Lindi Burger van Hoërskool Pietersburg maak haar skool trots met haar agt onderskeidings, in Afrikaans, Engels, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp, wiskunde en lewensoriëntering.
Haar ouers is Derick en Pauli. Haar pa is ʼn finansiële bestuurder en haar ma ʼn onderwyseres. Haar ousus, Chané, studeer medies aan die Universiteit van Pretoria en Lindi wil binnekort in haar voetspore volg. Chané is haar grootste rolmodel. “Sy is ongelooflik slim, hardwerkend, nederig en beeldskoon van binne en buite,” sê sy.
Sy gaan haar matriekjaar afsluit saam met ander matrikulante op die MSC Simfonia-matriekboot.
Lindi was van gr. 8 tot gr. 12 een van die skool se tien akademiese top-presteerders en sy het Tritech- nasionaal goud en ʼn eerste plek in 2015 verower. Boonop was sy senior sportdogter van die jaar die afgelope twee jaar, vir twee jaar lid van die eerste span hokkie en muurbal en vir drie jaar lid van die eerste span landloop en atletiek. Sy het ook vir die eerste span geswem.
Sy was ook lid van die Limpopo o. 18A-hokkiespan in 2016.
Duidelik is sy mal oor oefening en sport. Lindi lees en skryf graag en speel ook klavier.
Sy beskryf haarself as doodgewoon menslik:
Ek struikel, staan maar weer op, vlieg soms te hoog, kom weer hard aarde toe, huil soms vir geen rede nie, lag soms sonder ophou, oordink dinge of doen simpel goed sonder om te dink. Ek haak dikwels vas op my tekortkominge en twyfel in myself, maar dan vind ek my krag weer by God en besef dat ek perfek is vir Hom, met my tekortkominge en al.
Haar suksesresep is volgehoue harde werk en vertroue in God en haarself. Sy sê sy gee haar beste in elke taak wat sy aanpak – maak nie saak hoe groot of klein dit mag wees nie. Sy erken ook dat sy baie hardkoppig is.
“As iets die moeite werd is om gedoen te word, is dit die moeite werd om goed gedoen te word,” sê sy in antwoord op die vraag wat haar lewensfilosofie is.
Baie geluk en voorspoed! Dis voorwaar ‘n uitnemende prestasie.
(Bly jy kon inkom vir medies, ‘n familielid se dogter met 7 onderskeidings is by al die instansies weggewys.)