Oom Kosie (95) en tannie Sus (83) haak af tydens pandemie

Oom Kosie en tannie Sus het in op ‘n perdekar by die seremonie opgedaag (Foto: Verskaf)

Terwyl baie jonges weens die Covid-19-regulasies hul troudag uitgestel het om ʼn groter feesviering later te hê, kon oom Kosie Pieterse en tannie Sus Jones nie meer wag nie en het besluit om tydens die aangepaste vlak 3 van die landwye staat van inperking getrou.

Magda Jacobs van die Unity-gasteplaas-en-venue in Noordwes sê dié paartjie was verreweg die oudste paar wat al by hul trouvenue afgehaak het.

Sy vertel tannie Sus woon in ʼn ouetehuis en oom Kosie sou daar by haar intrek, maar hulle wou nie saambly voordat hulle getroud was nie.

Oom Kosie en tannie Sus wou trou voordat hulle saam woon (Foto: Verskaf)

“Hulle wou moeite doen met die troue. Hulle wou die ding reg doen,” sê Jacobs. “So, hul kinders het toe gehelp om ʼn klein, intieme geleentheid te reël sodat hulle kon trou voor hulle saam intrek.”

Oom Kosie en tannie Sus het ʼn oggendtroue gehou en daarna ʼn lekker ete saam met nabye familie en vriende geniet. Oom Kosie het self die tafelgebed gedoen.

ʼn Wit perd met ʼn perdekar het die verliefde paartjie na die trouseremonie aangery. Tannie Sus het ʼn pragtige diepgroen uitrusting met pêrels om haar nek gedra en oom Kosie het deftig gelyk in ʼn grys pak met ʼn wit roos teen sy bors.

Oom Kosie en tannie Sus het in op ‘n perdekar by die seremonie opgedaag (Foto: Verskaf)

“Dit was baie spesiaal en kosbaar, want ʼn mens kon die liefde tussen die twee sien. Hulle het gereeld kykies en soentjies aan mekaar uitgedeel.”

Jacobs vertel dat dit ʼn ekstra spesiale ervaring was omdat die paartjie se kleinkinders ook later die jaar by hul venue gaan afhaak.

“Die oom en tannie het in Februarie hier getrou en hul kleinkinders trou nou ook hier op 10 April,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louise ·

Wow, dit is te pragtig vir woorde, want ons is nie geskape om alleen oud te raak nie. Alle voorspoed vir hulle om hulle laaste dae saam te geniet. Ek hoop ons sien fotos van die kleinkinders se troue.

Pandora ·

My Ouma het op die ouderdom van 67 met haar tweede man getrou wat op daardie stadium 80 was. Dit was vir ons as jong kinders heel koddig en ook baie dierbaar. Hulle was amper 21 jaar getroud voordat Oupa heen is. Hy was die enigste Oupa wat my sussie geken het – en het ons almal soos sy eie behandel. Dis ‘n voorreg om te sien hoe mense van gevorderde jare nog steeds ‘n maat vind.

Casper ·

Wat het die haan vir die hen gesê toe hy die volstruis eier sien?Dit Kan gedoen word.Sterk aan oupa en ouma.

Johannes ·

Baie geluk! Julle is ‘n voorbeeld in hierdie tyd van goddeloosheid (saamblyery(, mag die Here julle ryklik seën!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.