Kerskonsert bring lig vir Danville en Elandspoort

(Foto: David Beale/Unsplash)

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) en Lig Kinderbediening hou Woensdag ʼn Kerskonsert by die Voortrekkermonument saam met die Stellenbosch-tenoor Pierre van der Westhuizen, die Bronberg-kinderkoor onder leiding van Daleen de Kock en die sanggroep Resonanz.

Hoewel die konsert gratis aangebied word, vra die organisasies vir skenkings ten bate van Lig Kinderbediening se projekte wat die opvoeding- en armoedenood van Afrikaanse gemeenskappe in Danville en Elandspoort aanpak. Die skenkings sal onder meer help om ʼn voltydse maatskaplike werker by die Lig Kinderbediening se terapiehuis aan te stel.

Volgens Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van ATTSA, span die twee organisasies reeds vir ʼn geruime tyd hul kragte saam om ondersteunende dienste,  wat terapie, voedselskemas, behuising, vervoer en opleiding insluit, aan dié gemeenskap te bied. Hul jongste oogmerk is om ʼn leersentrum van uitnemendheid op die been te bring.

“Daar is ʼn geweldige probleem wat opvoeding betref omdat die aanbod vir onderrig in Afrikaans vir agtergeblewe, arm gesinne hier beperk is. Talle ouers is nie in staat om skoolgeld te betaal of hul kinders na omliggende gebiede se Afrikaanse skole te vervoer nie. Kinders gaan dus óf glad nie skool toe nie, óf hulle het ʼn geweldige agterstand wanneer hulle in graad een kom omdat hulle graad R mis, wat nie deur die staat verplig of gesubsidieer word nie. Hulle val dus as’t ware uit die bus, voltooi dikwels nie hul skoolloopbaan nie en verval in die sirkel van armoede,” sê Bronkhorst.

Die organisasies beoog om ʼn Afrikaanse kleuterskool, Groei Goggas, met twee klasse in 2022 te open waar ouers op ʼn glyskaalgrondslag volgens hul inkomste tot die skoolgeld bydra.

Elvira Burger, uitvoerende hoof van Lig Kinderbediening se terapiesentrum, is besonder opgewonde oor die beoogde leerplan wat gevolg gaan word.

“Dit word op die Montessori-tegniek gegrond wat beteken dat elke kind teen sy eie tempo werk en waardes – soos respek, deursettingsvermoë en selfmotivering – wat hulle nie noodwendig by die huis aanleer nie, vasgelê kan word. Dit is ʼn goeie vertrekpunt vir dié kinders om van die boeie van armoede ontslae te raak,” sê sy.

Hulle is ook met die onderhandelingsproses besig om die aangrensende huis van die terapiesentrum te koop sodat hulle meer Afrikaanse kinders kan huisves.

(Grafika: Verskaf)

Volgens Louise Rossouw, besturende direkteur wat Lig Kinderbediening in 2008 begin het, is die doel van hul opheffingswerk in Danville en Elandspoort om ʼn toekoms van hoop vir hierdie gemeenskap daar te stel.

“Lig Kinderbediening is destyds met die oog op evangelisasie gestig. Ons het egter vinnig van die skolastiese agterstande en ander maatskaplike probleme van die gebied bewus geword. Die aanvanklike Bybelskool het vinnig tot ʼn terapiesentrum uitgebrei waar ouers opleiding ontvang en kinders oor naweke sinvol met skaak, musiek, kuns, stokperdjies, houtwerk en dies meer besig gehou word. Meer onlangs het ons ook ʼn huiswerksentrum vir laerskoolkinders begin,” sê Rossouw.

Die bemagtigingsprojek met sy lewensveranderende doelwitte het dus ʼn konstante behoefte aan vrywilligers, skenkings en geld om hul goeie werk te kan voortsit.

“Die gedagte is om ʼn holistiese opheffingsprogram hier te skep waar ons later ʼn bekostigbare privaat, Christelike, Afrikaanse leer- en ʼn vaardigheidsopleidingsentrum kan stig sodat kinders van Danville en Elandspoort ʼn doelgerigte loopbaan kan volg en onafhanklik word. As vertrekpunt fokus ons egter op die voorskoolse kinders,” sê Rossouw.

Lesers kan hul sitplek vir die konsert bespreek of enige navrae oor Lig Kinderbediening se projekte rig aan [email protected] of hulle by 063 310 1719 bel. ʼn Toegangsfooi van R20 per voertuig, vir die instandhoudingsfonds van die Voortrekkermonument, sal by die hek gehef word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.