Kaalvoet leerlinge gee terug aan die gemeenskap

Hoërskool Waterkloof deel van die #BaadjieVir’nMaatjie-winterprojek (Foto: Helpende Hand)

Solidariteit Helpende Hand is een van die gelukkige organisasies wat baat by GROOTfm 90.5 se #BaadjieVir’nMaatjie-winterprojek. In Mei 2018 samel die radiostasie, soos vantevore, weer kos en klerasie in vir minderbevoorregte gesinne.

Die eerste insameling vir die projek is op 4 Mei by Hoërskool Waterkloof gehou. Leerlinge van die skool het vroegoggend bymekaargekom en die koue kaalvoet getrotseer om só met minderbevoorregte mense te vereenselwig, het Mariana Kriel, Helpende Hand se streekorganiseerder, gesê. Sakke vol warm klere is saamgebring en dit is aan Helpende Hand se Gauteng-Noordstreek en PEN geskenk om in die gemeenskap uit te deel.

Die Gauteng-Noordstreek gaan die klere by dertien kleuterskole uitdeel wat deel is van Helpende Hand se Kosblikkie-projek. Die klere gaan ook aan hawelose mense, wat deel is van die #geeREG-kosprojek uitgedeel word. Dié kosprojek voed elke dag meer as 400 haweloses. Ander weerloses, soos bejaardes en gestremdes, sal ook klere ontvang.

Die res van die klere sal aan die Moeggesukkel-rehabilitasiesentrum geskenk word wat dit aan bedelaars op straat sal gee.

Volgens Kriel is die projek elke jaar ʼn spesiale geleentheid om ander mense op ʼn tasbare manier te help. “Wat ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie wonderlike projek waarby so baie mense baat,” sê Kriel.

“Dit was ook ʼn geleentheid vir die leerlinge van Hoërskool Waterkloof om te leer wat dit beteken om vir jou gemeenskap om te gee. Op ʼn koue dag is dit vir ons so vanselfsprekend om ʼn warm baadjie uit die kas te haal, terwyl daar iewers iemand is wat nie eers een warm kledingstuk vir die winter het nie! Boonop kan ʼn warm wintersbaadjie iemand dag én nag warm hou. ʼn Mens kan in die baadjie slaap as dit moet en dit sal voel of die liefde waarmee die baadjie gegee is, jou heeldag en heelnag omarm …”

Blikkieskos en baadjies kan tot aan die einde van die maand by GROOTfm 90.5 se kantoor in Pretoria afgelaai word. Verskeie skole en besighede is ook deel van die projek en het insamelingspunte oor die groter Pretoria-gebied beskikbaar gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veer ·

Well done, Waterkloof! Hou so aan! My seuntjie gaan beslis ook n Klofie word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.