Om deur jou pyn te stap

(Foto: Luis Galvez/Unsplash)

Deur Elize Perrin

Om iets of iemand te verloor, is traumaties.

Vir ʼn liggaamspyn besoek ons die dokter. Wanneer ons ʼn hartspyn het, hoop ons dit word self gesond. Persone betrokke by berading stem saam dat dit nie die oplossing is nie. Ons leer dalk om daarmee saam te leef vir ʼn paar jaar, maar iewers gaan die emosionele sweer oopbars. Dikwels is die gevolge heelwat erger as wat dit sou wees as daar dadelik aandag aan gegee is. Natuurlik is dit nie maklik om daaroor te praat nie. Dit maak weer seer. Ongelukkig moet ons eers deur ons pyn stap om by genesing uit te kom.

Ansie Willemse* se seun is vermoor. “Hoe beskryf ek die gevoel?” vra sy. “Eers die skok: ek kan dit nie glo nie. Later kom die seer en gemis. Dan kom die kwaad, die wraakgedagtes en die oneindige hartseer.”

Volgens Ansie het nalatigheid ʼn rol in haar seun se afsterwe gespeel. Dit voel vir haar asof die regstelsel haar kind in die steek gelaat het. “My sonskynkind het nie verdien om so te sterf nie! My hart was swart binne my.”

Ten spyte van al die emosies en hartseer het Ansie besef dat sy hulp moet kry. Sy het ʼn trauma-ondersteuningskamp, vir geliefdes wat persone op ʼn onnatuurlike wyse verloor het, bygewoon.

“Ek was geensins seker of ek iets positief daaruit sou kry nie,” erken sy. “Tydens my sessie met die berader het ek vry gevoel om my ware gevoelens weer te gee. Die seer, haat en wraakgedagtes het alles uitgeborrel. My gedagtes was siek. Daar het ek besef dat God my nie my sondige gedagtes kan vergewe voor ek nie bereid is om te vergewe nie.”

“Soms het ek gehuil, dan weer kwaad geword,” sê sy. “Ek kon wel agterkom dat dit ligter begin voel in my. Ek het begin insien dat my wraak en haat weer ander onskuldige kinders en geliefdes na aan my bitter seer gaan maak. Ek moes myself afvra of ek dit regtig aan hulle wil doen?”

Die berader het haar kans gegun om daaroor te dink en te besin.

Sy noem dat sy selfs later by ʼn punt van vergifnis teenoor die oortreders uitgekom het. “Dit regverdig nog nie hulle optrede om ʼn ander se lewe te neem nie,” verklaar sy. “Daardie vergifnis sal hulle by God moet kry.”

Ansie is baie dankbaar dat sy die moed gehad het om die eerste tree na genesing te stap. “Die berading het vir my groot verligting gebring,” sê sy. “Die seer en gemis sal altyd daar wees, maar ek is dankbaar dat ek wel berading ontvang het. Ek sal dit vir enigiemand aanbeveel. ʼn Mens kan nie die seer alleen dra nie. Gaan sien iemand wat verstaan en wat weet hoe om die pyn te verlig. Wanneer ek soms voel ek val terug, dink ek aan die beradingsessies en weet hoe om dit nie toe te laat nie. Ander geliefdes het my ook nodig. Ek wil nie ʼn bitter ma en ouma wees nie.”

Die eerste tree

Louis Awerbuck (Foto verskaf)

Vir die meeste persone wat hartseer, trauma of enige vorm van verlies ervaar, is die grootste uitdaging om die eerste tree op die pad na genesing te gee. Louis Awerbuck, ʼn kliniese sielkundige in privaat praktyk en ook betrokke by Wie is ek op RSG, wys daarop dat seer en trauma per definisie nie lekker is nie.

“Dit is sleg om daaroor te praat,” sê hy. “Mense beskou dit ook baie keer as privaat en soms ook as ʼn swakheid om trauma te ervaar.

“Die meeste mense hou nie daarvan as die kollig heeltyd op hulle is nie, veral as dit gaan oor sake wat diep privaat is. Ons leef in ʼn samelewing waar mense mekaar maklik aanval, die spot met mekaar dryf en oor die algemeen redelik ongevoelig teenoor mekaar is. Dit is dus moeilik vir hulle om sommer net te vertrou dat ʼn persoon ernstig sal opneem waaroor hulle praat en dit met respek sal hanteer.”

Tessa van Wijk (Foto verskaf)

Tessa van Wijk, ʼn traumaspesialis en bekende op televisie en radio, stem saam dat mense dit moeilik vind om oor hulle seer te praat. “Mense is bang,” meen sy. “Hulle vertrou nie maklik nie en weet ook nie altyd hoé om oor hulle pyn te praat nie.” Sy noem dat die vrees vir verdere seerkry ook bestaan.

“Mense is bang ander mense sal skinder. Hulle is bang hulle word geoordeel.” Sy wys egter daarop dat, sodra mense begin ervaar dat genesing begin plaasvind, hulle baie makliker uiting aan hulle gevoelens gee.

Oorgaan tot aksie

Die moeilikste deel is om oor te gee; om die pyn wat jy ken te laat gaan. Geen persoon kan namens ʼn ander besluit dat die tyd ryp is om uiting aan seer te gee nie. Elke persoon met ʼn gebroke hart moet self daardie besluit neem. Die stukke moet opgetel word en net die persoon wat seergekry het, kan dit doen.

“Gewoonlik is pyn en trauma wat te erg word, vanself motivering,” sê Louis. Hy meen dat persone ook gemotiveerd raak om aksie te neem wanneer hulle besef dit kan vir hulle positiewe resultate inhou.

Tessa sluit hierby aan. “Ek verduidelik gewoonlik vir mense die waarde daarvan om uiting aan emosies te gee. As jy iets in die donker hou, word dit vrot, maar as jy iets in die lig bring, kan (die Here) dit genees.”

Struikelblokke

Louis meen dat mense met intense hartseer of trauma dit nie vir altyd kan onderdruk nie.” Dit sal wel uitkom,” sê hy, “en heel waarskynlik op die vlak van gemoed wat bedreig word. Geïrriteerdheid, aggressie, prikkelbaarheid, skrikreaksies, meer depressiewe voorkoms, lae gemoed, slaaploosheid, gevoelens van nutteloosheid en onttrekking aan die samelewing kan voorkom.”

Tessa stem saam: “Jy maak jouself siek deur jou pyn te onderdruk en dan sukkel jy ook om te vergewe.”

In ʼn *artikel deur prof. Wentzel Coetzer en ds. Hennie Kotze, word verwys na die moontlikheid dat onverwerkte trauma aanleiding kan gee tot liggaamlike siektes.

Volgens Coetzer is die aanvanklike reaksie op trauma die van ontkenning. Die stelling word ook gemaak dat emosionele pyn wat deurgaans onderdruk word, kan uitloop op liggaamlike probleme omdat die verwonding diep weggesteek word.

“Getraumatiseerdes sal hulle seerkry wegsteek of ontken, sodat hulle van die pyn wat daarmee gepaard gaan kan ontsnap. Emosies kan egter nie sterf nie. In gevalle waar sulke herinneringe en emosies nie toegelaat word om deur die persoon se gedagtes na vore te kom nie, sal dit uiteindelik op ʼn vermomde en vernietigende wyse deur die liggaam, siel en gees na vore kom.”

Die vernietiging van verhoudings, gesondheid en spiritualiteit is gevolge waarna verwys word. Hoe ʼn persoon emosioneel voel, kan dus ook sy fisiese toestand bepaal.

Die artikel wys ook op navorsing wat daarop dui dat hartsiektes, diabetes, osteoporose en ander siektes wat met veroudering verband hou, die gevolg van onverwerkte traumatiese gebeure kan wees. Selfs ʼn moontlike verband tussen onderdrukte emosies en die ontwikkeling van kanker en asma word genoem.

“Ernstige siektes word dikwels voorafgegaan deur ʼn betekenisvolle verlies, in die periode van agtien maande tot twee jaar voor die simptome van die siekte,” skryf Wentzel en Kotze in hulle artikel.

Op pad na die kruin

Die genesingsproses is nie maklik nie, maar wel moontlik. Hulp is beskikbaar. Beraders en sielkundiges is slegs instrumente om wonde, wat veroorsaak is deur seer gebeurtenisse, te help genees. Tydens berading kan die omstandighede nie verander nie, maar die persoon kan gelei word om die situasie te hanteer.

* skuilnaam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.