Ma se blink plan om meer sigbaar te wees by skoolhek

Elschen Bornman het haar hare pienk gekleur om meer sigbaar te wees by die skoolhek wanneer sy haar twee dogtertjies oplaai. (Foto: Verskaf)

ʼn Bekommerde mamma het vinnig ʼn plan beraam om haar twee laerskoolspruite se onrustige harte te laat bedaar toe hulle met die aanvang van die nuwe skooljaar bevrees was dat hulle haar nie tussen die hordes ander kinders en ouers by die skoolhek gaan raaksien nie.

Elschen Bornman van Kemptonpark in Gauteng se tweelingdogters het vanjaar met gr. 2 aan die Laerskool Kruinsig begin nadat hulle gr. 1 aan ʼn private skool, en weens die Covid-19-pandemie hoofsaaklik aanlyn, voltooi het.

Hulle was gewoond daaraan dat hulle by die private skool binne die skoolterrein afgelaai kon word en dat hul ouers hulle by die klaskamer kon gaan haal. Dit is egter nie die geval by die nuwe laerskool nie en sowat 180 kinders peul elke middag by dieselfde skoolhek uit op soek na hulle ouers.

“Ek het een middag voor die skool weer begin het vir die kinders gaan wys by watter hek hulle my moet ontmoet. Hulle was dadelik angstig oor hoe hulle my sou raaksien tussen al die ander ouers en kinders wat daar saamdrom. Ons het toe begin dink aan maniere hoe ek meer sigbaar vir hulle kon wees.”

Sy en die tweeling het aan alles gedink, van ʼn helderkleurige baadjie tot ballonne en ʼn sambreel of ʼn hoed op haar kop om haar dogters se gemoedere gerus te stel.

“Die haarkapper het die Saterdag voor die skool begin het by ons huis ʼn draai gemaak om die kinders se hare netjies te maak vir skool. Sy het ʼn paar goedjies in haar tas gehad, waarvan een ʼn pienk toner was. Die idee om my hare pienk te maak vir die kinders het daar en dan by my opgekom,” vertel Bornman, wat aanvanklik getwyfel het of sy bereid was om haar blonde lokke prys te gee.

“Die haarkapper het verduidelik dat die toner binne twee weke sal verbleik en heeltemal uitwas, wat my besluit makliker gemaak het. Ek was self senuweeagtig oor hoe ek my kinders sou kry na skool en die pienk hare was die perfekte oplossing.”

Elschen Bornman het haar blonde lokke prysgegee om meer sigbaar te wees vir haar kinders by die skoolhek. (Foto: Verskaf)

Hoewel sy haar blonde hare mis, het sy geweet haar plan het gewerk toe haar dogtertjie ná die eerste skooldag vertel het hoe die pienk hare haar gerus gestel het.

“Sy het gesê: ‘Mamma, ek was die hele dag benoud en my hart was in my keel, maar toe ek mamma se pienk hare sien, het ek geweet mamma wag vir my’.”

Bornman, wat vir die oorbruggingsfinansieringsmaatskappy Prevance werk, sê haar baas het nog nie agtergekom sy het haar hare verander nie. “’n Kollega het my wel gegroet met die woorde: ‘Hallo, Vlam’, maar hulle weet ook nie regtig waaroor dit gaan nie.”

Sy sê haar “konserwatiewe” ouers wat op ʼn plaas in die Vrystaat boer het haar nuwe haredos nog net op foto’s gesien, maar het hulle goedkeuring gegee. Volgens Bornman het dit het aan haar bevestig dat alles die moeite werd is, selfs die kyke wat sy van sommige ander mammas kry op die skoolterrein.

“Ek wil net hê my kinders moet deur die aanpassingsfase gaan en weet dat ek daar is vir hulle, maak nie saak of my hare pienk, pers of blou is nie. Ek wil vir hulle die versekering gee dat hulle my reeds kan raaksien, al kom hulle van ver af aangestap. Ek het nie gedink dit sal opslae maak nie. Ek sal enige iets doen vir my kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Michele ·

Jy is n Yster!!! Die kids kom altyd eerste en jou plan het gewerk! Great

Misky ·

Daar is honderde vrouens in Durban area se hare wat so gekleur is. Glad nie so buitengewoon nie

Drikus ·

Wat is Elschen se raad vir Pappa’s, veral die wat bles is ?

Snowball ·

Vra vir Elschen om jou kinders by die skool te gaan haal. ;-)

Daleen ·

Vra vir Elschen om van haar lipstiffie vir jou te leen jy sal verseker uitstaan :)

Stof ·

Daar is mos koperkleurige skoenpolitoer op die mark wat ook op blesse werk…

JohanR ·

Ek sou een van daai groot helium partytjie balone aan myself vas gemaak het, en laat hy hoog in die lug waai.

Oujongvrou ·

Hoekom “photoshop” mense hul fotos so ??? Dis baie lelik en nou lyk almal soos wasbeelde sonder karakter

Stof ·

Enkelinge het wel verby die beperkinge van die nare afwyking genaamd normaliteit gegroei, en hulle gawe van kreatiwiteit ontdek.
Ons wat nog nie verby hierdie punt gegroei het nie, mag dalk nie hulle wat ons vooruit is, altyd begryp nie, maar ons mag en moet hulle erken en eer vir die wyse waarop hulle verby ‘n oogklapbestaan gegroei het. En selfs smag daarna, om self per geleentheid daardie vlak van vryheid te bereik.
Dus, gaan was solank jou bandana en jou duinebesie, jy mag dit dalk binnekort nodig kry.

Patricia ·

Wat ‘n oulike mamma en sy lyk pragtig met die pienk hare, die kinders sal dit vir die res van hulle lewens onthou, ‘n mamma wat weet hoe om haar kinders se vertroue in haar te behou al moet sy haar hare pienk kleur, ek haal my hoed af vir haar want ons kinders is ‘n geskenk uit God se hand

MakersMark ·

Hete. Pienk hare ? in die ’70’s kon ek my ma uitken by ‘n skoolhek en sy was 5 voet 2″. En haar hare was bruin. Hemel, aandag soek kwadraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.