R2 miljoen hupstoot vir hongersnood

Hannes Noëth van Helpende Hand help om die nuwe besending van sowat 2 000 kospakkies Donderdagoggend te versprei. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand het Donderdag die grootste enkele skenking tot nog toe ontvang sedert sy voedingskemas in April uitgebrei is om te midde van die Covid-19-pandemie hongersnood aan te pak.

Toe die staat van inperking ingestel is, het die Solidariteit Beweging sy Krisisfonds van stapel gestuur wat grootliks aangewend word om Solidariteit Helpende Hand se voedingskemas te ondersteun, asook om leerders deur Wolkskool met behulp van hul aanlyn klasse by te staan.

Helpende Hand het sedert die staat van inperking al reeds meer as 3 000 gesinne en 257 instansies, soos ouetehuise en kinderhuise, gehelp. Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds het danksy die hulp van die publiek meer as R6 miljoen in skenkings gekry wat deur Helpende Hand en die Wolkskool aangewend kan word.

“Helpende Hand het danksy al die hulp sy reeds bestaande voedingskema uitgebrei deur Josef Silo’s en Houers VOL Hoop op die been te bring. Josef Silo’s is opgerig waar nagenoeg 40 plekke aangewys is waar niebederfbare kos afgelewer kan word om aan behoeftiges landwyd te skenk. Met Houers VOL Hoop kan die publiek uit die gemak van hul huis R350 kontant skenk waarmee noodsaaklike kruideniersware aangekoop en in pakkies opgemaak word, wat dan deur Helpende Hand se gevestigde strukture versprei word,” sê Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur.

Die uitdeel en tekort aan kos was so enorm dat AfriForum, Saai en Helpende Hand – almal instansies wat deel is van die groter Solidariteit Beweging – ’n taakspan saamgestel het om voedsel in te samel en te versprei.

’n Voorbeeld van die produkte wat in Helpende Hand se kospakkie vir ’n gesin van vier vir ’n maand ingesluit word. (Foto: Verskaf.)

Josef Silo’s het Donderdag ’n reusehupstoot ontvang met ’n kosskenking ter waarde van R2 miljoen. Dié skenking is moontlik gemaak deur die Douw Steyn Familietrust, Steyn City Properties en Telesure Investment Holdings (TIH). Hierdie skenking sal gebruik word om 2 000 kospakkies oor die volgende paar dae aan behoeftiges te voorsien. Elke kospakkie kan ’n gesin van vier vir ’n maand voed.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Solidariteit Beweging is uiters bekommerd oor die druk op gesinne.

“Die ekonomiese afswaai gaan nog lank duur. Mense wil werk, maar kan nie werk nie. Solidariteit ontwikkel ’n omvattende werkherstelprogram en deel daarvan is om met oorgangshulp te help.

“In hierdie moeilike oorgangstyd na ’n sogenaamde nuwe normaal moet ons mekaar help. Skenkings soos dié van die Douw Steyn Familietrust, Steyn City Properties en TIH maak ’n reuseverskil. Beleggings in die oorlewing van mense nóú gaan die opstaan later baie makliker maak. Solidariteit gaan landwyd, danksy Solidariteit Helpende Hand, mense help om te oorleef in die moeilike tyd. Ons doel is altyd om mense weer terug te kry in die werk en om mense te help om voluit te werk,” sê Hermann.

“Helpende Hand weet dat ons nie oral almal kan help nie, maar dit bly vir ons belangrik dat ons nie net kos aflewer waar ons help nie, maar ook hoop bedien,” het Noëth bygevoeg.

Hermann benadruk egter dat die Solidariteit Beweging se Krisisfonds nie met die regering se Solidarity Fund (Solidariteitfonds) verwar moet word nie.

“Die regering het sy eie fonds met sy eie doelwitte en kriteria. Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds is ’n helpmekaarfonds úít die gemeenskap vír die gemeenskap,” sluit hy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Sal dit nie goed wees om elke dag met sulke goeie en positiewe nuus te begin nie.

capie ·

Baie dankie aan die fonds wat die geld vir kos skenk en nie om in ander se sakke te beland nie. Gelukkig kon ek tot nou toe staande bly en mag my vrou dalk volgende week begin werk. Ek sal moet deurkom tot wanneer ek weer kan gaan werk en dan moet kyk wat ek aan die huishuur kan doen. Ek weet wat dit is as geld opraak en dan nog moet help ook.

Pieter ·

Ek gee op die oomblik nog vir Afriforum en Helpende Hand, maar is bevrees dit gaan binnekort opdroog. Die trog moet vol sodat daar weer geskep kan word, en ons as belastingbetalers gaan weereens daaronder ly. Kastige rykmansbelasting, oneiening van eiendom sonder vergoeding en pensioenfondse gaan alles nou geteiken word.

Alet ·

Net jammer dat wit kleinbesighede wat nie mag werk nie gehelp word nie… Ons sit al van die 26ste Maart sonder inkomste en mag nogsteeds nie oopmaak op die 1ste Mei nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.