Ingrid Jonker herleef met kompetisie en nuwe bundel

Ingrid Jonker

ʼn Jong opkomende digter se liefde vir digkuns en passie vir die bevordering van Afrikaanse poësie het vanjaar gestalte gekry in die vorm van ʼn digkompetisie gevestig in die diep literêre spore van Ingrid Jonker.

Die Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie is die breinkind van Zalman Davis, ʼn skrywer en digter van Sasolburg, en is vanjaar vir die eerste keer aangebied.

Davis vertel omdat hy self ʼn digter is, is hy deeglik bewus van hoe moeilik dit vir opkomende digters is om ʼn voet in die deur en hul werk gepubliseer te kry.

“Ek weet hoe moeilik dit is om in die bedryf in te kom. Selfs mense wie se boeke of bundels vir die eerste keer uitgegee word, is gewoonlik joernaliste of professors of iemand wat klaar op ʼn ander terrein bekend is. Niemand gee regtig aandag aan die opkomende digters en skrywers nie en gevolglik is daar so baie wonderlike gedigte en verhale wat verlore gaan,” verduidelik hy.

Davis het by Simone Garcia Marques, Ingrid Jonker se dogter, aangeklop met sy idee om ʼn platform vir opkomende digters en skrywers te skep. En só is die Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie gebore.

Die woord L’ Art Poétique se oorsprong is Frans en die direkte vertaling is ‘die kuns van poësie’. (Grafika: Verskaf)

“Die woord L’ Art Poétique se oorsprong is Frans en die direkte vertaling is ‘die kuns van poësie’. Die titel van dié digkompetisie is na een van Ingrid Jonker se gedigte, met dieselfde titel, vernoem,” sê Davis.

“Ek is ʼn groot Ingrid Jonker‑aanhanger en het vir Simone gevra of sy die hoofbeoordelaar sal wees vir hierdie kompetisie. Sy het ingestem omdat sy ook graag iets ter herdenking aan haar ma en haar onskatbare bydrae aan die Afrikaanse letterkunde wou doen. En so het die kompetisie ons baba geword.”

Davis sê hulle het 276 gedigte van oor Suid-Afrika, asook so ver as China, Ierland en Engeland ontvang. “Ons was baie verras met die uiteenlopende temas van die gedigte soos liefdesteleurstellings, die dood en natuurlewe. Elke gedig is deur ’n baie streng keuringsproses en uiteindelik is net 24 gedigte gekies wat in die saamgestelde bundel, Die môre is jy, opgeneem word,” sê hy.

“Daar is vanjaar ʼn hele paar debutante, maar ook gevestigde digters waaronder Alida Marais, Johann van der Walt, Elna Kruger, Susanne Pike en Werner Wehmeyer, wie hul werk ingeskryf het.”

Die môre is jy sal na verwagting teen einde Augustus uitgegee en by vooraanstaande boekwinkels versprei word.

Maar vir Davis was dit nie goed genoeg om dié digkuns net in die bladsye van ʼn bundel vas te vang nie. Hy wou méér daarmee doen en méér mense daaraan blootstel.

Hy het met die idee vorendag gekom om die wen-gedigte op bordjies aan te bring en dit in tydelike uitstallings te vervat waar dit sigbaar en toeganklik sal wees.

“In Sutherland sal die bordjies by die Sterland Gastehuis al langs staproetes op die plaas aangebring word. Die bordjies sal tot einde April volgende jaar daar besigtig kan word, wanneer dit dan met volgende jaar se wen-gedigte vervang sal word.”

Simone Garcia Marques, Ingrid Jonker se dogter. (Foto: Ingrid Jonker: L’ Art Poétique)

Davis sê in Pretoria beoog hy om soortgelyke bordjies by die Huis van Afrikaanse Poësie aan te bring, asook in Alberton by The Art Farm .

“Ek het nog nie regtig borge vir die kompetisie nie, maar ek hoop dat soos die kompetisie meer blootstelling kry, sal dit kan groei en al hoe groter word om die platform vir opkomende digters al meer te versterk. Jislaaik, ek het so hard gewerk die afgelope twee jaar om hierdie te laat gebeur, so dit sal fantasties wees as dit kan voortduur!” lag hy.

En Davis het nóg opwindende nuus vir Ingrid Jonker-aanhangers. “Ek en Simone het saamgewerk aan ʼn splinternuwe Ingrid Jonker-album wat een van die dae bekendgestel sal word,” verklap hy.

Dié album bevat 50 van Jonker se gedigte wat noukeurig deur Simone gekies en in Engels vertaal is. Die bundel sal ook skaars foto’s van Jonker bevat – foto’s wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie of nog bitter min gepubliseer is. Boonop word die bundel ook saam met ʼn CD uitgegee waarop die enigste vyf voorlesings is wat Jonker ooit self gedoen het.

“Ek kry sommer hoendervleis as ek daaroor praat. Dit gaan net ʼn ongelooflike bundel wees,” sê Davis. Die bundel, Waterfall of moss and sun, sal einde Augustus bekendgestel word.

Inskrywings vir die 2020 Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie sal van 1 Januarie tot 30 April volgende jaar oop wees. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.