Gemeenskapsprojek vernuwe Kroonstad

Inwoners help om Kroonstad netjies te hou (Foto: Ignite and Revive Kroonstad)

Vir die eerste keer in sowat 27 jaar werk die sakelui, die gemeenskap en die munisipaliteit van Kroonstad saam om dié dorp te help om sy volle potensiaal te bereik.

Die Facebookblad “Ignite and Revive Kroonstad”, saam met hul nuwe, jong burgemeester, is aan die stuur van hierdie beweging en hulle wil Kroonstad op verskeie maniere verbeter.

Ignite and Revive Kroonstad wil kwessies soos gesondheidsorg, toerisme, die dorp se ekonomie, ouetehuise en skole aanpak om ʼn positiewe verskil te maak. Verskeie inisiatiewe soos ʼn kunstefees, ʼn dorp-skoonmaak-projek, sake-etes en samesmelting van skole sal deel uitmaak van die verbetering van die dorp.

André van Pletzen, ʼn sakeman van Kroonstad wat die Facebook-groep in 2016 gestig het, sê hulle wil ʼn voorbeeld stel en ander dorpe in Suid-Afrika motiveer om ook self moue op te rol en eienaarskap van hul dorpe te neem.

Ignite and Revive Kroonstad moedig mense aan om eienaarskap van hul dorp te neem (Foto: Ignite and Revive Kroonstad)

“Hier het al baie wonderwerke gebeur,” sê Van Pletzen. “Ons vra mense om self iets ekstra te doen waar hulle kan. Om voor hul eie deure skoon te maak en om by ʼn groep aan te sluit wat proaktief is en wat goeie goed wil laat gebeur.”

Van Pletzen sê dit is merkwaardig hoe Kroonstad reeds in die sewe maande van die dorp-skoonmaak-projek aan die gang is, opmerklik beter lyk as ʼn mens deur die dorp ry.

Mpho Chakane, Kroonstad se burgemeester (Foto: Ignite and Revive Kroonstad)

“Mense is oral besig om mooi te maak en om ʼn impak te hê. Hulle maak self die sypaadjies voor hul huis skoon en reg en verf alles mooi. Dit maak nie saak of jy swart of wit of Moslem of Christen is nie, ons almal vat hande en dit is besig om die dorp om te swaai.”

Van Pletzen sê Kroonstad se nuutverkose 32-jarige burgemeester, Mpho Chakane, speel ook ʼn groot rol in die sukses van die projek omdat hy ʼn hup in sy stap het, gereed is vir enige uitdaging, en dieselfde visie deel.

Ignite and Revive Kroonstad het ook ʼn nuwe projek waar inwoners of besighede ʼn verkeerseiland in die dorp kan aanneem, en dit dan opkikker in ooreenstemming met munisipale regulasies. Volgens Van Pletzen is 100% van die verkeersirkels en die meeste van die verkeerseilande in die dorp reeds aangeneem, wat mense se bereidwilligheid om te help, ten toon stel.

Mense kan verkeerseilande en-sirkels aanneem om op te kikker (Foto: Ignite and Revive Kroonstad)

Van Pletzen sê hierdie projek het met ʼn klein groepie mense begin en reeds so uitgebrei dat dit ʼn groot verskil in die dorp maak.

Hy sê hulle kry baie goeie terugvoer van oud-inwoners en ook mense van oorsee wat hul Facebook-plasings sien.

Vir meer inligting, of om hul projek te volg, besoek Ignite and Revive Kroonstad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antjiepat ·

ja ne, net interessant dat Kroonstad eens op ‘n tyd gekies was as dorp van die Jaar en die vakansie oord Kroonpark het 4+ sterre by Toerisme Raad gekry. Kroonpark so vervalle en het ‘n politieke speelbal geword net soos die oulike jong burgemeester maar net sy moutjies oprol omdat hy weet een van die ou daggies is dit mos munisipale verkiesing en hy moet net IETSIE doen om tog so paar stemme nog te kry. Ek bedoel Geagte Mnr van Pletzen.. was laasmaand deur Kroonstad… sjoe ek het nie woorde nie …. daar is nie ‘n straat sonder ‘n slaggat nie.. die eens so mooi dorp waardeur die Valsrivier vloei…..

Kiepie ·

Wel gedaan inwoners van Kroonstad. Maar ek hoop een van die oogmerke van Ignaite an d Revive Kroonstad is ook om vra te vra oor waarom die munisipaliteit nie self hulle verantwoordelikheid teenoor die belastingbetalers van die dorp nakom nie en wat word van die heffings en belastings wat julle elke maand so getrou betaal.

Frieda ·

Goed gedaan !! wat die rede ookal is dis goed en almal werk saam!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.