Harry Kalmer, Jaco Jacobs se boeke eersdaags in Nederlands vertaal

Harry Kalmer. (Foto: Facebook)

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het vandeesweek bekendgemaak dat In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer en ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs in Nederlands vertaal gaan word.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.

In ’n land sonder voëls, die laaste roman van ontslape skrywer Harry Kalmer, sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in Februarie 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn. Dié distopiese roman het in 2019 by Penguin Random House verskyn, kort voor die dood van die skrywer. Kalmer was bekend vir sy oorspronklikheid en vakmanskap – nie net in sy bekroonde werk in die advertensiewese nie, maar ook as dramaturg, kortverhaalskrywer en romansier.

In 2018 is die gesogte Barry Ronge-prys vir fiksie aan Kalmer toegeken vir A Thousand Tales of Johannesburg, die Engelse uitgawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg.

Uitgeverij Aldo Manuzio het ’n groeiende lys van Afrikaanse titels in Nederlandse vertaling. Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek sy trots om Kalmer by dié lys te voeg en aan hom die groter, internasionale gehoor te help gee wat hy verdien.

Jaco Jacobs (Foto: Jaco Jacobs Blog)

Oor In ’n land sonder voëls skryf Jean Meiring in ’n resensie, “[e]nduit is dit ’n meesterlike en uiters vindingryke verbeeldingsvlug”.

Uitgeverij Ploegsma, ’n afdeling van WPG Kindermedia, bestaan al meer as 100 jaar en is ’n vooraanstaande Nederlandse uitgewer van hedendaagse en klassieke kinder- en jeugboeke. Hierdie gerekende uitgewery voeg eersdaags Jaco Jacobs se trefferroman ’n Goeie dag vir boomklim (Lapa) by hul lys van vertaalde werke.

’n Goeie dag vir boomklim het in 2016 die kykNET/Rapport-prys in die rolprentkategorie gewen en rolprentregte is aan M-Net toegeken.

Die beoordelaarspaneel van die roemryke Hans Christian Andersen-prys het dit ook onlangs uitgesonder as een van ’n lys van merkwaardige boeke waartoe kinders van regoor die wêreld deur vertaling toegang behoort te hê.

Uitgeverij Ploegsma sal die boek in hardeband en e-formaat uitgee. Tjalling Bos, ’n hoog aangeskrewe vertaler met meer as 40 jaar se ondervinding, is vir die Nederlandse vertaling verantwoordelik.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Navrae oor dié vertaalfonds kan ge-e-pos word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.