Luister: Ses vroue deurkruis SA te voet vir liefdadigheid

v.l.n.r. Marleen van der Walt, Pieter Gouws (bussiebestuurder) Louise Mostert, Marina du Plooy, Michelle van Biljon, Hanli Reinecke, Ida Degenaar. (Foto: verskaf)

“Jy vat dit tree vir tree. Fokus net op die volgende 2,5 km, nie op die volle 1480 km nie.”

Só sê Marleen van der Walt, een van die ses dapper vroue wat Maandag as deel van die Cape2Care-staptogprojek die langpad tussen Vereeniging in Gauteng en Hartenbos in die Wes-Kaap te voet aandurf.

Marleen is betrokke by die niewinsgerigte organisasie, Dynamic Women for Children (DWFC), wat daagliks na 50 minderbevoorregte kinders van die Kameeldrif-Oos en Kameelfontein-omgewing omsien.

Gebalanseerde maaltye, verjaarsdagpartytjies en huiswerkhulp word deur DWFC aan dié kinders gebied.

“Alles wat jy vir jou kinders doen, doen ons vir ons kinders. Hulle woon net nog nie by ons nie,” sê Michelle van Biljon, maatskaplike werker en een van die vroue wat aan die staptog gaan deelneem.

Die Cape2Care-staptogprojek is reeds in 2022 van stapel gestuur in die hoop om genoeg geld in te samel om koshuisgeriewe vir dié 50 kinders in te rig.

Al is daar destyds R400 000 ingesamel, was dit nie genoeg om die koshuisdeure amptelik te open nie.

Geldsake is ’n deurlopende kopseer vir die organisasie. Met die geld wat ingesamel is, kon hulle wel opknappingswerk doen, betalings verhoog en gaatjies toestop, maar dit kon nog nie ver genoeg strek om hul koshuisdroom te verwesenlik nie.

Daarom stap hulle weer, vertel Michelle.

Altesaam R200 000 van die R400 000 is egter gespaar en vorm die beginpunt van vanjaar se staptog-geldinsameling.

Michelle benadruk egter hoewel hulle met die staptog graag na hulle eie kinders wil omsien, dien die staptog ook ’n groter doel.

“Ons wil bewusmaking vir elke kind in Suid-Afrika skep.”

Die brawe vroue wat die die pad Kaap toe in 2022 aangedurf het (Foto: verskaf)

Die vroue trotseer die seer van daaglikse stap, blase wat net nie gesond word nie en die meedoënlose hitte wat hulle vergesel.

Tog keer dit hulle nie.

Michelle en Marleen stap vanjaar saam met Louise Mostert, Hanli Reynecke, Marina du Plooy en Ida Degenaar.

Die vroue se reis skop Maandag 30 Januarie af en hulle beoog om teen 17 Februarie in Hartenbos aan te kom.

“Elke vrou het haar eie doelwitte waarvoor sy stap, maar aan die einde van die dag hou ons die groot doel in sig – die kinders.”

Op elke klein dorpie waar hulle oornag, hou elke vriendelike gesig en bemoedigende glimlag hulle sterk, sê hulle.

“Die emosionele voorbereiding van die staptog is baie meer intensief as die fisieke voorbereiding.

“Jy daag jouself uit om buite die boks te wees, om iets aan te pak wat jy nooit gedink het jy sal kan doen nie.”

  • Luister boaan na die volledige onderhoud met Michelle van Biljon en haar ma, Marleen van der Walt, oor Dynamic Women for Children se Cape2Care-staptog.
  • Volg die vroue se reis en die Cape2Care-Facebook-bladsy
  • Vir meer inligting oor die organisasie, om geld te skenk of ’n kilometer te borg, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.