Man hardloop marathon op sy balkon

Elisha Nochomovitz. Foto: Instagram

In die era van kwarantyn en self-isolasie het ’n Fransman sy tekkies aangetrek en ’n hele marathon gehardloop.

Op sy balkon.

Elisha Nochomovitz het op sy balkon van 7 m in Toulouse (Frankryk) ’n volle marathon van 42,2 km gehardloop.

Met atlete oor die hele wêreld wat tans hul bes doen om hul fiksheidsvlakke tuis op te skerp, het Nochomovitz gereeld inskrywings op sosiale media gemaak om sy vordering aan te dui.

“Ek wou ’n bietjie humor aan die hele isolasie-tydperk verskaf, terwyl ek aan myself wou bewys dat ek steeds ’n marathon kan hardloop – ongeag die omstandighede,” het hy aan die media gesê.

Hy erken dat dit ietwat eentonig begin raak het om so heen en weer te hardloop, terwyl sy slimhorlosie ook heeltemal die kluts kwytgeraak het. Terselfdertyd was hy bekommerd dat sy bure oor die geluid van sy voetstappe sou kla – dit het hom immers 6:48 geneem.

Tussendeur het sy meisie gereeld vir hom water en M&M’s gegee.

“My kop het lekker gedwaal terwyl ek gehardloop het. Ek het gedink aan wat alles gebeur het en wat nog kan gebeur. Die wêreld het gestop; alles van sport tot finansies. Ons het in geskiedenisklasse van oorloë tussen lande geleer, maar dít is iets wat ons nog nie vantevore teëgekom het nie.”

Hy het veral respek vir mediese personeel oor die hele wêreld.

“Hulle is die ware helde en ek wil hulle graag ondersteun.”

In Frankryk mag mense wat individuele sportsoorte – soos draf – beoefen nog buite die huis wees, mits hulle ’n spesiale regeringspermit het.

“As ons almal doen wat ons wil, sou ons almal buite gewees het en dan sou die isolasie-maatreëls geen uitwerking gehad het nie.”

  • In Suid-Afrika het die organiseerders van die Irene Ultramarathon met ’n slim plan vorendag gekom om die wedloop op ’n virtuele manier te beredder.

Elke atleet wat vooraf ingeskryf het vir die marathon wat op 5 April gehou sou word, kan nou die afstand op hul eie tyd tussen 30 Maart en 5 April voltooi.

Moet ook nie vrees as jy nog nie ingeskryf het nie – jy kan tot 29 Maart nog aanlyn laat weet dat jy deel van dié unieke uitdaging wil wees.

“Jy kan hardloop waar en wanneer jy ook al lus het oor dié sewe dae, voltooi net die 48 km vóór 23:59 op 5 April 2020. Jy kan selfs ses sessies van 8 km elk oor dié tydperk hardloop,” het die klub op sy amptelike Facebook-blad geskryf.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmandaDup ·

Die man het die regte houding. In plaas van op ‘n hopie sit en huil en kla kan ons net sowel ons tyd in issolasie nuttig gebruik. Waneer issolasie verby is, gaan ons spyt wees oor alles wat ons nie in hierdie tyd gedoen het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.