Helpende Hand help mense om weer te hoor

Dr. Marinda Uys pas gehoorapparate vir ʼn senior persoon van Pretoria. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand en die Oorinstituut in Pretoria het vandeesweek Wêreld-gehoordag gevier deur hande te vat om gehoorapparate te skenk aan mense wat dit nie kan bekostig nie.

Die geleentheid is gevier met ’n skenking deur die Oorinstituut wat bestaan uit 30 nuut-gedienste, tweedehandse gehoorapparate. Die Oorinstituut borg alle toetse wat met die apparate gepaard gaan, asook die passing daarvan.

Die skenking sal deur Helpende Hand se #HelpHoor-projek aangewend word om gehoorapparate aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel.

Benette Welman, Helpende Hand se #HelpHoor-projekorganiseerder, sê dié gebaar sluit aan by “Gehoor vir almal”, die tema van Wêreld-gehoordag wat Woensdag gevier is.

“Die #HelpHoor-projek poog om vir seniors en persone met gehoorgestremdhede die gawe van gehoor terug te gee. Dit verbreed weer hul leefwêreld en maak dit vir hulle makliker om aan gesprekke deel te neem. Ons is dankbaar dat die Oorinstituut as ’n netwerkvennoot by ons aansluit om hierdie projek te versterk,” sê Welman.

Welman is opgewonde dat Helpende Hand beplan om hande met die Oorinstituut te vat wat sedert 1975 as ’n gevestigde familiebesigheid funksioneer. Deel van die Oorinstituut se belange sluit in die Eduplex Skool, wat ’n hoofstroom- Christelike privaatskool in Queenswood is. Wat Eduplex uniek maak, is die insluiting van ’n paar leerlinge met gehoorverlies in elke klas waar hulle saam met hul normaal horende vriende, normale spraak aanleer sonder die gebruik van gebaretaal.

As deel van Eduplex se fokus, is die Eduplex-opleidingsinstituut gestig wat reeds in meer as 35 lande wêreldwyd professionele mense en ouers opgelei en toegerus het.

In samewerking met die Eduplex-opleidingsinstituut word bewusmakingsveldtogte beplan om die publiek bekend met gehoorhigiëne te maak, asook hoe om gehoorgestremdheid vroegtydig by kinders te identifiseer. Hierdie bewusmakingsveldtog sal ook hand aan hand loop met projekte van Solidariteit Helpende Hand se nasionale tak vir gehoorgestremdheid om bewustheid te kweek ten opsigte van die leefwêreld van persone met gehoorgestremdheid.

“Ons is dankbaar vir elke vennoot wat deel word van ons #HelpHoor-projek. Benewens die Oorinstituut wat 24 takke landwyd het, is die Pretoriase Instituut vir Gehoor, asook Deon Ceronio in Bloemfontein ook deel van die projek. Oudioloë regoor Suid-Afrika wat deel van die #HelpHoor-projek wil word, is welkom om met ons kontak te maak,” sê Welman.

Christia Potgieter (hoof van maatskaplik werk, Helpende Hand), Elsha Hermann (hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling, Helpende Hand), Benette Welman (projekorganiseerder, Helpende Hand) en dr. Marinda Uys (senior oudioloog en hoof van die Eduplex-opleidingsinstituut). (Foto: Verskaf)

Dr. Marinda Uys, senior oudioloog en hoof van die Eduplex-opleidingsinstituut, sê die Oorinstituut is trots om betrokke te wees by Helpende Hand se #HelpHoor-projek, asook die nasionale tak vir gehoorgestremdheid.

“Ons wil graag iets aan die gemeenskap teruggee. Gehoor is ʼn gawe waarsonder die lewe verskriklik eensaam kan word. Ons wil mense help om weer te kan hoor sodat hulle aktief aan die aktiwiteite rondom hulle kan deelneem en sosiale interaksie met vriende en familie kan geniet,” sê Uys.

Senior persone of persone met gehoorgestremdheid wat aansoek wil doen om gehoorapparate deur middel van die #HelpHoor-projek te ontvang kan ʼn e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.