Luister: Hiér brand die Kersliggies weer helder

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis Liggiefees, is ná twee jaar weer aan’t skyn. (Foto: jakarandaliggiefees.co.za/argieffotot)

Die immergewilde Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis Liggiefees, wat deur die jare heen sinoniem met die Kerstyd in Jakarandastad geword het, is ná twee jaar weer aan’t skyn.

“Daar heers werklik ongekende opwinding op die kinderhuisperseel,” het Ina Kotzé, hoof van bemarking en fondsontwikkeling van die kinderhuis, vir Maroela Media vertel.

Die besonderse geleentheid het in 2010 ontstaan toe die bestuur van die kinderhuis besluit het om iets spesiaals vir die kinders te doen wat gedurende die Kerstyd in die kinderhuis moet bly.

Destyds is die huise op die perseel versier met die mooiste Kersliggies en besoekers kon vanuit hul motors die liggies kom besigtig. Die fees het egter so gegroei dat daar besluit is om liefs die motors buite te los en mense te voet welkom te heet.

“Ons wou graag Kersfees na die kinders toe bring,” het Ina gesê.

Die Liggiefees kon weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 of 2021 plaasvind nie, maar is vanjaar terug en beloof om helderder as ooit te skyn. Hoewel daar nie ’n kunsmark of reuseverhoog by die fees gaan wees nie, bly dit ’n geleentheid wat vir heerlike familie-aktiwiteite en samesyn sal sorg, meen Ina.

Feesgangers kan vanjaar uitsien na ’n string kosstalletjies en ’n binnenshuise, tydelike ysskaatsbaan. Daar sal ook ’n klein verhoog wees en kunstenaars word uitgenooi om die kinderhuis te kontak indien hulle graag daar sou wou optree.

Hoewel talle inwoners van die kinderhuis dikwels Kersfees saam met familie of gasouers deurbring, is daar tog van hulle wat in die kinderhuis bly. Die Kerstyd word egter steeds op die perseel gevier, nie net deur die Liggiefees nie, maar ook deur verskeie Kerstradisies.

“Ons wil die beste plan B wees,” het Ina vertel.

“Daar is 20 huise op die perseel van die Jakaranda-kinderhuis. By Louis Botha het ons nege huise, elkeen met ’n huisouer. Elke huis eet saam soos ’n gesin om ’n tafel.”

  • Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis se jaarlikse Liggiefees vind vanjaar van 1 tot 23 Desember by 1 Talitha Kumistraat, East Lynne, Pretoria plaas.
  • Parkering sal op die perseel langs die kinderhuis beskikbaar wees.
  • Luister boaan na die volledige klankonderhoud met Ina Kotzé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.