Man verlam ná rooftog se droom bewaarheid

Christo Pieterse en Francois Calitz

“Ons moet almal ophou sê eendag sal ek. Niemand weet waar hulle môre of oormôre gaan wees nie. Ons moet leer om elke geleentheid wat oor ons pad kom, aan te gryp.”

Só meen Christo Pieterse, ’n safari-agent wat onlangs gehelp het om ’n kwadruplegiese vriend se grootste wens te bewaarheid.

Pieterse, eienaar van Touch the Wild, wat safaritoere in Zambië, Zimbabwe, Namibië, Botswana en Malawi organiseer, het onlangs met die hulp van organisasies soos AfriForum vir Francois Calitz (32) van Randfontein op ’n welverdiende avontuur deur die Kalahari geneem.

Francois se hele wêreld het 13 jaar gelede in ’n oogwink verander toe hy tydens ’n rooftog buite ’n bank in Randfontein in die rug geskiet is. Hy is weens sy beserings gedwing om die res van sy lewe in ’n elektries aangedrewe rolstoel, wat hy met sy mond beheer, deur te bring.

Daaglikse take wat eens sonder moeite aangepak is, het nuwe vaardighede geword om aan te leer. Hy het ook heeltemal afhanklik van sy ouers geword om vir hom te sorg.

Francois kyk na olifante in Botswana.

Pieterse vertel dat Francois sedert hul eerste ontmoeting by ’n gemeenskapsbraai sewe jaar gelede vir hom gesê het dat hy daarvan droom om saam op een van sy “avonture” te gaan.

“Francois het ongelukkig deur die jare verskeie gesondheidsterugslae gehad en was maar huiwerig om op so ’n groot reis te gaan. Aan die einde van 2018 het hy uiteindelik vir my gesê dat hy reg is en ek het net besluit ons moet alles doen om dit vir hom moontlik te maak,” sê Pieterse.

Om só ’n soort safari aan te pak, en dit boonop met ’n kwadrupleeg, is nie ’n maklike of goedkoop uitstappie nie. Benewens die basiese uitgawes, moes daar ook begroot word vir ’n spesiale rolstoeltoeganklike voertuig en woonwa, asook ’n versorger. Danksy skenkings van verskeie instellings, waaronder AfriForum, is Francois se droom bewaarheid en het hulle in Junie vanjaar ’n week lange avontuur in die natuur gehad.

“Ek dink dis baie braaf vir iemand soos Francois om uit sy gemaksone te kom en te kampeer sonder enige geriewe. Hy was heeltyd positief en het nie toegelaat dat sy terugslae hom terughou nie,” vertel Pieterse.

Francois by een van die plekke waar hulle kamp opgeslaan het.

Die groep het altesaam 2 600 km tydens die toer afgelê en deur Botswana en terug gereis. “Dit was ongelooflik om so in die natuur te kampeer en so ’n groot verskeidenheid diere te sien en hoor wanneer jy in die aand in jou tent lê. Vir my was die hoogtepunt toe ons op ons laaste aand leeus naby ons tent gehoor het,” vertel Francois.

Sy raad aan mense in soortgelyke posisies is om nie huiwerig te wees om nuwe ervarings aan te pak nie. “’n Mens moet kanse waag, want jy weet nie wanneer goeie geleenthede oor jou pad sal kom nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir almal wat hierdie avontuur vir my moontlik gemaak het. Ek wil nou graag meer reis,” sê Francois.

“Hoewel Francois se voorval iets van die verlede is, is die traumatiese gevolge daarvan iets waarmee hy elke dag moet saamleef. AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid probeer om elkeen wat ons nader op die een of ander manier te ondersteun en in Francois se geval is ons baie bly dat ons ’n klein bydrae kon lewer om sy droom te bewaarheid,” het Izel Kruger, kantoor-en-projekkoördineerder by AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHANTIE ·

ek is seker die man wat deur die moeite gegaan het om iemand anders se lewe weer bietjie oemf en blydskap te gee
se hart is selfs meer gelukkig om te weet hy kan iemand anders weer laat glimlag

dis sulke mense wat my ook laat glimlag
:)

Isabel ·

Ek ken hom en hy is een pragtige mens met die duurbaarste ouers. Dankie dat hy die geleendheid gekry het en dit so positief en lekker kon geniet het. Die liewe Heer seen julle as familie met alles wat mooi en kosbaar is.

Pensioenaris ·

Ag dankie vir die kans van ‘n leeftyd wat vir hierdie man moontlik gemaak is. Daar is darem niks mooier as die gebrul van leeus wanneer jy in jou tent lê nie – maar dan moet daar darem ‘n stewige draad tussen ons wees!!

Heinrich Werner ·

My lewe is óók deur so ‘n persoon aan geraak.
Maroela Media kan gerus met Normie Eckard en Spinnekop in verbinding tree.
Besoek ook gerus sy Facebook blad :
“Ventures 4 Jesus”
My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.