fietsryers bymekaar om die ou Italiaanse padfiets-kultuur by die Eroica-byeenkoms in die Montagu-omgewing te vier. Die Italiaanse verteenwoordigers van Eroica Suid-Afrika het net daar en dan besluit hulle wou iets vir tannie Poppie teruggee en haar genooi om ʼn Eroica-fietsrygeleentheid in September vanjaar in Gaiole, Italië, by te woon.

Tannie Poppie sal Eroica se gas wees en hulle sal haar vliegkaartjie en verblyf vir die drie dag lange geleentheid dek.

Poppie het nog nooit in haar 63 jaar ʼn voet uit die Wes-Kaap gesit nie.

“Toe ek die nuus aan haar breek dat sy Italië toe gaan, het sy van blydskap begin rondhardloop en skree. Haar droom is besig om waar te word. Hierdie ervaring gaan haar lewe vir altyd verander,” sê Engelbrecht.

Engelbrecht en sy vriendin, Donnet Dumas, het besluit om Poppie se reis nog meer spesiaal te maak deur haar op die reis te vergesel en haar alles te wys wat Italië haar kan bied.

Tannie Poppie van As (Foto: Verskaf)

Engelbrecht sê dit is sy manier om haar te bedank deur vir haar ʼn reis te gee wat sy nooit in haar lewe sal vergeet nie.

ʼn Veldtog is van stapel gestuur om geld in te samel om Poppie se besoek aan Italië onvergeetlik te maak.

Sowat R37 000 is alreeds vir Poppie geskenk. Engelbrecht beoog om altesaam R100 000 vir Poppie se reis in te samel.
Die geld sal gebruik word vir onder meer visumkoste, reiskoste en om vir tannie Poppie ʼn paar goedjies aan te skaf wat haar heel eerste vlug en eerste besoek aan die buiteland sal vergemaklik.

Alle geld bo R45 000 wat ingesamel word, sal gebruik word om Poppie se avontuur en lewensverhaal te dokumenteer.

“Ons hoop en vertrou die publiek sal ons veldtog ondersteun sodat Poppie so gemaklik en selfversekerd as moontlik kan wees op hierdie lewensveranderende reis. Ek hoop ook dit sal ʼn positiewe uitwerking op haar en haar gesin hê,” sê Engelbrecht.

Vir elke weldoener wat ʼn bydrae van R250 of meer maak, sal tannie Poppie persoonlik ʼn poskaart uit Italië stuur. Besoek die BackaBuddy-veldtog se webblad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Amelia ·

Mag hierdie droom waar word.My beste wense vergesel haar…..

Lizelda ·

Geral vd program “Die Siener” het dit aan haar geopenbaar. So bly sy gaan op haar groot avontuur. Geniet elke oomblik…

Johanna ·

Awesome tannie Poppie! Geniet dit. Dankie aan almal wat dit moontlik maak. Gee n mens net weer nuwe hoop vir die lewe!

Lee ·

Dit is so ‘n mooi storie. Baie geluk tannie Poppie jy verdien dit. Geniet Italië.

Zettie ·

Ek het vir Tannie Poppie leer ken op “Die Siener” se program nou onlangs! Hy het nogal vir haar gesê sy moenie ophou glo nie. Haar droom gaan bewaarheid word en kyk nou.

Mieliestronk ·

Geniet dit Tannie Poppie elke oomblik en die persoon wat die storie neer gepen het Die wereld het so baie lelike dinge dis vir n slag lekker om n slag so mooi storie te lees Die skrywer jou toekoms is oop met so mooi stories Maroela moet jou mooi oppas

Wenner ·

Tannie Poppie, jy lyk soos n dame van in haar veertigs!! Tannie Poppie, jy moet alles net met oorgawe gaan geniet. Maar asseblief: los net die Italiaanse omies waar hul moet wees. In Italie????.

My mening ·

Wat n lieflike verhaal! Dis só lekker om sulke artikels te lees wat net weer n mens se oë oopmaak vir al die mooi wat nog in ons land is. Selfs iets so eenvoudigs soos n roosterkoek kan n verskil maak.

Hallelujah ·

Vat so Tannie Poppie – ek het jou ook op Siener gesien – jy was so so gaaf en dierbaar – en op daai program het jy al jou wense geopenbaar. En ek is so so so bly God het jou drome ‘n waarheid laat word Tannie Poppie. Gaan geniet dit helemal helemal en maak jou Roosterkoeke sommer in Italie. Geniet dit Mwa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.