Kinderteater prikkel lagspiere én verbeelding

Agter v.l.n.r.: Liena van der Merwe, Henco Mynhardt, Rentia Mynhardt, Robyn Frost en voor is Shanya van Rensburg. (Foto: Melanie Els Photography)

Sodra die Willis Will Motormuseum in Ratkashoek se deure smiddae sluit, begin die tjorre een vir een lewe kry. Dan begin hulle planne maak vir die jaarlikse straatmyl, al is daar ʼn ongeskrewe reël dat die Ford genaamd Fodel − ʼn Model-T en die oudste van almal − altyd wen. Dit gaan nie oor wen of verloor nie, totdat daar egter ʼn nuwe motor by hulle in die museum aansluit!

Hierdie kinderteaterstuk, Tjorre, sal tydens volgende week se Vrystaatse Kunstefees te siene wees. Behalwe dat dit skoolvakansie is en ʼn heerlike breuk van kinders rondry en kosblikke pak beteken, bied dit ook aan ouers die geleentheid om hulle kinders aan die teaterwêreld bloot te stel.

“Kinderteater is anders as volwasse teater in dié opsig dat jy nie vir ʼn kind kan jok nie. Eerlikheid is die aspek wat maak dat kinders aan jou lippe hang óf vinnig belangstelling verloor as hulle sien ʼn karakter se rol word nie oortuigend en opreg gespeel nie,” sê Liena van der Merwe, skrywer en regisseur van Tjorre. Sy vertolk ook die rol van Vlooma, ʼn vriendelike rooi Volksie wat maar gewoonlik die leiding neem. “Daar moet ook altyd ʼn opvoedingsaspek wees as dit by kinderteater kom. Tjorre leer die kinders padreëls, maar ook om jou maats met respek te hanteer.

“Aangesien dit volwassenes is wat die kinders na die toneelstuk vergesel, is daar ook meer as genoeg interessanthede en skerp humor wat sorg dat dit nie net kinders is wat ʼn verrykende kulturele ervaring het nie. Die basiese lewenslesse is van toepassing op oud en jonk en sosiale kwessies is ʼn werklikheid wat almal raak. Kinderteater leer empatie en ontwikkel verbeelding; dinge wat ons samelewing bitter nodig het,” verduidelik Van der Merwe, wat tans ʼn dramaonderwyser aan die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp is; die enigste skool in Noordwes met ʼn teater.

“Kinders is mal daaroor as daar een of ander resies is. Daar moet natuurlik ook altyd ʼn goeie ou en ʼn slegte ou wees. Kinderteater laat jou toe om die vierde muur te breek en interaktief met jou gehoor te wees. Die slegte karakter kan byvoorbeeld sommer vir ʼn kind in die gehoor tong uitsteek. Kinders word aangevuur deur interaksie. Hulle sit ook nie die heeltyd stil nie. Tjorre het lekker musiek wat die voete laat jeuk,” deel Van der Merwe ʼn paar geheime. Haar toneelstukke, wat wissel tussen kinderteater, tiener- en volwasse toneelstukke, is al by elke denkbare kunstefees in Suid-Afrika opgevoer. Sy het ook onlangs ʼn kinderboek, Storiekasteel, die lig laat sien.

Daar is vyf karakters, veteraan- en klassieke motors, wat die gehoor deurentyd met allerhande skerpsinnighede vermaak.

“Ek lag nou nog elke keer vir Sakkie as hy só verbaas is wanneer hy hoor hy ry die stadigste van almal, maar vas glo dat hy ‘soos die wind jaag’,” sê Henco Mynhardt wat die rol van die Jeep vertolk.

(Foto verskaf)

Robyn Frost, wat die goudgeel Fiat 500 speel, vertel die volgende oor haar rol: “Mietsie is in party opsigte nes ek omdat sy so ʼn vrolike persoonlikheid het, maar die rol was juis hieroor vir my ʼn uitdaging omdat die vorige rol wat ek vertolk het ʼn baie ernstige karakter was.”

“Lila is die Gullwing Mercedes-Benz wat miljoene werd is en dink sy is beter as almal. Sy steek al die ‘geroeste blikke op rubber’ teen mekaar op in die hoop om hulle letterlik die pad byster te laat raak. Of sy hierin slaag, is egter ʼn ander saak,” vertel Rentia Mynhardt meer oor haar rol.

Shanya van Rensburg speel Fodel. “Hy is oud en rustig, maar het met sy kalmte en wysheid altyd ʼn plan om dinge uit te sorteer.”

Tjorre sal op die UV-kampus se Replokaal by die dramadepartement te siene wees en sal jou kinders (en vir jou!) vir 40 minute besig hou.

Kaartjies kan vooraf aanlyn gekoop word teen R70, of by die deur vir R80.

Kom vryf jou bande saam met die tjorre blink op:

  • Maandag 3 Oktober om 17:00,
  • Dinsdag 4 Oktober om 09:00 of
  • Woensdag 5 Oktober om 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.