Groot legendes word beskermhere vir kinderhuis

Corlea Botha, Elzaan van der Merwe, Wynand Claassen, Gerda van der Merwe, dr. Riekie Smit en Marlene de Villiers by die spoggeleentheid waar die beskermhere bekend gemaak is.

Wynand Claassen, ʼn voormalige Springbokkaptein, dr. Riekie Smit, ʼn mediese praktisyn, die sangeres Corlea Botha en Elzaan van der Merwe, ʼn motiveringspreker en bekende ontwerper, is die nuwe beskermhere van die Abraham Kriel-kinderhuis (AKK) Nylstroom in Modimolle, Limpopo.

Die beskermhere is verlede week by ʼn spoggeleentheid in Pretoria vereer vir hulle betrokkenheid by dié kinderhuis. Die kinderhuis se kinders beskou die groep bekendes reeds as hulle eie persoonlike legendes.

“Hulle skenk hul vrye tyd om op onbaatsugtige wyse kinders wat hoop verdien, te help en op te hef. Die AKK Nylstroom bou en brei ons huis uit vir hierdie kinders en vul dit met die basiese behoeftes en nog meer wat nodig is om van hierdie kinders suksesvolle burgers en lede van ons samelewing te word.

“Baie dankie aan Corlea, Wynand, dr. Riekie en Elzaan dat julle bereid is om julle name, tyd en talente met die kinderhuis te deel en op so ʼn wyse ʼn verskil in kinders se lewens te maak,” sê Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom.

Die AKK Nylstroom vier hierdie jaar ook sy 60ste verjaarsdag. Deur die loop van die jaar is verskeie projekte aangepak om hierdie besondere mylpaal te vier. Donderdagaand was ʼn hoogtepunt toe vier nuwe beskermhere hulself tot die kinderhuis verbind het.

“Ek besef ek sal nooit my eie kinders hê nie, maar my droom was nog altyd om vir ʼn huis vol kinders te sorg en vanaand is my droom bewaarheid. Dankie vir die voorreg,” het Botha gesê.

“As kind het my ouers ʼn kinderhuis-kind in ons huis geneem en daar het ek die impak gesien wat ʼn kinderhuis op ʼn kind se lewe het en daarom is ek opgewonde om betrokke te raak by Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom,” het Smit bygevoeg.

Die AKK Nylstroom sorg vir 170 kinders. Versorging behels nie net basiese behoeftes soos kos, ʼn bed en klere nie, maar ook liefde, terapeutiese begeleiding en private onderwys vir kinders met spesiale behoeftes.

Volgens Claasen moes hy as kind met die minste tevrede wees wat daartoe gelei het dat hy niks as vanselfsprekend aanvaar nie en altyd sal opstaan vir die buiteperd en ʼn verskil maak in die lewens van die kinders van AKK Nylstroom.

Elzaan het beaam dat dit ʼn voorreg is om betrokke te kan wees by ʼn organisasie soos AKK Nylstroom en dat sy daarna uitsien om op haar manier ʼn verskil te maak.

“Die staat finansier slegs minder as 50% van hierdie kinders se behoeftes, daarom moet die AKK Nylstroom voortdurend geldinsamelingsprojekte aanpak om fondse aan te vul en besonderse persone soos dié nuwe beskermhere as deel te hê van die kinderhuis se span om hulle te ondersteun en bewusmaking te kweek onder die groter gemeenskap,” het Gerda afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zella ·

Tannie Gerda is een van die beste maatskaplikke werkers wat ek ken van my kinderdae en is al so lank betrokke by kinderhuise.. Mag hul projekte groot seen ervaar!

Maggie Amic ·

Ek graag weet wanneer ” celebrities” bietjie ouetehuise onder hulle vlerke sal neem. Hulle sukkel, pensioner is minder as minimum lone. Hierdie gardes het hierdie land opgebou. Oor al die kleur grense en nationaliteite. Hulle word mishandel. Baie kry nie eers gebalanseerde kos in die dag nie. Huisbake werk nie. Oues moet op sekere plekke 8 vloere afsukkel met loopringe om net te gaan eet, wat nog te sê as daar nie water is nie. Ons as mense behoort ons te slaap.
Die een oom vra my ek moet sy doen inneem want hy work nie. Ek het na die foon gekyk maar niks was fout nie. Ek het vir hom gesê die foon maker niks. Toe vra hy my nou hoekom bel my seun my nie.

E Krige ·

Mooi so Gerda! Jy is ‘n regte “doen-vrou” en ek is trots om by julle betrokke te wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.