Rolstoel laat egpaar se beker oorloop

Aneschka en Allen James. (Foto: verskaf)

Ná 18 jaar se geduld, terugslae en vasklou aan ’n rolstoel wat al byna uitmekaargeval het, kon Aneschka James uiteindelik ’n splinternuwe rolstoel aankoop.

Aneschka en haar man, Allen, se lewe het in 2004 onherroeplik verander nadat ’n gru-ongeluk haar ’n parapleeg en hom ’n tetrapleeg gelaat het. Saam het hulle die ongeluk oorleef, later ’n hospitaalkamer gedeel en deur rehabilitasie gewerk.

Hul liefde het egter deur tragedie voortgeblom en op 4 November 2006, twee jaar ná hul ongeluk, is hulle getroud.

“Mense het nie gedink dat ons verhouding dit sou maak nie, maar hier is ons,” het Allen vroeër aan Maroela Media gesê.

Toe sy 18 jaar gelede by die einste rehabilitasiesentrum uitgestoot is, het sy nie verwag dat dit byna twee dekades gaan duur voordat daar geld vir ’n nuwe een gaan wees nie.

“Ons beker loop oor,” het die egpaar oor die nuwe rolstoel aan Maroela Media vertel. Dit is pas by hul huis in Bloemfontein afgelewer.

“Ons kan nie beskryf hoe dankbaar ons is vir elkeen wat hul harte oopgemaak en geld geskenk het vir die nuwe rolstoel nie.”

Aneschka en Allen het in 2022 ’n geldinsamelingsprojek van stapel gestuur om geld vir die rolstoel in te samel. Hul aanvanklike oogmerk was R11 800, maar hulle het op die ou einde sowat R31 000 ingesamel.

Aneschka James in haar splinternuwe rolstoel. (Foto: verskaf)

Genoeg om nie net ’n nuwe rolstoel te koop nie, maar ook om vir ’n paar ander mediese benodigdhede te sorg.

“Ons sou dit nie sonder mense se goedhartigheid kon regkry nie!”

Hoewel dokters aanvanklik vermoed het dat Allen ‘n kwadrupleeg sou wees, het hy “wonderbaarlik” die gebruik van sy arms en bene herwin. Sy ledemate is egter steeds aangetas en hy sukkel veral met die gebruik van sy hande.

“Sy is my hande en ek haar bene,” het hy vroeër aan Maroela Media vertel.

Die paartjie het onlangs ook ’n skattige hondjie ryker geword – iets wat vir groot vreugde in die James-huishouding sorg.

“Hy is al agter my aan,” het Aneschka laggend vertel. “Wil net heeltyd speel.”

Ondanks die tragedie wat die egpaar saam moes trotseer, waaronder die kwessie dat hulle jare gelede reeds ongeskik verklaar is en op pensioengeld leef, bly hul positiwiteit tasbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trotse Boervrou ·

Kosbaar! Dit is SO lekker om te lees. Mag God jul toekoms in oorvloed seën. Wat ‘n pragtige voorbeeld is julle nie! Bly altyd so positief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.