Oom Herrie se kerrie: Dis die jannas se skuld

Een van kleinboet Jandré se skilderye.

Ons jongste gaan dié week hospitaal toe – darem net vir ’n dag en ’n aks. Hy is onlangs met epilepsie gediagnoseer, en reeds lewenslank op pille geplaas. Die neuroloog wil nog toetse doen.

Kleinboet is 23, maar soos ’n kind in die huis, want hy is outisties. ’n Droomkind.

Ouboet is plaasbestuurder op ’n vrugteplaas buite die Paarl, bitter ver van Bloemfontein af, en ons sien hom min. Die verlange is groot. Nou is Kleinboet darem daar … elke dag.

’n Ouerpaar wat ’n kind met ʼn gestremdheid het, se wêreld verander baie, en ’n mens is gedurig op ’n raakvlak met ’n wêreld van spesiale mense – die kinders wat oor ’n wye spektrum gestremdhede het – sommiges in rolstoele, ander doof, ander bitter afhanklik, en dan die spesiale mense wat op verskillende maniere na die kinders omsien. Hulle is engele.

En ’n mens sien maksimale ouerliefde in aksie. En hier bly humor nie altyd weg nie. So vertel ’n terapeut ’n ma kom skryf haar kind by ’n spesiale skool in. Met die inskrywery dring die ma daarop aan dat die oorsaak van haar kind se gestremdheid ook aangeteken word. Die oorsaak, volgens haar, is haar man se jeans. Dis duidelik die ma het iewers verneem dat die oorsaak in die gene gesetel is, en sy het sommer besluit dit moet haar man se gene wees wat die probleem veroorsaak het.

Dieselfde ma het haar beroep aangedui as “p*sjob”, bedoelende “piece job”. Nog ’n ma moet die terapeut kom spreek, en laat weet wanneer sy by die skool se hek kom, sal sy ’n “miskol” gee.

Die eerste tekens dat daar iets meer as net outisme met Kleinboet verkeerd was, was toe oom Herrie saam met hom aan sy eerste bergfietswedren gaan deelneem het. Nie vreeslik lank nie, of albei bande van oom Herrie se fiets was pap (teenlekmiddel ten spyt). Oom Herrie sê vir Kleinboet hy moet maar aanjaag.

Dis toe oom Herrie by die eindpunt kom, dat hy op ’n geskarrel afkom. Kleinboet lê plat op sy rug en is net besig om by te kom. Hulle vertel die kleinman was net ’n rukkie klaar, en het ongelukkig al die helm afgehaal, toe hy net skielik agteroor neerslaan. Gat in die kop.

Op pad huis toe wil Kleinman weet: “Hoekom ek slaap?”

Ek wil hom ’n stewige drukkie gee, maar is besig om te bestuur. ’n Besoek aan die kardioloog en neuroloog werp geen lig op die situasie nie.

En dis eers weer jare later dat hy ná sy eerste toernooigeveg in ’n judiotoernooi (wat hy gewen het), weer agteroor neerslaan. Gelukkig het hy gesit en daar was nie weer ’n gat in die kop nie. En daarna weer ’n keer of wat.

Dus is die ronde met die kardioloog en ’n ander neuroloog nou weer geloop. By die neuroloog moes ’n ruk gewag word, en hy was nie ’n bietjie beïndruk nie, want so kon hy nie by sy daaglikse werkie uitkom om die tuin met die badwater nat te gooi nie.

Elke spesiale kind is vir sy ouers baie spesiaal – net so spesiaal soos die ander kinders wat normaal toegerus die wêreld kan aandurf.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.