Gemeenskap, polisie vat hande om traumasentrum op te knap

Verskeie organisasies in die ooste van Pretoria het hande gevat om ’n opknappingsprojek van stapel te stuur. (Foto: verskaf)

Verskeie organisasies in die ooste van Pretoria het hande gevat om ’n opknappingsprojek van die Boschkop SAPD-traumasentrum van stapel te stuur.

Die organisasies, onder meer die AfriForum Trauma‑eenheid, Hurter Spies Prokureurs, verskeie Solidariteit Helpende Hand-takke, die Kwungwini-welsynsorganisasie, talle woonbuurtverteenwoordigers en gemeenskapspolisiëringsforums, het saam op Donderdag 28 Julie die projek van stapel gestuur.

Lt.kol. Gerald Witbooi, nuwe stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiestasie, het met die opknappingsplan vorendag gekom.

“Lt.kol. Witbooi is ’n gesoute polisiebeampte wat almal hartlik welkom geheet het. Daar is sommer met die intrapslag opgemerk dat daar reeds begin is met die skoonmaak van die polisiestasie en die omgewing,” het Isabel Böning, Pretoria-Oos-streeksorganiseerder, gesê.

Verskeie organisasies het komberse, sagte speelgoed en skryfbehoeftes geskenk om die traumasentrum mee toe te rus.

Daar is ook sakkies gepak met onder meer gesigseep, tandepasta, tandeborsels en handdoeke. Skenkings het handdoeke, beddegoed vir die bed in die traumasentrum, kindermatte, tafels en stoele ingesluit.

“Ons grootste dank gaan heel eerstens aan Ons Hemelse Vader wat hierdie projek geseën het. Ons kon dit nie sonder Hom aangepak het nie. Die projek was so geseën met goeie skenkings. Lt.kol. Witbooi het ons ook die versekering gegee dat hierdie skenkings slegs gebruik gaan word deur die traumasentrum vir slagoffers wat trauma deurgemaak het.”

Die doel van die projek was die versterking van die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap.

“Die polisie het die gemeenskap nodig net soos wat die gemeenskap die polisie nodig het en daarom is goeie verhoudings nodig, hierbenewens is dit belangrik dat slagoffers van misdaad professionele diens ontvang en dit begin by ʼn netjiese, skoon en slagoffer‑vriendelike omgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

T ·

Dis al hoe ons ons gemeenskappe kan regruk. As elke straat weer saamstaan, saam braais hou, uitryk na mekkaar en weer in Liefde mekkaar help en ondersteun x Die dae van vertrou op Munispaliteite en Owerhede om in te staan is verby. Die onus le op elkeen van ons om ‘n verskil te maak, al is dit hoe klein x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.