Operasie wil Marion-eiland tot vorige ekologiese glorie herstel

Dr. Anton Wolfaardt op Marion. (Foto verskaf)

Die Mouse-Free Marion-projek, die grootste enkele knaagdier-uitwissings-operasie op ʼn sub-Antarktiese eiland, is tans in die pylvak voor dit binne die volgende twee jaar uitgevoer gaan word.

Dié projek het voorste wetenskaplikes en kundiges van regoor die wêreld betrek, maar staan onder Suid-Afrika se leiding. Maryke Roberts het met dr. Anton Wolfaardt, Mouse-Free Marion se projekbestuurder, gesels.

Hy vertel: “Die projek is ʼn storie van ʼn merkwaardige sub-Antarktiese eiland, wat die tuiste van belangrike bevolkings seevoëls is, maar dis ook ʼn storie van ʼn eiland wat ʼn kommerwekkende- en ongelukkige bedreiging in die gesig staar. Die projek probeer om hierdie bedreiging aan te spreek en die eiland se ekologie te herstel.”

Muise − miljoene van hulle − is besig om nie net eiers en kuikens van albatrosse en stormvoëls op te vreet nie, maar ook Kleinskedebek-voëls se voedselbronne, wat hoofsaaklik uit ongewerweldes bestaan, drasties te verlaag. Met die verlaging in ongewerweldes, het die muise ander proteïenbronne begin soek. Seevoëls verdedig hulself nie teen die knaagdiere nie, want hulle is nie roofdiere op die eilande gewoond nie, daarom is die slagting so groot.

Grootalbatros met kuiken op Marion. (Foto: Anton Wolfaardt)

Van die 28 voëlspesies wat op die eiland broei, word daar gereken die oorgrote meerderheid −sowat 18 spesies − sal binne die volgende 30-100 jaar uitgeroei wees, danksy die muise. Die projek is dus van uiterse belang.

Klimaatsverandering tel in die muise se guns, want warmer en droër toestande verleng hul broeiseisoen en laat hulle getalle vinniger aanwas as wat die seevoëls kan.

“Maar, ons is steeds in die bevoorregte posisie dat geen seevoël weens die muise uitgesterf het nie. Ons kan dit verhoed. Ons hoef nie, ná die muise uitgewis is, weer spesies te hervestig nie. Die bestaande spesies moet net herstel en meer word,” sê dr. Wolfaardt.

Die projek is kompleks, nie net vanweë Marion se ligging 2 000 km van Kaapstad nie, maar ook in die grootte, vorm, ligging en kenmerkende slegte weer. Maar uitvoerbaarheidstudies het getoon dat dit heeltemal moontlik is.

Mouse-Free Marion bestaan uit: dr. Wolfaardt, Keith Springer die bedryfsbestuurder, Robyn Adams die kommunikasiebestuurder, Heidi Whitman die hoof-filantropiese beampte en John Cooper die MFM-nuuskorrespondent.

Gryskopalbatros geknaag. (Foto: Peter Ryan)

Die uitwissingsprojek, waar gif per helikopter gestrooi word, se begroting is $20 miljoen (ongeveer R333 miljoen) en een derde is al ingesamel. Die Suid-Afrikaanse regering het ook ʼn groot deel geoormerk in hierdie privaat-publieke vennootskap tussen BirdLife SA en die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE).

Die Prins Edward-eilandgroep, wat Marion en Prins Edward insluit, halfpad tussen Antarktika en Suid-Afrika, is die suidelikste gebiede onder Suid-Afrikaanse bestuur en onder dié departement ressorteer. Marion beslaan 300 km2 en Prins Edward 45 km2.

Die eilande se ligging in die suidelike oseaan, waar verskeie oseaan-fronte bymekaar kom en noodsaaklike voedingstowwe diep op die seebodem opwas en plankton voed, bied op sy beurt weer ʼn belangrike kosbron vir seevoëls en -diere.

Dis wêreldbekend vir seevoël en sub-Antarktiese biodiversiteit en is in 1995 as spesiale natuurreservaat − Suid-Afrika se enigste − verklaar.

Die eilande en omliggende oseaan het dus ʼn ryk verskeidenheid wildlewe. Hy sê hoewel seevoëls en ander see-roofdiere soos robbe meestal in die water jag, hulle tog aan wal moet kom om te rus, te broei en in sommige gevalle te verhaar of te verveer, maar omdat daar so min eilande is, is hul keuses baie beperk.

Albatrosse is by verre die mees charismatiese seevoëls wat op die eilande broei en daar is vyf spesies in totaal, waarvan vier op albei eilande en een − die Indiese geelneusmalmok − net op Prins Edward broei. Die Prins Edward-eilande onderhou meer as die helfte van die wêreld se Grootalbatrosse en Marion ʼn kwart van die wêreldbevolking.

“Dit beteken dat Suid-Afrika ʼn ongelooflike groot verpligting het ten opsigte van globale albatros-bewaring en om te verseker dat hierdie eilande ʼn veilige vesting vir hierdie voëls bly. Suid-Afrika geniet ongelooflike aansien vir ons navorsing op hierdie eilande wat al vir meer as 40 jaar duur,” vertel hy in ʼn praatjie op Wêreld Albatrosdag op 19 Junie wat tydens BirdLife SA se 100ste Zoom-episode aanlyn stroom.

Behalwe vir die albatrosse, is daar ook groot kolonies Koningpikkewyne en Witoorpikkewyne, suidelike Geelkuifpikkewyne en Langkuifpikkewyne, robbe en orkas, en is dit ook ʼn ongelooflike belangrike habitat vir verskeie voëls en seediere.

Gryskopalbatros kolonie op Marion. (Foto: Michelle Risi)

Met die koms van veral robjagters in die laat 18de eeu, wat robbe se vet gebruik het vir olievervaardiging en ook hul pels geoes het, is dié getalle drasties verminder.

“Behalwe vir die direkte vernietigende effek wat hierdie besoekers op die eiland gehad het, het hulle ook indirek hul merk gelaat. Hiervan was die knaagdiere wat op skepe weggekruip het, sekerlik die skadelikste. Die knaagdiere het geen natuurlike jagters nie en ʼn oorvloed kos. So het muise op Marion beland, maar gelukkig nie op Prins Edward-eiland nie. Dit het rampspoedige ekologiese gevolge gehad vir die eilande. Suid-Afrika het die eilande in 1947 oorgeneem − meestal vir hul strategiese ligging. In 1948 is dit amptelik deur die Suid-Afrikaanse regering annekseer en ʼn weerstasie is gevestig. Dit het ʼn nuwe era van bewaring ingelui. Vandag is die eilande ook belangrike aanduiders van die impak van klimaatsverandering.

Dr. Wolfaardt vertel sy eie bewaringsreis as seevoël- en eiland-praktisyn het 28 jaar gelede daar op Marion, tydens die 51ste oorwinter-span, begin. “Dit was ʼn sielvolle ervaring en het regtig die rigting van my loopbaan vasgelê. Daardie plek het ʼn geweldige impak op jou lewe en dit noop jou om by te dra en terug te keer.”

Die muise het iewers voor 1818 arriveer en vernietiging gesaai.

Prins Edward is steeds knaagdier-vry en word gereken as een van die mees ongerepte eilande in die suidelike oseaan. Dit gee ons ʼn verwysingspunt van hoe Marion moet lyk en funksioneer.

So ons sit met duisende muise, kom ons bring katte in. Reg? Verkeerd. Vyf katte is in 1949 op die eiland losgelaat en teen 1970 was daar ʼn geskatte 2 000 katte, wat jaarliks meer as 450 000 stormvoëls doodgemaak het.

Hervulling van emmers op Antipodes-eiland. (Foto: Keith Springer)

Die volgende bewaringsprojek was dus om die eiland katvry te kry. Danksy sistematiese pogings, is die katte oor ʼn 15 jaar periode heeltemal teen 1991 uitgewis. Tot 2018 was Marion-eiland die grootste eiland waar wilde huiskatte uitgewis is. Suid-Afrika word hier gereken as wêreldleier op dié gebied.

“Wat ons nou by die muise bring. Muise is hoogs aanpasbaar, broei ongelooflik vinnig en eet basies enigiets en so baie daarvan dat hulle vinnig ʼn eiland se ekologiese prosesse kan verander en tot ʼn eiland se ekologiese verarming kan lei. Verskeie doktorale studies en navorsingsprojekte is al gedoen en word voortdurend onderneem om te bepaal presies hoe skadelik muise kan wees, veral op die ongewerweldes en die eiland se plantegroei”, verduidelik hy.

ʼn Mens mag reken dat die katte die muisbevolking in toom gehou het. Dis egter net gedeeltelik waar. Daar word egter gereken die muisbevolking is nou 500% hoër as 30 tot 40 jaar gelede – teen alle verwagting in het die katte nie veel aan die groeiende muisbevolking gedoen nie. Die rede vir drastiese verhoging in muisgetalle, is die warmer en droër klimaat op Marion danksy klimaatsverandering.

“Muise is nie mal oor nat, koue winters nie. Soos wat die klimaat die afgelope paar jaar drasties  verander het op die eiland, het dit ideale en veel langer broeitoestande geskep vir die muisbevolking. Dit het natuurlik die impak op alles wat hulle eet, ook laat vergroot.

“Die Marion vluglose mot (Pringleophaga marioni), ʼn endemiese mot aan die eiland, se getalle is nou slegs 10% van hul oorspronklike getalle, omdat muise die larwes vreet. Ons wil natuurlik nie endemiese spesies verloor nie, maar ʼn mens moet die groter ekologiese prentjie in gedagte hou. Hierdie ongewerweldes waarop die muise teer, is alles deel van die delikate ekologiese stelsel soos die voedingstof- en grondomdolwing.

Die mot is nie al een wat so direk onder die muise ly nie. Navorsing deur Onno Huyser, Alan Burger en ander, toon dat die Kleinskedebek, familie van die swarttobie, wat heeljaar rondom pikkewynkolonies aas, in die winter − wanneer hierdie voëls getrek het − binnelands vir kos gaan soek en dan op insekte staatmaak. Die geweldige impak wat die muise op die biomassa van die ongewerweldes gehad het, beteken dat muise en die Kleinskedebek nou in direkte kompetisie vir kos is en dit het die Kleinskedebek se getalle drasties laat afneem, omdat hulle minder broei.

Maar toe, in 2003, het dinge regtig erg begin skeefloop. Muise het begin om seevoël-kuikens lewendig te vreet. Die eerste rekords wys dit was ʼn Grootalbatros. Die aanname is dat muise se voedselbronne só verminder het, dat hulle ander vorms van proteïene begin soek het. Hierdie voëls is regtig weerloos teen knaagdiere, want hulle het met evolusie ontwikkel tot geveerdes wat geen verdedigingsmeganisme jeens natuurlike roofdiere het nie.

SA Agulhas II by Marion-eiland. (Foto: Anton Wolfaardt)

Aanvanklik was dit uitsonderlike gevalle wat raakgesien is, maar ongelukkig het dié verskynsel begin toeneem. ʼn Kamera is langs ʼn nes opgestel en het ʼn toneel opgeneem waar ʼn groep muise ʼn klein albatroskuiken lewendig opvreet. Anton verduidelik dat dit lyk asof die voël effens geïrriteerd is met die vretende muise, maar dat dit baie belangrik is om te onthou dat hulle nie weet hoe om hulself te verdedig nie.

Nag na nag kom die muise en vreet die kuikens en dié wat later groter as die muise is, vrek van blote uitgeputheid en moegheid of infeksies.

Navorsing net nou getoon dat hierdie verskynsel net al meer drasties sal word, soos wat die klimaatstoestande vir die ideale broei-omstandighede vir muise toeneem, omdat die klimaat al warmer word. Dit dryf die eiland na ʼn toestand van ekologiese krisis.

Dis nie net die albatros-eiers en -kuikens wat deurloop nie. Stormvoël-getalle − wat ook swaar verliese gely het onder die katte − het steeds, na net meer as 30 jaar, nie genoegsaam toegeneem nie en dis te danke aan die muise.

Anton sê as jy Marion-albatros intik op Google, jy die foto van Thomas Peschak vir National Geographic kry, wat ʼn Gryskopalbatros wys, waarvan die hele kop- en nekvel deur muise afgevreet is. Dit was deel van sy artikel oor dié muisprobleem. Dis baie kommerwekkend dat hierdie die beelde is wat opkom as jy dink dat Marion- en Prins Edward-eilande internasionaal gereken word vir hul albatros-bevolkings.

“Na sy artikel en foto’s, is die eiland bekend as die Eiland van die Zombie-muis en ʼn hartseer weerspieëling van ʼn eiland waaroor ons baie meer positief behoort te praat.

Om hierdie uitwissing te voorkom en Marion-eiland te herstel tot haar vorige glorie, is dit baie duidelik dat die muise uitgeroei moet word.

Onlangse berigte in oorsese media het getoon dat die ware omvang van die verliese, danksy muise, onderskat is.

Grootalbatros (Foto: Otto Whitehead)

“Die goeie nuus is dat hierdie probleem opgelos kan word. Selfs op ʼn eiland die grootte van Marion-eiland. Dit sou nie ʼn moontlikheid gewees het toe ek 28 jaar gelede op Marion was nie, maar daar was reuseverbeteringe in die metodiek en tegnologie wat in hierdie reuse en ambisieuse projekte aangewend word. Ons Nieu-Seeland-kollegas het regtig die weg vir ons gebaan. Hulle het beslis genoeg peste wat na eilande gebring is om mee te werk om hul endemiese spesies te beskerm,” vertel hy.

Hy sê voorts: “Ek sê daar is ʼn oplossing, maar daar is nie veel opsies in daardie oplossing nie. Die helikopters wat spesiale gifkorrels oor die eiland strooi, het die norm geword en ook die enigste metode wat suksesvol is op groot oseaniese eilande soos Marion. Reuse-dromme word onder die helikopter vasgemaak en dit bestrooi die hele eiland. Dis van uiterse belang dat elke moontlike hoekie van die eiland bedek word, want die laaste muis moet uitgewis word. In die meeste ander gevalle sou ʼn 99.5%-doelwit as suksesvol gereken word, maar vir ʼn uitwissingsprojek is dit ʼn faling. Een swanger muis, wat nie die aas vreet en sterf nie, maak die projek ʼn mislukking.

“Die muise sal die korrels in hul ondergrondse neste inneem, vreet en doodgaan. Ons moet die eiland twee maal bestrooi om te verseker dat die aas lank genoeg doeltreffend bly om die taak te voltooi. Die gif wat gestrooi word, is nie muis-spesifiek nie. In vorige projekte was daar gevalle waar nie-teiken spesies ook sterf weens die korrels, maar sekondêre vergiftiging is nie ʼn groot kommer vir wetenskaplike nie. Die korttermyn-sterftes was baie minder as die langtermyn-sterftes wat reeds ondervind is en nog ondervind gaan word.

“Hierdie kwessies kry indringende aandag in ons beplanning.” Keith Springer verduidelik dat die gif sowat ses maande neem om heeltemal af te breek, maar aan grond vaskleef en nie wateroplosbaar is nie en dus nie die waterbronne kan besoedel nie en ideaal vir is vir eiland-uitwissingsprojekte.

Die rede hoekom hierdie uitwissingsprojek nou moontlik is op Marion, is die nuwe tegnologie vir Geografiese Plekstelsels (GPS) en Geografiese Inligtingstelsels (GIS), om presiese vluglyne te beplan en uit te voer.

Marion-eiland sal − naas die Suid-Georgiese eiland van 3 528 km2 − die grootste eiland tot op hede wees waar hierdie helikopter-en-aas-metode gevolg word. Die Suid-Georgiese eilande kon ook oor vier jaar gedoen word, omdat gletsers uit die see die eiland geografies verdeel het. Op Marion moet die hele eiland gelyk gedoen word.

Ons is nou besig met beplanning en gebeurlikheidsplanne. Dis gegrond op vorige suksesvolle projekte op ander eilande en dis op geen manier nuut of eksperimenteel nie. Ons verfyn net dié projekte om dit geskik te maak vir Marion.

Die projek is enige logistieke bestuurder se nagmerrie. Altesaam 4-6 helikopters moet na die eiland vervoer word.

Bruinalbatros (Foto: Michelle Risi)

ʼn Internasionale onafhanklike advieskomitee is nou saamgestel om na al die gebeurlikhede en die impak van die gif op nie-teiken spesies te kyk. En natuurlik moet ʼn projek van hierdie omvang deur verskeie komitees goedgekeur word; permitte en spesiale vergunning verkry word; en genoeg fondse ingesamel word.

Dr. Wolfaardt is optimisties: “Vir bykans elke ekologiese probleem wat ons seevoëls bedreig, is daar ʼn oplossing en ons weet wat die oplossing is. Maar wat ons regtig nodig het, is dat die politiese- en sosiale wil bestaan om hierdie oplossings te implementeer. Die reuseprojek van die Suid-Georgiese eilande is deur ʼn baie klein bewaringstrust in Skotland van stapel gestuur. Dit kan gedoen word.”

Dr. Wolfaardt sê daar is bitter min oplossings wat so ʼn eenmalige belegging verg, wat soveel dividende op ʼn belegging sal hê. “Dis nie die sogenaamde silwer koeël vir natuurbewaring nie, maar ons kan die horlosie hier terugdraai om ʼn kosbare deel van ons planeet te red en na haar voormalige glorie te herstel.”

Die per hektaar koste is baie laer as baie ander bewaringsprojekte.

Hy gee ook die versekering dat nuwe knaagdier-aankomelinge op die eiland ten sterkste verhoed word. Net een skip, die SA Agulhas II, besoek die eiland en ons bio-sekuriteitsmaatreëls is opgeskerp om te verseker dat ons nie oor ʼn paar jaar nuwe muise het wat arriveer nie.

Hulle hoop om die projek teen 2024 te onderneem, maar weet dis ʼn baie ambisieuse teiken; dalk eerder 2025.

“En dan, as jy voortaan Marion-albatros google, sal jy hopelik eerder beelde van majestueuse, gesonde voëls sien, wat nie ver van die kuslyn van hul nou beskermde en veilige habitat, vlieg en duik”, sluit hy af.

  • Skep bewustheid vir dié projek deur sprekersgeleenthede te reël of skenk enige bedrag, hoe gering ook al, om die projek ʼn realiteit te maak. Groot borge word ook verwelkom. Meer inligting by Mousefreemarion.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.