Morné Steyn en Vlok Cilliers skop armoedeprojek af

Vlok Cilliers en Morné Steyn wil ‘n duisend leerders met sporttoerusting in 2021 help. (Foto: Verskaf)

Die hoog aangeskrewe skopafrigter Vlok Cilliers en Morné Steyn snoer kragte saam met Solidariteit Helpende Hand om skop-skop ’n verskil in die land te maak.

Cilliers met sy skopakademie Vlokskop en Steyn, Springbok- en Blou Bul-speler, het pas saam met Helpende Hand hul Tekkies & Toks-projek van stapel gestuur. Tekkies & Toks gaan met die publiek se hulp poog om in 2021 minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd met dié noodsaaklike items toe te rus om hul sport op ’n gelyke vlak met hul spanmaats te kan beoefen.

“Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling. Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie,” sê Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van Tekkies & Toks.

Cilliers verduidelik die idee is gebore uit die talle uitdagings wat die publiek vanjaar weens die Covid-19-pandemie ervaar het.

“Baie uitdagings het oor ons pad gekom. Mense het hul werke en selfs hul lewens verloor. Met dié projek wil ons poog om saam met ’n groot instelling soos Helpende Hand weer hoop te bring. Kinders lê my na aan die hart, en as ons kinders kan help om beter geleenthede te ontvang, dan moet ons help waar ons kan. Ons wil ’n verskil maak deur hulle selfvertroue te gee en menswaardig te laat voel,” sê Cilliers.

Steyn, die projek se ambassadeur, sê hy is opgewonde en besonder trots om deel van die projek te wees. “Hierdie is ’n great inisiatief en dit is lekker om te weet ek kan iets teruggee. Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ’n paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld op te draf – en dan is daar eintlik soveel mense wat dit net nie kan bekostig nie. Hiermee wil ons ’n verskil maak, en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help.”

Mense wat die projek wil ondersteun, kan www.tekkiesentoks.co.za besoek om uit te vind hoe om ’n verskil te maak.

Hier is ’n video met meer inligting oor dié projek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.