Onderstepoort spog nou met eie MRI-skandeerder vir diere

Bear, ‘n Yorkshire-terriër, was die eerste pasiënt in die MRI-skandeerder by Onderstepoort. Lulama Nsele, ‘n student van die dierehospitaal, het Bear behandel. (Foto: Verskaf)

Die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal het sy eerste magnetieseresonansbeelding- (MRI-)skandeerder aangeskaf.

Dit beteken dié dierehospitaal van die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde hoef nou nie meer spesiale reëlings met gewone hospitale te tref om MRI-ondersoeke op diere uit te voer nie.

“Die gebruik van MRI-skanderings vir diagnostiese doeleindes is beperk tot klein diere in Suid-Afrika en kon gewoonlik net gedoen word as spesiale reëlings met ander geriewe getref is.

“So ʼn skandering duur 45 minute of langer en dit het die gevalle wat ons kon verwys, beperk. Met ons eie skandeerder kan ons nou enige tyd van die dag hier skanderings doen sonder dat ekstra tyd vir reise na ander geriewe benodig word,” het dr. Paul van Dam, direkteur van Onderstepoort, gesê.

Vantevore is MRI-skanderings op ʼn verskeidenheid van diere gedoen, wat hoogs opgeleide werkhonde, ʼn leeu wat probleme met sy sentrale senuweestelsel ondervind het en ʼn dier wat aan hipovitaminose A (oormaat van vitamien A) gely het.

Van Dam het gesê nog ʼn bykomende voordeel is dat dié MRI-skandeerder besonder hoë beeldwerwing kan doen op veeartsenykundige pasiënte in Suid-Afrika.

“Die nuwe MRI-skandeerder by Onderstepoort het ʼn magnetiese veld van 1,5 Tesla-eenhede, wat glo die sterkste eenheid in veeartsenykundige gebruik in Afrika is.

“Ons eenheid het ook die grootste deursnee wat beskikbaar is. Dit beteken ons kan die liggame van die grootste honde en ander diere, waaronder wild soos groot katte of groot ape, op die ingeboude tafel skandeer. Ons kan ook die ledemate en nekke van groter diere soos perde op ʼn pasgemaakte tafel skandeer, wat plaaslik ontwerp is.”

Suster Sinazo Nikelo, het Wiskey, die hond, help voorberei op sy MRI-skandering by Onderstepoort. (Foto: Verskaf)

Onderstepoort spog met die grootste verskeidenheid van veeartsenykundiges wat saam onder een dak werk, asook geriewe en toerusting. Dit sluit in ʼn uitgebreide, moderne hoësorgeenheid vir honde en katte, tien teaters vir klein en groot diere waar algehele heupvervangings en ander ortopediese prosedures uitgevoer word, asook talle lewensreddende noodoperasies gedoen kan word.

Die geriewe hier het ook verblyfplek vir alle diersoorte, van die kleinste troeteldier tot perde, plaasdiere en wilde diere soos groot katte en jong renosters. Daarbenewens het Onderstepoort ook toegang tot ʼn aantal gespesialiseerde diagnostiese laboratoriums op die kampus en spesialispatologiedienste, wat dit in staat stel om elke pasiënt die beste individuele sorg, aandag en behandeling te gee.

“Dit alles verseker dat Onderstepoort nooit ’n tekort het aan pasiënte om te genees of geleenthede om studente op te lei volgens die hoogste standaarde nie,” het Van Dam gesê.

“Die verkryging van die MRI-skandeerder bied die hospitaal ’n omvattende stel beeldvormingsmetodes, waaronder konvensionele X-strale, ultraklank, sintigrafie (ook bekend as flikkergrafie), rekenaartomografie (CT) en nou magnetiese resonansbeelding (MRI),” het prof. Vinny Naidoo, dekaan van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die UP, gesê.

Naidoo het verduidelik dat die MRI-skandeerder deels moontlik gemaak is deur ʼn ruim skenking van Betty Noakes, wat ʼn groot deel van haar erflating aan Onderstepoort nagelaat het om tot voordeel van diere se gesondheid aangewend te word.

Prof. Tawana Kupe, visekanselier en rektor van UP, wat die nuwe geriewe amptelik geopen het, het ook die belangrikheid van die nuwe toevoeging tot Onderstepoort se mediese toerusting benadruk.

“Oor die jare het Onderstepoort hom op verskillende vlakke onderskei. Dit het nou begin met nog ʼn opwindende hoofstuk in die fakulteit se meer as 100 jaar geskiedenis – die begin van ʼn nuwe era in dienslewering en pasiëntesorg. Dit versterk die dierehospitaal se onskatbare rol en posisie as die land se voorste veeartsenykundige hospitaal.”

Nog ‘n hond word in die nuwe MRI-skandeerder by Onderstepoort geskandeer. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

Julle doen baie goeie werk, dankie aan almal by Onderstepoort.

Celeste ·

Ek vat my honde na hulle toe. Altyd goeie diems gekry en is BAIE goedkoper as n privaat veearts

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.