Hierdie rocker sê ‘hou bene hou!’

Francois van Coke nadat hy die wedloop voltooi het. (Foto: verskaf)

“Ek hardloop al so tien jaar. Om te hardloop, in stilte, is my uur van gesonde verstand ’n dag.”

Só het Francois van Coke oor sy hardloopstokperdjie met Radio Tygerberg-omroepers, Anton Brink en Rouchelle Liedermann, Dinsdag ná afloop van ’n 15-kilometer-wedloop gesels.

Francois het aan die Tygerberg Run/Walk-wedloop deelgeneem, ’n geleentheid wat jaarliks op Mensreregtedag by die Tygervallei-winkelsentrum in Bellville plaasvind.

In die regstreekse uitsending wat Radio Tygerberg van dié winkelsentrum af gedoen het, het Francois verklap dat sy gereelde drafsessies eintlik deel vorm van sy voorbereiding om later vanjaar aan die Two Oceans-maraton in Kaapstad deel te neem.

“Ek het niks geoefen tussen 19 en 33 nie,” erken hy.

“Ek het op die verhoog rondgespring en myself doodgesweet. Op 33 was ek bietjie oorgewig en het hard gekuier, my vrou het begin spin in die gym en dit is toe dat ek besluit het om te begin hardloop.”

Hierdie jaar durf dié rocker die 21 kilometer lange Two Oceans-maraton nie net op eie stoom aan nie, maar ten bate van die liefdadigheidsorganisasie, Breadline Africa.

“Ek wou nog altyd, maar het nog nooit gedink dat ek vinnig genoeg is nie,” het hy geskerts.

Daar het nagenoeg 4 000 mense aan vanjaar se wedloop deelgeneem. André Afrika is as wenner van die manskategorie aangewys en het die wedloop in 48 minute en drie sekondes voltooi. Elme Middlemost het met ’n tyd van ’n uur en twee minute die vrouekategorie gewen.

Die opbrengs van die wedloop word vanjaar geskenk aan die Blue Bus Community Ministries, ’n organisasie wat ’n groot rol in die opvoeding en ontwikkeling van die Delft-gemeenskap speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.