Mond- en voetskilders leef in kleur

Yvonne Labuschagne saam met Patrick Botto en Rudy Lombard. (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Beide Johan Louw en Patrick Botto se lewensprentjies het op ʼn jong ouderdom verander.

Johan het in 1967, op agtienjarige ouderdom, sy nek in ʼn motorfietsongeluk gebreek.

“Ek was besig met vakopleiding by ʼn myn,” vertel hy. “Ek moes toe skielik by ʼn totaal ander leefstyl aanpas. My ouers, twee praktiese mense, het my gou laat verstaan dat die lewe voortgaan. Tussen hulle, my broers en susters, was daar nie tyd om te treur oor wat ek verloor het nie. Ek moes konsentreer op wat ek oorgehou het.”

Patrick, wat in 1991 by die Suid-Afrikaanse polisiediens aangesluit het, se lewe soos hy dit geken het, is op 12 November 1993 omgekeer. As vingerafdrukdeskundige in Pretoria, was hy in ʼn ernstige motorongeluk betrokke waartydens hy sy nek, tussen die vierde en vyfde werwel, gebreek het.

In die hospitaal, as deel van sy arbeidsterapie, moes hy leer om dinge met sy mond te begin doen.

“Ek het probeer tik op ʼn tikmasjien en probeer teken met ʼn potlood in my mond,” sê hy. “Ek was nie baie beïndruk daarmee nie, maar moes saamwerk. Dit het vir my baie vernederend gevoel.”

ʼn Sonstreep op die doek

Patrick Botto (Foto verskaf)

Vier jaar na sy ongeluk het Patrick se pad met die van Martie Westraat, kunsonderwyser by Bellville-biblioteek, gekruis. Martie het aangebied om aan vier persone gratis kunsklasse te gee.

“Ek het van die geleentheid gebruik gemaak, want ten minste kon ek nou een keer per week êrens heen gaan,” vertel Patrick. “Met geen kunsagtergrond nie, was dit ʼn vreemde wêreld vir my, maar Martie was baie geduldig. Ek moes leer van kleure, vorms, lig en donker, diepte en vele meer. My eerste skildery het my vier maande geneem om te voltooi.”

Na Johan se ouers se afsterwe, het ʼn huis vir gestremdes in Kaapstad sy tuiste geword. Hier het hy ʼn ou vriend, Hendrik Theart, raakgeloop wat hom aangemoedig het om ook te begin skilder. Theart was self ʼn mondskilder.

Vir Johan, sowel as Patrick, was dit ʼn moeilike en lang proses om met die mond te leer skilder. Tog was dit ʼn sonstraal in ʼn onbekende toekoms.

Lang pad na die reënboog

Johan Louw (Foto verskaf)

Vandag is beide Johan en Patrick deel van 27 kunstenaars wat in Suid-Afrika by die Mond-en Voetskildersvereniging (MVSV) betrokke is. Wêreldwyd is daar ongeveer sewehonderd lede.

Daar is geen kortpad om tot hier te kom nie. Dit is iets wat Yvonne Labuschagne, reeds 31 jaar besturende direkteur van die MVSV, beaam.

“Dit is werklik baie harde werk,” sê sy. “Kunstenaars mag nie die gebruik van hulle hande hê nie. Hulle moet aansoek doen en hulle skilderwerk en biografie, wat verduidelik hoe hul die gebruik van hulle hande verloor het, insluit. Hulle word op grond van hulle kunswerke gevalueer.”

Johan is in 1987 as student aanvaar. Hy het ʼn beurs ontvang en aan ʼn kunskollege ʼn kunsdiploma verwerf. Die praktiese klasse by twee skilders was ook van groot waarde. Vandag is hy ʼn volle lid wie se werke wêreldwyd uitgestal word. Studente en medelede kan ʼn lid se hulp en raad oor lewenskwessies en kuns vra.

“Ek kan internasionale konferensies en uitstallings bywoon en het dikwels op oorsese reise gegaan,” vertel Johan. “Dit was goed om ander lande se kunstenaars te ontmoet en vas te stel dat hulle basies dieselfde probleme en uitdagings as ons het.”

Patrick is in 2000 as student van MVSV aanvaar en het in 2015 medelid geword. Laasgenoemde beteken dat die kunstenaar se werk op ʼn sekere standaard is en baie verbeter het. Dit verskil nog van ʼn volle lid met betrekking tot vlak en ondervinding.

Dis duidelik dat die MVSV weer kleur aan hulle lede se lewens gee.

“Dit het my lewe sterk beïnvloed,” sê Johan. “Die ondersteuning wat ons skilders van Yvonne, by name kry, is meer as wat enigiemand kan verwag. Die kunstenaars word aangemoedig om finansieel onafhanklik van staatstoelaes te word en ʼn trots te ontwikkel om in hul eie en hulle families se behoeftes te voorsien.”

Patrick se dankbaarheid teenoor die MVSV is groot.

“Sjoe, ek is vir die Here so dankbaar vir die Mond- en Voetskilders,” sê hy. “My uitkyk op die lewe het so verander. Deur my werk kan ek nou ander bemoedig om nie op te gee in die lewe nie, ten spyte van omstandighede.”

Vandag is beide, soos die res van die skilders, betrokke by skoue en uitstallings in die publiek.

“Die demonstrasies wat in die publiek gedoen word, is om te wys dat die skilders werklik met die mond en voet skilder en dat dit nie ʼn foefie is om geld te maak nie,” sê Johan.

Patrick sluit hierby aan.

“Ek wil ook die publiek bewus maak dat dit ons eie kunswerke is. Soms dink die publiek dat ander mense ons help om die skilderye klaar te maak,” vertel hy. “Terugvoer is baie positief. Baie word bemoedig deur die manier waarop ek skilder. Hulle sien dat ek nie my hande kan gebruik nie, maar iets met my lewe wil doen ten spyte van my situasie.”

Volgens Yvonne is daar ook heelwat ligter oomblikke. Sy vertel van ʼn geleentheid waar een van die ander skilders, Chris Opperman, ’n demonstrasie gelewer het. ’n Lid van die publiek het opgemerk dat hy nie eers mét sy hande so kan skilder nie. Chris se reaksie: “Jy hoef nie sleg te voel nie. Ek kan ook nie.”

Wanneer die verf opdroog

Yvonne Labuschagne, reeds 31 jaar besturende direkteur van die Suid-Afrika by die Mond-en Voetskildersvereniging (MVSV). (Foto verskaf)

Die vereniging, wat reeds vanaf 1958 in Suid-Afrika bestaan en bekend is vir hulle unieke produkte, is ook swaar deur die pandemie, inperkings en die verswakte ekonomie getref. Hulle winkel in Hartenbos, waar kunswerke verkoop is en kunstenaars demonstrasies gehou het, se deure moes sluit. Selfs van die vervaardigingstoerusting moes verkoop word.

“Net met God se genade en ons wonderlike ondersteuners, kan ons tot nou toe aangaan,” sê Yvonne. “Dit is egter elke dag ʼn geweldige stryd vir voortbestaan.”

Yvonne en Johan verwys beide na die feit dat posdienste, waarmee hulle gewoonlik bestellings gestuur het, basies nie meer funksioneer nie. Koerierdienste moet nou gebruik word wat uitgawes verhoog.

“Op die oomblik is ons land se ekonomie erg onder druk. Mense fokus meer op die basiese dinge in die lewe. Skilderye is nie baie hoog op hulle begrotingslys nie, maar ons is dankbaar vir elke donasie en verkope aan die wonderlike publiek,” sê Patrick. “Ek kan getuig van die Here se goedheid in my leef. Ons sal voortgaan, maak nie saak wat na ons kant toe kom nie.”

Johan is trots op wat die vereniging vermag.

“Ek sal graag wil sien dat die publiek meer bewus word van wat in ons winkels is en bestel kan word,” beklemtoon Johan. “Die produkte vertoon skilderye van die skilders en is van goeie gehalte. Dis goeie geskenke vir enige geleentheid.”

“Ek kan nie meer skilder nie,” vertel Johan, “as gevolg van die verbrokkeling van my nekwerwels na meer as 55 jaar in ʼn rolstoel en die baie beweging van my kop. Ek kan getuig dat die vereniging my steeds sterk ondersteun. Ek kan nou net bemarking vanuit my bed doen. Dit doen ek met vreugde.”

Vir meer oor die Mond- en Voetskildervereniging besoek hulle webwerf www.mafpsa.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Ek het die grootste bewondering vir hierdie mense. Ai, ons kla so maklik en veral Johan se laaste sin in die tweede laaste paragraaf tref my. Ek hoop so baie mense lees hierdie en ondersteun hulle. Ek onthou hoe het ek elke einde van die jaar rond ‘n pakkie met kaartjies van hul gekry en gekoop. Dinge moet baie moeilik wees vir sulke organisasies deesdae.

Delia ·

Sjoe. Skielik is ek skaam vir my ondankbaarheid baie dae. Ek kla te maklik. My ouers het altyd hulle kaartjies gekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.