Pot sonder deksel? Nooi ʼn maat om vir jou te skryf

Argieffoto (Foto: Kathrin Pienaar/Pixabay)

Voel jy as’t ware soos ʼn pot sonder ʼn deksel? Hier is jou kans!

Selfs onder gewone omstandighede is dit soms moeilik om ʼn maat te kry. Die afsonderingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, het dit selfs nog moeiliker gemaak om sosiaal te verkeer en dit gaan waarskynlik nog vir ʼn wyle só voortduur.

Maar dis mos waarom Maroela Media die lekkerste kuierplek op die internet is: Hier geld geen aandklokreël of inperkingsregulasies nie. Met “Pot soek ʼn deksel” wil ons jou help om in hierdie tyd ʼn maat te kry – of dit nou sommer net ʼn penvriend, ʼn platoniese vriend of vriendin, of ʼn lewensmaat is.

Wil jy inskryf? Vertel ons bietjie meer van jouself – wie jy is, jou ouderdom, in watter dorp/stad jy woon, waarvan jy hou, watter stokperdjies jy graag beoefen en stuur selfs ook ʼn foto van jouself as jy wil. Jy kan ook kies of jy slegs jou voornaam of ʼn skuilnaam wil gebruik waaronder jou plasing verskyn.

Laat weet ons dan ook van wie jy graag sal wil hoor – of dit ʼn man of ʼn vrou moet wees, in watter ouderdomskategorie hulle moet wees, en selfs ook as jy verkies dat hulle naby aan jou dorp of stad moet woon. Laat weet sommer gerus ook of jy op soek is na ʼn romantiese of platoniese vriendskap.

Wees gerus ʼn bietjie kreatief met jou inskrywing en vertel iets van jouself wat nie alombekend is nie!

Slegs ʼn keur van dié inskrywings word uiteindelik op Maroela gepubliseer en jou persoonlike besonderhede word glad nie bekendgemaak nie. Persone wat belangstel om terug te skryf, stuur hulle brief direk vir ons en ons voorwaarts die skrywe aan jou. Dit bly dan jou keuse vir wie jy wil terugskryf.

Jy moet natuurlik enkellopend wees as jy belangstel om met iemand kontak te maak. Onthou dat alle reëls steeds geld vir enigiemand wat jy oor die internet ontmoet – wees versigtig en maak seker van iemand se ware identiteit voor jy inligting soos jou telefoonnommer of woonadres met iemand deel! Die sluitingsdatum om jou skrywe in te dien is 23 Augustus 2020 om 23:45.

Waarvoor wag jy? Skryf nou in (let op dat jy eers ‘n Maroela-fonteiner moet wees as jy wil inskryf en dus op die “word deel”-knoppie moet klik – word gerus ‘n inwoner, jou verblyf is gratis! Sodra jy jou intrek geneem het, kan jy die vorm kom voltooi)

Deur in te skryf, aanvaar jy die volgende bepalings en voorwaardes:

  • As jy inskryf vir dié veldtog, stem jy in dat jou inskrywing op Maroela Media se webwerf en sosiale media gedeel mag word (met die skuilnaam/noemnaam wat jy verskaf).
  • As jy ʼn foto vir ons aanstuur, stem jy in dat dié foto op Maroela Media en sosiale media gedeel mag word indien jou inskrywing ingesluit word in die plasings.
  • Slegs persone ouer as 18 sal in aanmerking kom vir die veldtog.
  • Slegs inskrywings van enkellopende persone (ongetroud/geskei/weduwee/wewenaar) kom in aanmerking vir plasing op Maroela Media.
  • Die beoordelaars se beslissing oor die hoeveelheid plasings en watter plasings uiteindelik op Maroela gedeel word, is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Maroela Media is onder geen verpligting om jou inskrywing te publiseer nie.
  • Die sluitingsdatum om jou skrywe in te dien, is 23 Augustus 2020.
  • Met jou inskrywing gee jy toestemming dat jou noemnaam/skuilnaam, jou beskrywing, die beskrywing van die tipe persoon van wie jy graag wil hoor en jou foto op Maroela Media gepubliseer mag word as deel van hierdie veldtog.
  • Maroela Media kan nie verantwoordelik gehou word vir die aard van die reaksies wat jy ontvang, indien dit nie in lyn is met jou verwagtinge nie.
  • Maroela Media aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige korrespondensie tussen twee partye nadat die eerste kontak by Maroela bewerkstellig is nie, en sal nie betrokke raak by enige van hierdie korrespondensie nie.
  • Indien jy kies om jou persoonlike kontakbesonderhede met iemand te deel wie se korrespondensie ons vir jou aangestuur het, is dit jou eie keuse waarvoor Maroela Media nie verantwoordelikheid kan aanvaar nie.
  • Maroela Media sal, so ver dit vir ons moontlik is, probeer om die egtheid van inskrywings te verifieer, maar deur in te skryf, vrywaar jy Maroela Media onvoorwaardelik van enige skade, beserings of verliese wat mag voortspruit uit jou kontak met enige derdeparty.

Let op:

  • Alle reëls wat normaalweg van toepassing is wanneer jy iemand op die internet ontmoet, geld steeds.
  • Maak seker dat jy eers goed navorsing doen om seker te maak die persoon is wie hy of sy sê hulle is.
  • Maak seker dat die persoon jou nie om die bos lei en jy hulle nie finansieel of op enige ander manier help of ondersteun voor jy nie bevestiging het dat die persoon wel betroubaar is en wel is wie hy/sy sê hulle is nie.
  • As jy iemand vir die eerste keer ontmoet, maak seker dit is in ʼn openbare ruimte; neem verkieslik ʼn vriend of vriendin saam en maak seker dat iemand anders, wat nie die ontmoeting bywoon nie, ook weet wie jy van plan is om te ontmoet, waar jy die persoon gaan ontmoet, watter korrespondensie jy al met die persoon gehad het en hoe laat jy verwag om te laat weet jy is veilig terug by die huis.
  • Dit is ʼn goeie idee dat iemand jou sommer ook gereeld kontak terwyl jy ʼn nuwe persoon ontmoet, sodat hulle deurlopend bewus kan wees van jou beweging.
  • As jy nie iemand by die ontmoeting wil hê nie, maak seker dat hulle dan ten minste net binne sigbare afstand is om seker te maak die ontmoeting verloop vlot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.