Pa se slim plan met stoele help nou ander

Pippie Kruger in haar Huggo-stoel. (Foto: Verskaf)

Toe Hugo Moolman, ʼn pa van Centurion, se seuntjie verlede jaar tydens die inperking ʼn gemakliker stoel benodig het en daar slegs peperduur stoele aanlyn beskikbaar was, het hy besluit om self ʼn plan te beraam.

Hugo jr (6) het ʼn breinbesering en bring weens die aard daarvan die grootste deel van die dag in ʼn stoel deur, veral wanneer pa Hugo en ma Adri albei tuis moet werk.

Moolman verduidelik dat die stoel waarin sy seun gesit het ʼn metaalstruktuur wat met ʼn dun spons oorgetrek is in die middel het. Dit is ontwerp om sy bene uit mekaar te hou en te help keer dat hy nie uit die stoel val nie.

Dié metaalstruktuur het later, van al die lang ure in die stoel, vir klein Hugo seergemaak. Aangesien hy ook nie heeldag in die oppasser se arms kon wees nie en hy ook nie heeldag bedlêend kon wees nie, moes ʼn ander plan vir ʼn gemakliker stoel gemaak word.

Moolman sê hy het die internet deursoek vir die regte stoel en het uiteindelik op die Zero Gravity-stoel in Nieu-Seeland afgekom. Dit sou egter sowat R40 000 kos om die stoel na Suid-Afrika te laat invoer.

Hy het elders gesien hoe ʼn soortgelyke stoel met spons en lap aanmekaargesit is en afmetings bekom. Hy het self die 3D-ontwerp van die stoel gedoen en die spons by ʼn maatskappy laat sny en aanmekaarsit. Hy het ook self die lapomhulsel gestik en die stoel oorgetrek.

Moolman noem dié eerste stoel die Prototipe 1. “Hugo het vir sowat tien maande baie lekker in dié stoel gesit. Ons het in hierdie tydperk gesien watse aanpassings ons moet maak en het ʼn tweede een ontwerp.”

Die Huggo-stoel. (Foto: Verskaf)

Intussen het hy die Hugo & Harvey-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie, in 2019 gestig om stoele vir ander behoeftige kinders ook te vervaardig. Moolman bedryf dié stigting op sy eie en vervaardig die sogenaamde Huggo-stoele soos wat hy skenkings van lede van die publiek ontvang.

Die organisasie het sedert sy bekendstelling in Mei vanjaar reeds drie van die Huggo-stoele verkoop en genoeg geld ingesamel om nog vier ander kinders te help. Die stoele word tans vervaardig en hulle behoort dit binne die volgende paar weke te ontvang.

Een van die kinders wat deesdae gemaklik in ʼn Huggo-stoel sit, is Pippie Kruger.

Pippie, toe maar net twee jaar oud, het 80% brandwonde oor haar lyfie opgedoen toe sy op Oujaarsaand 2011 met vuuraansteekjel gebrand het.

“Ek dink die Huggo kom uit baie liefde en die begrip wat ons kindertjies nodig het, sonder al die komplikasies,” sê Anice Barnard Kruger, Pippie se ma.

“Die stoel sal saam met Pippie groei en as ons kon, sou ons seker tien stoele kry vir oral waar ons gaan, kerk en kuier. Pippie is gek oor haar stoel, want dit is spesiaal met pienk vir haar oorgetrek. Ek dink sy sou in hom slaap as sy toegelaat word.”

Vir skenkings aan die Hugo & Harvey-stigting of meer inligting, maak kontak met Hugo Moolman by 078 918 1902. Besoek ook die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.