Gids om onderwysstudente in Afrikaans by te staan

Van links na regs: Karien Brits, Jackie Duffield, Juanita Pratt, proffs. Erna du Toit en Gawie du Toit. (Foto: Verskaf)

Help! Ek is ʼn studente-onderwyser, ʼn gids vir studente en onderwysers wat as mentors optree, is die eerste Afrikaanse uitgawe van dié publikasie. Die boek is op 27 Februarie by Akademia in Pretoria bekendgestel en lewer ʼn bydrae tot die bespreking van toepaslike temas en vakterminologie in Afrikaanse onderwys.

“Dit is heerlik om hierdie handboek in Moedertaalmaand bekend te stel, aangesien dit ʼn mylpaal vir Afrikaanse onderwys is. Ek hoop dat dit as inspirasie vir ander taalgemeenskappe kan dien om vertalings in hul eie moedertale te doen,” het Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia en hoof van Akademia Uitgewers, gesê.

Akademia het in 2021 die behoefte aan ʼn Afrikaanse weergawe van die boek geïdentifiseer om sodoende te help dat studente in hulle moedertaal, Afrikaans, kan skoolhou. Die projek is in samewerking met Van Schaik Uitgewers aangepak om Afrikaanse opvoedkundestudente in hulle moedertaal te ondersteun.

Volgens prof. Erna du Toit, mederedakteur van Help! Ek is ʼn studente-onderwyser, het die eerste Engelse uitgawe wat in 2008 uitgegee is, temas behandel wat toepaslik op studente se akademiese werk en praktiese onderwys is. Die tweede weergawe het op die tema van waardegedrewenheid gefokus, terwyl die derde uitgawe elemente van die Vierde Industriële Rewolusie bevat het.

Erna het tydens die bekendstelling gesê die boek dra ook by tot onderwysterminologie wat vir die Afrikaanse onderwysstudent van onskatbare waarde sal wees. Sy het ʼn beroep op akademici gedoen om dit verder uit te bou en nuwe maniere te ontwikkel om studente vir die onderwysberoep voor te berei.

Uitgewers speel ʼn kernrol in die bevordering van akademiese gesprekke deur die publikasie van gehalte boeke op verskeie digitale en gedrukte platforms, meen Karien. “Dit was heerlik om met Van Schaik Uitgewers hande te vat om hierdie boek in Afrikaans aan ons gemeenskap te kan bied.”

Karien benadruk die belangrikheid van vakterminologie en verduidelik waarom dit kardinaal vir die voortbestaan van Afrikaans is om oor die korrekte vakterminologie te beskik.

“ʼn Handboek help ons om terminologie te standaardiseer, en daarom wil ons skrywers uitdaag om aan te hou om in Afrikaans te skryf, skep en publiseer.”

Help! Ek is ʼn studente-onderwyser is deur Johan Blaauw vertaal, en die projek is te danke aan ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns moontlik gemaak.

Die verrigtinge is deur prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, geopen en dr. Annelise de Vries, dosent in opvoedkunde en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, was die seremoniemeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie goed ,miskien moet ons geld insamel en Afrikaanse skole bou vir die onderwysers onafhanklik van die patetiese staats skole met inmenging van mense wat nie eers die Afrikaanse kultuur verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.