Jakarandastad se totstandkoming gedenk

Prof. Anton van Vollenhoven se boek, Die geskiedenis van Pretoria, word eersdaags bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Die Jakarandastad se totstandkoming 166 jaar gelede is vandag deur die Voortrekkermonument (VTM), prof. Anton van Vollenhoven en lede van die media gedenk. Pretoria is op 16 November 1855 amptelik gestig en na kommandant-generaal Andries Pretorius genoem.

Op die monument se dak, wat vir die publiek gesluit is, kon gaste na Van Vollenhoven se staaltjies oor Pretoria luister, terwyl die 360 º -uitsig oor Pretoria besigtig kon word.

Van Vollenhoven was ʼn navorser en kurator by verskeie museums en is tans ʼn erfeniskonsultant en direkteur van Archaetnos Argeoloë en ook buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit.

Sy boek, Die geskiedenis van Pretoria, word eersdaags bekendgestel. Hy vertel aan Maroela Media dat daar twee belangrike aspekte is wat in sy boek bespreek word.

“Die eerste een is die storie van die jakarandas en waarom hulle tog belangrik is, al is dit ʼn uitheemse boom. Die ander vername aspek is die voorgeskiedenis van Pretoria wat nog nooit geboekstaaf is nie.”

Van Vollenhoven ondersoek onder meer die tydperk voordat die eerste Voortrekkers in die gebied aangekom het. Hy stel ook ondersoek in na die gebeure wat tot Pretoria se totstandkoming gelei het.

Die Jakarandastad se totstandkoming 166 jaar gelede is vandag deur die Voortrekkermonument (VTM), prof. Anton van Vollenhoven en die media gedenk. (Foto: Verskaf)

“Dit is spesifiek gestig met ʼn hoofstad in gedagte en dit op sigself is ʼn unieke gebeurtenis. Pretorius het ʼn moeilike taak op hande gehad, want die dorpsraad was aanvanklik gekant teen die idee.

“Hy het toe self ʼn paar plase aangekoop, later is die kerk opgerig en toe eers het die raad ingestem dat Pretoria gestig word,” vertel Van Vollenhoven. Dit het amptelik op 1 Mei 1960 die hoofstad van Suid-Afrika geword.

Van Vollenhoven is opgewonde oor sy boek en meen dat ʼn wye gehoor hierby aanklank sal vind.

“Dit is altyd vir my lekker om te skryf, veral as dit my na aan die hart lê. Ek is besonder passievol oor Pretoria. Die boek is ook op so manier geskryf dat dit Jan Publiek se belangstelling sal prikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.