Gidshonde wêreldwyd gevier

(Foto: Enis Yavuz/Unsplash)

Die vierpotige helde en kie word op die voorgrond geplaas op die jaarlikse Internasionale Gidshonddag wat vanjaar op Woensdag, 27 April plaasvind.

Op hierdie dag word die grootste uitdrukking van die liefde wat tussen mens en hond bestaan, gevier.

’n Gidshond gee vir gesiggestremde individue die geleentheid om die struikelblokke wat hulle ervaar, met gemak oor te steek.

Anel Coetzee, ʼn prokureur in Gauteng, vertel dat haar gidshond, Obi, haar lewe onherroeplik verander het.

“Ek het vir ’n gidshond aansoek gedoen met die hoop dat dit my sal help om universiteit, besige paaie, inkopiesentrums en publieke vervoer te trotseer. Min het ek geweet dat my gidshond baie meer vir my sou doen as om my bloot van punt A tot B te kry. Wanneer ek te doen kry met die uitdagings van blindheid, voel ek net aan Obi se harnas wat my herinner dat ek nie alleen in die stryd is nie. Hy is die een wat my vertroetel wanneer my angs net een te veel word. Eens op ’n tyd het ek gewens vir ’n gidshond. Wat ek gekry het, was ’n vennoot vir Park Runs, ’n vriend vir lewe en ’n held wat my in staat stel om te kan droom, hoop en glo dat ek my lewe kan leef op enige manier wat ek sou wou.”

Internasionale Gidshonddag vier nie net honde nie, maar ook die versorgers wat die diere grootmaak tot en met die ouderdom van 16 maande, die instrukteurs wat seker maak dat die diere gereed is om na ’n nuwe huis te gaan en alle ander vrywilligers wat by die grootmaakproses betrokke is.

“Om ’n hond te ontvang is ’n geskenk wat nie eers vergelyk kan word met die kosbaarste skatte nie. Dis soveel meer as net ’n hond, hulle kom in die lewens van gesiggestremdes in met pote, sterte en meer liefde in hul lyfies as wat enige een voor sou kon wens.”

Wanneer daar oor die skoonheid van die lewe gepraat word, is dit in visuele terme. Sig speel ’n geweldige belangrike rol in die dinge waarmee mense hulle dag tot dag besig hou.

In ’n wêreld wat vir siendes ontwerp is, kom talle dinge as ’n struikelblok vir diegene wat gesiggestremd is voor. ’n Koppie koffie is skielik ’n voorwerp van gevaar, ’n meubelstuk word ’n hindernis waaroor geval kan word.

Dis juis oor hierdie einste rede dat die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (GDA) vir blindes in 1953 gevind is.

  • Vir meer inligting oor die GDA en jy hulle kan ondersteun, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.