Is jy die houer vol hoop?

Rene Roux van Helpende Hand. (Foto: Verskaf.)

Ek was besig om maar, soos almal, gedurende my vrye tyd deur die dag tydens die afsondering weens Covid-19 kaste reg te pak. Een van die kaste waarna ek die meeste opgesien het, was die kombuiskas met al die plastiekbakkies – een in elke grote, maar elkeen sonder ’n deksel. Ek is seker daar is baie vroue daarbuite wat die gevoel ken!

Nietemin, my kas was vol houers en ek het elke deksel gevind, of die houer dan vir iets anders gebruik. Nie kort daarna nie was al my pasta in een houer en my sop in die ander en so het alles begin netjies lyk en sy plekkie in sy houer gevind. Terwyl ek so na die kas vol houers kyk, dink ek dadelik aan die veldtog Houers VOL Hoop van Helpende Hand.

Vroeër die week het die Solidariteit Beweging bekendgemaak dat hulle 7 April gekies het as #Helpmekaardag. Helpende Hand het toe op 8 April daarby aangesluit deur die Houers VOL Hoop-veldtog af te skop!

Elke houer in my kombuis het sy doel gevind ek het vir hom geplaas waar ek hom wil hê sodat hy vir die res van ons gesin ’n beter doel kan dien en reg gebruik word.

Net so word elke houer wat deur die publiek geskenk word, ook op die regte plek geplaas om ’n honger en behoeftige gesin te voed en ten einde in sy doel te slaag. Helpende Hand weet waar om hierdie houers te plaas.

So het elke persoon, gesin of instansie sy eie houers. Hierdie houers begin ek nou al as mense sien. Ek, my man en my dogtertjie is baie bevoorreg om saam met my ma Corlia Smith die afsondering te kan deurbring by ons huis in Pretoria. Ek gesels vandag met haar en probeer uitvind wat haar houers, haar reddingsboei, was as kind toe my oupa op haar vierde verjaarsdag gesterf het en toe my ouma die vyf kinders alleen moes grootmaak met ’n baie klein salaris wat sy by ’n melkery ontvang het.

Hoe langer ek met haar gesels het, hoe meer besef ek opnuut dat haar Houers VOL Hoop destyds haar gemeenskap in Kimberley was. Haar houers was my oumagrootjie wat elke week ’n hoender aan hulle kon gee, die melkery wat elke week vir my ouma een liter melk verniet gegee het en oom Johnny en tant Kroggie van die slaghuis wat elke week ’n pakkie mince of wors gegee het vir “vleisdag” in die Meintjes-gesin se huis! Ek weet nie wie oom Johnny en tant Kroggie was nie. Hulle was nie familie nie, maar hulle het nood gesien en as houers/reddingsboei opgetree.

Daarna bel ek bietjie my ouma wat tans in ’n tehuis vir bejaardes in Swellendam is. Ek vra haar wat sy kan onthou van haar kinderdae en of sy ooit swaargekry het. Sy is altyd positief en het vir my gesê dat daar altyd kos was, want ons het op die plaas gebly. In hierdie geval was die plaas my ouma se houer toe sy ’n kind was.

Ek hou my kleuterdogtertjie dop en besef haar houer is vol kos. Die houer wat sy egter nou nodig het, is sosiale interaksie en liefde en ek probeer elke dag daardie houer vir haar wees en vul.

So het elke persoon tans ’n houer nodig, elkeen met ander inhoud.

Wie se houer is jy? Wat het jy binne jou om aan ander te bied? Jy kan ook ’n Johnny of Kroggie vir iemand wees van wie hy of sy eendag sy of haar kinders kan van vertel.

Baie mense weet hulle wil gee maar hulle weet nie hoe nie of hulle wil nie net geld gee nie. Die Houers VOL Hoop is jou antwoord. In die houer word die volgende geplaas:

ItemAantal
12,5 kg mieliemeel1
2 kg rys1
Macaroni2
200 pak-teesakkies1
500 g Cremora1
Soja (bees)1
Soja (hoender)1
Geblikte uie en tamatie2
Boeliebief1
Geblikte bone1
Soppoeier2
750 mℓ olie1
500 g sout1
900 g konfyt1
Tandepasta1
9 rolle toiletpapier1
Sunlight Skottelgoedseep1

Bogenoemde word dan by ’n behoeftige gesin afgelewer. Danksê jou Houer VOL Hoop gaan slaap ’n kind nie honger nie en skep jy weer hoop vir môre! Wil jy vandag ’n Houer wees? Wil jy vandag deel wees van die oplossing? Klik hier!

  • Rene Roux is adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Claradyn ·

Ek dink die houer vol hoop is n gr8 ding elke bietjie maak n groot verskul al help dut een is dit een minder wat honger gaan slaap!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.