Kies willens en wetens welwillendheid

Esmarie Yssel (Foto: Clareece Smit Photography)

Deur Esmarie Yssel

Om ʼn spieël voor jouself op te hou is nie aldag maklik nie. Dis soos om jou eie lewe onder die vergrootglas te plaas en fout te soek.

Dis egter die enigste manier waarop ons ontwikkel as ons uit ons negatiewe eienskappe en donker put van selfsugtige gewoontes wíl groei.

Ek ry onlangs in die Pretoriase middestad toe dit sousreën en ek sien mense op die sypaadjies met reënjasse en sambrele stap. Dié mense is nie so bevoorreg soos baie van ons wat voertuie besit waarmee ons by die werk uitkom nie.

Dié van ons wat menseingestel is ry stadiger, omdat jy daardie voetgangers nie wil natspat nie. Mense wat op die eie ek ingestel is jaag verby en gooi ʼn golf water oor die mense, wat skaflik wou lyk by die werk.

Dié scenario sit toe die ratte van my gedagtes in beweging. Dalk moet ons begin introspeksie doen, vir onsself vra waarom ons so selfsugtig geword het.

Ons geduld is minder en ons naasteliefde is dunner gesmeer as ooit tevore. Is dit omdat Covid ons vir twee en ʼn half jaar meer op ons eie oorlewing – finansieel én gesondheidsgewys – ingestel het of was daar maar net nog altyd mense wat van nature bitter is en altyd fout soek?

Jy sal saamstem: ʼn Mens kry mense wat altyd oor als kla.

As jy by ʼn radiostasie werk is dit interessant om na mense se uiteenlopende ingesteldhede op te let. Jy speel ʼn liedjie, die een luisteraar kla oor die lawaai, soms word die woord “gemors” sommer gebruik om die liedjie te beskryf, terwyl die ander luisteraar – wat presies dieselfde liedjie gehoor het – dankie sê vir die mooi musiek wat hulle dag opgevrolik het.

As die voertuig wat agter ʼn vragmotor sit sy flikkerlig aanhet en jy sien die verkeer agter jou gaan vir kilometers nie vir daardie persoon ʼn gaping gee nie, gee vir hom plek, moenie versnel nie.

As daar damme water op die pad is, ry ʼn bietjie stadig, moenie die kar langs jou só toegooi onder die water dat die motoris langs jou niks kan sien nie.

As iemand ʼn boks dra en sukkel-sukkel tot by ʼn deur skuifel, maak die deur vir hulle oop.

Groet mense partykeer eerste.

Om jou poppe uit die kot te gooi as jou koffie by die koffiekafee nie volgens jou standaard gebrou is nie, stel jou eintlik net in die verleentheid. Jy wys jou ware kleure en almal om jou sal te skaam wees om jou te ken.

Om vir ʼn motoris te toet wat volgens jou te stadig wegtrek by ʼn verkeerslig is slegte maniere.

Doen ander gerus ʼn guns en luister vir ʼn slag met belangstelling, sonder om vir ure aaneen te praat oor jouself.

Ons het die beginsel van welwillendheid verleer.

Die HAT beskryf welwillendheid as goedgesindheid, vriendelikheid en tegemoetkomendheid. Die beginsel is niks anders as ʼn vrug van die Gees nie:

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” – Galasiërs 5:22-23.

Die gees van welwillendheid hoort tuis by ʼn Christen.

“Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” – 1 Johannes 3:17,18.

Wat gaan dit ons werklik kos om af en toe iemand, ʼn kollega, motorwag, motoris of kassier, ʼn stukkie van die hart van Christus te wys? In reële terme dalk R50 vir ʼn koeldrank en stafie sjokolade of R120 vir ʼn bossie blomme by jou plaaslike kettingwinkel of dalk nét ʼn wuif of ʼn glimlag.

Die maak-of-breek bestanddeel is egter oë wat ander mense raaksien, ʼn omgeehart en om willens en wetens welwillendheid te kies.

Mag ons ook ons sambrele oor ánder oopmaak wanneer dit reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.