Ondersteuning vir persone met gestremdhede kwyn nie

Ondersteuning vir persone met gestremdhede kwyn nie. (Argieffoto)

Alhoewel die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG) sedert 2020 met die aanvang van die pandemie ’n reuseknou gekry het, lyk die toekoms van die organisasie nou weer blink.

Dié raad staan aan die stuur van tientalle projekte in Suid-Afrika en streef daarna om die lewensgehalte van mense met gestremdhede in die land te verbeter.

Sedert die negentigs vier Suid-Afrikaners jaarliks getrou Loslitdag in September, ’n geleentheid wat deur die organisasie geskep is vir geldinsameling en bewusmaking.

“Dis ’n projek wat baie waarde toevoeg en ’n groot impak het. Dit het fantasties deur die jare gegroei en skep talle werksgeleenthede vir mense met gestremdhede,” het Therina Wentzel du Toit, direkteur van die NRPG, aan Maroela Media gesê.

Sy vertel hoe daar fees gevier is ná die eerste Loslitdag aangesien die organisasie daardie jaar R500 000 ingesamel het. Dié projek het oor die jare heen volksbesit geword en het in 2018 ’n allemintige R34 miljoen ingesamel.

Die projek, wat tot en met 2020 elke jaar van krag tot krag gegaan het, is met die inperkings, nes baie ander organisasies en projekte, tot stilstand geruk.

“Ons het reeds aan die einde van 2019 aan die 2020-Loslitdag begin beplan. Aan die begin van die jaar het ons reeds ons hemde, hoedjies en plakkers bestel.”

Met die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande nasionale inperking, het baie van daardie voorraad nooit die lig gesien nie, iets wat Wentzel du Toit as ’n “tragedie” beskou.

“Dit is die mooiste blou hemde, daar lê nou nog voorraad daarvan hier by ons.”

Die NRPG het selfs daardie jaar Loslitdag, wat oudergewoonte in September plaasvind, na Desember geskuif, met die oog daarop om meer verkooptyd aan mense te bied. Dit was egter tevergeefs.

Die grendeltydperk het ook ’n ondeurdringbare muur tussen die NRPG en broodnodige finansiële ondersteuning geskep.

Twee van die organisasie se grootste borge het as gevolg van die inperking onttrek, die NRPG was dus miljoene rand kwyt. Tog moes die noodsaaklike dienste wat die organisasie aan Suid-Afrikaners met gestremdhede bied, voortgegaan.

Talle individue wat deur die jare heen die organisasie met maandelikse bydraes ondersteun het, moes ook noodgedwonge hul skenkings onttrek om na hul eie behoeftes om te sien.

In 2021 het die sukses van Loslitdag weer spoed begin optel, hoewel dit nog die knou van die vorige jaar duidelik weerspieël het.

“Ons het beter gedoen, dit was steeds min, maar darem beter as 2020.”

Sy is egter optimisties oor wat vanjaar se Loslitdag opgelewer het, wat die tema “Ek vier Suid-Afrika” op die voorgrond geplaas het.

Dié tema is juis gekies om mense weer hoop te gee en om bemoediging te bied.

“Ons wou graag hê mense moes weer die positiewe dinge in die lewe raaksien.”

Die amptelike resultate van dié jaar se Loslitdag sal egter eers vroeg volgende jaar beskikbaar wees.

’n Ander projek wat die NRPG ook van stapel gestuur het, is ’n jaarlikse doekedraf.

Dié geleentheid vind die eerste naweek in November plaas en samel doeke in vir skoolgaande kinders, tieners en volwassenes wat met maag- en blaasprobleme sukkel.

“Ons wil graag die stigma daar om breek,” vertel Wentzel du Toit.

Vir meer inligting oor die NRPG en die verskeie projekte wat deur die organisasie behartig word, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.