Modimolle skitter na grootste skoonmaak-aksie nóg

abk-nylstroom-skoonmaak-2019-06-03

Vrywilligers help om die Nylstroom skoon te maak as deel van ‘n projek vir Wêrelomgewingsdag. Foto: Verskaf.

Sowat 1 300 vrywilligers het op Wêreldomgewingsdag binne twee ure 48 ton vullis in Modimolle opgetel.

Die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom het die reuse-skoonmaakprojek van stapel gestuur. Hulle het ses skole, die Waterberg Sakekamer, AfriForum-buurtwag, die plaaslike munisipaliteit en Pick n Pay, asook ander vrywilligers betrek om in te spring en die dorp skoon te maak.

“Minstens vier vragte rommel is verwyder wat al lank op verskeie plekke in die dorp opgehoop het. Daar is rondom skole en die kinderhuis self skoongemaak,” het Marlene de Villiers, bemarker van die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom gesê.

Zakes Namate, die plaaslike munisipaliteit se bestuurder van maatskaplike dienste, het die munisipaliteit se volle ondersteuning aan die projek toegesê. Munisipale werkers is op die dag beskikbaar gestel om die gemeenskap te help om die dorp skoon te maak.

De Villiers meen inwoners en sakeondernemings se betrokkenheid by die bewaring van Modimolle se omgewing is deurslaggewend. “As ons inwoners saamstaan, wat elke persoon en onderneming insluit, kan elkeen waarde toevoeg tot die land. So kan ons help om ons plaaslike dorpe netjies te hou.”

Sy het gesê Plastics SA het die kinderhuis ondersteun deur ʼn skenking te maak vir die skoonmaakprojek. Die organisasie het ook inligting aan die kinders verskaf oor herwinning en omgewingbesoedeling.

Die Waterberg Sakekamer het sy dienste en voertuie beskikbaar gestel vir die projek en met aansporings vorendag gekom om die projek se volhoubaarheid te verseker. Verder het Chris van Rooyen van Pick n Pay Modimolle verversings vir elke vrywilliger verskaf.

De Villiers het gesê die volgende fase van die projek is om nou die vullis in die dorp te laat herwin. Die kinderhuis sal met ʼn herwinningprojek begin en enige inwoner of instelling wat daarby wil inskakel kan ook deelneem.

“Die enigste oplossing vir rommelstorting is om die teenoorgestelde aksie in werking te stel soos ʼn skoonmaakprojek. Vullisstoring is ʼn uitdaging maar ek dink dit is ʼn stap in die regte rigting as elke inwoner begin om huishoudelike afval vooraf te sorteer. Dit kan gedoen word deur verskillende herwinbare items in sakke van verskillende kleure te plaas sodat dit maklik herwin kan word. Die mees basiese skeiding is tussen nat en droog,” het De Villiers gesê.

abk-nylstroom-skoonmaak-2019-06-02

Sowat 1 300 vrywilligers het op Wêreldomgewingsdag binne twee ure 48 ton vullis in Modimolle opgetel. Foto: Verskaf.

Die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom het onderneem om met die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit te gesels oor ʼn moontlike langtermynplan om herwinning deel van munisipale dienste te maak.

“Met die hulp van entrepreneurs en sakeondernemings kan hierdie ʼn projek word, wat kan bydra tot werkskepping vir ons kinders, as deel van ʼn skoolverlatersprojek,” het De Villiers bygevoeg.

Dié kinderhuis sien om na sowat 170 kinders, waar ʼn liefdevolle span ʼn huislike omgewing aan die kinders wat dikwels uit ʼn moeilike omstandighede kom, voorsien.

“Deel van hierdie span se opvoedingstaak is om die kinders, hul onmiddellike omgewing, skool en dorp byeen te bring en te laat deel in positiewe aksies waar die kinders aan goeie waardes blootgestel kan word. Só word daar ook leergeleenthede vir die kinders geskep,” het De Villiers gesê.

  • Publiek wat graag Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom wil ondersteun kan ʼn e-pos stuur na Marlene de Villiers by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Derick ·

Wens daar kan dieselfde initiatiewe in menige plattelandse dorpe onderneem word.

Strand looper ·

Net jammer 1% maak skoon en die res…
Wel gedaan julle!

Pensioenaris ·

Baie dankie aan Abraham Kriel kinderhuis. Ongelukkig is dit soos Strand Looper se net 1% maak skoon. Nylstroom was baie jare terug so n mooi dorpie, nou nie meer nie. Maar dit gaan so in die hele land.

Anoniem ·

Dit is goed so baie dankie aan ALMAL maar daar is ‘n makliker manier ! Gooi asb dadelik die vuilgoed wat Jy het in ‘n sak of ‘n drom !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.