Laat daar lig by Voortrekkermonument wees

Van Rooy van den Berg en dr. Danie Langner buite die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument het Donderdag ’n skenking van ligte ter waarde van R250 000 ontvang.

AfriSon het verlede jaar besluit om hande te vat met die Voortrekkermonument om ’n bydrae te maak tot erfenisbewaring en LED-ligte aan die monument te skenk.

Hierdie ligte is Donderdagaand amptelik aangeskakel en aan die publiek bekendgestel.

Van Rooy van den Berg, uitvoerende hoof van AfriSon, het ’n staaltjie vertel uit die jeug van sy ouers wat skoolgegee het in Tanzanië.

“By berg Meru in Tanzanië, by ’n plek wat altyd Kampfontein genoem was, waar my ouers skool gegee het, is daar ’n trekmonument van Voortrekkers.

“Daar is ’n replika van die monument wat hier op Fort Schanskop naby die Voortrekkermonument staan. Dit het my van kleins af opgeval hoeveel deursettingsvermoë die Voortrekkers gehad het om tot daar te kon trek.”

Van den Berg meen dit is tyd vir Suid-Afrikaners om ons deursettingsvermoë te wys.

“Ons moet opstaan vir ons erfenis en dit met trots bewaar. Suid-Afrika het ʼn ongelooflike ryk geskiedenis, nie net die Afrikaners nie, maar alle volke in ons land en as ons nie ons eie erfenis gaan bewaar nie, wie gaan dit doen?”

Dr. Danie Langner in die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

’n Besigtigingstoer deur die monument is aangebied en daar is gewys hoe die ligte wat geborg is die senotaaf en Senotaafsaal verlig.

Aan die einde van die toer het die publiek in verwondering gestaar die historiese monument, wat in 1949 geopen is, wat helder skyn terwyl jy dit vir etlike kilometer ver kan sien.

(Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê die skenking is simbolies daarvan dat die geskiedenis van die Voortrekkers nog nie klaar vertel is nie.

“Dit is uiters belangrik dat daar lig geskyn word op die stories wat ons vertel. Dit is hoe ons vrede sal bewaar deur ons geskiedenis te verstaan. Ons skryf vandag ’n nuwe deel in ons geskiedenis deur ’n lig daarop te skyn, en AfriSon en julle bydrae en onbaatsugtige hulp sal vertel word vir generasies wat kom.

“Ons sê ongelooflik dankie vir julle bydrae om die lig te wees waar ons baken van hoop weer vir ander kan hoop gee,” het Langner gesê.

Die LED-ligte sal ook grootliks bydra tot elektrisiteitsbesparing vir en beveiliging van die monument.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.