Oupas en oumas word ook vir Kersfees bederf

‘n Pakkie wat aan een van die projek se oumas gelewer gaan word. (Foto: Verskaf)

“In baie gevalle word bejaardes net by ouetehuise afgelaai en daar word van hulle vergeet. Ek wil vir hierdie mense ʼn kleinkind wees.”

Só vertel Cherice Purcocks, ʼn gr. 8-onderwyseres by Hoërskool Wonderboom in Pretoria, oor haar Ouma-en-Oupa-projek.

In ʼn soortgelyke projek as die bederfpakkie-projek waaroor Maroela Media vroeër die maand berig het, beoog die Oupa-en-Ouma-projek om bejaardes tydens die Kersseisoen, wanneer die meeste families bymekaarkom en tyd saam deurbring, te bederf.

Die 27-jarige Purcocks vertel dat haar projek egter uniek is omdat hulle behoeftelysies vanaf die ontvanger van die bederfpakkie self kry.

“Só kan ons seker maak dat hulle presies kry wat hulle die graagste wil hê. Van die bejaardes het gewone kruideniersware op hul lysies, want baie van die ouetehuise kan nie die goed voorsien nie. Daar is ʼn groot nood onder ouer mense, party het nie eens kos nie.”

Die pakkies moet ʼn waarde van R150 hê, maar baie van die bederfpakkies gaan ver oor dié riglyn.

Purcocks reël verder dat daar ʼn spesiale funksie by die ouetehuise gehou word waar die geskenkpakkies afgelaai en peuselhappies uitgedeel word, en Purcocks ook kinders van die skenkers saamvat om die dag met die bejaardes te deel.

“Ek reël dit in die skoolvakansie sodat die kinders saam met my kan gaan en blootstelling kry aan hierdie soort omgee-gebaar. By ons Pretoria-versamelpunt het ons al sowat 1 500 pakkies ontvang, ons het eintlik nou peuselhappies nodig. My hart wil hê dat ons die gemeenskap betrokke kry. Ek doen dit net ter eer van die Here.”

Die projek is begin omdat Purcocks se 92-jarige ouma self in Mosselbaai woon en sy nie gereeld daar kan gaan kuier nie. Sy vertel as kind het sy elke vakansie by haar ouma gaan kuier en altyd ʼn klein geskenkie gekry.

“Ek het daarom waarde geheg aan geskenkies en die uitwerking wat dit op mense kan hê. Met koste wat so hoog loop, is dit nie altyd moontlik om by my ouma, wat in die siekeboeg is, te gaan kuier nie. Ek kan nie daar vir haar wees nie, maar ek kan daar vir ander wees.”

Pakkies wat na oumas en oupas gestuur gaan word. (Foto: Verskaf)

Verlede jaar was die getal pakkies altesaam 1 700, maar die projek het nou al so gevorder dat mense in Germiston, Glencoe in KwaZulu-Natal, Rustenburg, Potchefstroom, Waterval-Boven, Bethlehem en Roossenekal hulle beskikbaar gestel het om ouetehuise in hulle omgewing te bedien. Purcocks verskaf ook die bederfboksies aan die ouetehuis in Amsterdam, Mpumalanga, omdat haar skoonouers op die dorp woon en Purcocks en haar man oor Desember daarheen gaan.

Alle skenkingspakkies vir die projek sal teen 15 November ingevorder word.

Lesers wat meer inligting verlang, kan op die skakel klik.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Retha ·

Weet julle hoe baie oumas word heeltemal uitgeskakel van Kersfees of selfs verjaarsdae. Al is jy nie in n ouetehuis en woon selfs by jou kinders, is spesiale dae so eensaam. Niemand gee meer om vir ou mense nie al word daar van jou verwag om na hulle kinders te kyk vir geen vergoeding nie. Soms wens ek dat ek n ouetehuis kon bekostig.

Sandy Botha ·

Ai Retha – dit is darem maar so hartseer! Wat ek nie sou gee om my ma net nog een dag by my te hê nie. Mag hulle oë oopgaan en hulle jou waardeer vir wie en wat jy is.

Annie ·

Sjoe my mammie woon by my in en sy is so deel van my gesin dat ek my nie kan indink sonder haar nie.. wat nog te se om Kersfees of verjaarsdae sonder haar deur te bring… sjoe sy is nog baie fluks en helder van verstand en kan selfs nog vir 40 jarige’s ‘n go gee wat kos maak aanbetref ..selfs haar kleinkinders dink sy is nog baie “cool”

Johan ·

Wat ‘n wonderlike dame! Sy is ‘n mens-mens en aanwins vir die samelewing….

m ·

Cherice, wat ‘n wonderlike gebaar, in die tye waarin ons leef is dit so mooi om dit te sien!! Jou hart is in die regte plek!!

Martie ·

Dit is so n pragtige gedagte daar is ook baie ouma’

Daar bly ook n paar Ouma’s en Oupa’s wat nog in hulle eie huisies bly wat ook hulle kinders selde of ooit sien en altyd maar stosiel alleen Kersfees is ons is deel daarvan.

Guve ·

Wat n pragtige gebaar, ek sal enige tyd betrokke raak, ek is Des in Hartenbos, sal mt liefde vi jou Ouma iets gaan afgee

Melanie ·

Mens raak dit gewoond. Kinders is te ver om te kuier. Ons hou onsself maar besig.

Elmer Swanepoel ·

Baie mooi gebaar, en ‘n sterretjie vir die skool. Ek was 70 jaar gelede een van die eerste leerders wat daar ingeskryf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.