Rubriek: Krom kierieplesier

Johan Oosthuizen met sy eie kierie. (Foto verskaf)

As jy nou vir my vra wat ʼn kierie met plesier te doen het, dan sê ek sommer nou vir jou ek kan sien dat jy nie ʼn kierie het nie. ʼn Kierie word jou beste maat wat jou nooit in die steek sal laat nie. Hy’s ʼn maat wat jy altyd by jou kan hê terwyl jou mensmaat baie keer doer, gunter in die verte weg is.

As oorlede Dawid met die Here praat, dan praat hy van die stok en die staf wat hom vertroos het. As ek ʼn lofsang kon skryf sou ek ook iets soortgelyk kon sê van my kierie, my wandelstok. ʼn Kierie is mos ʼn kosbaarheid wat nostalgie in jou wakkermaak en dan sit en streel jy hom liefderik.

Laat ek jou vertel van my nuutste kierie en die vreugde en genot wat hy verskaf het vir die afgelope jaar of wat. Dis ʼn unieke kierie. Nie nog so een in die wêreld nie! Nie eens oorlede lewende Genis van Koöperasiestories het hom in sy Boek van Rekords nie!

Terwyl ons by die kinders in die Bosveld gekuier het, het ek besluit om bosveldkieries te sny en mooi af te werk vir die jaarlikse Kersmark. Elke kierie, uniek en mooi op sy eie manier. Ek wou graag my bosveldkierievreugde met ander deel, want ʼn ordentlike kierie is mos ʼn bondel eiesoortige vreugde.

ʼn Man wat kieries sny is geseënd met vernuftigheid en ʼn oog vir ʼn kierie wat half skugter vir hom loer. Eintlik ook ʼn oor vir ʼn kierie as hy jou roep en sê: “Hier’s ek, kom haal my uit!”. Terwyl ek my oë laat dwaal om potensiële kieries, wat darem redelik reguit is, raak te sien, vang my oog toe ʼn vrisserige rooibosloot wat vreemd, kronkelend tussen ander takke deur, sy pad na sonskyn deurgewurm het.

Ek het hom hoor roep en ek kon nie nee sê nie. “Moenie by my verbygaan nie”, het ek hom hoor sê en net daar het ek my sagie uitgehaal en hom met moeite uitgesaag. Ek het vier en ʼn half kronkels getel en dit was vir my besonders. By die huis het ek hom netjies afgewerk en die onderste punt op die regte lengte gesaag. Sy vat was net reg en het gerieflik in albei my handpalms gepas. So asof hy spesiaal vir my hande gevorm was. Nog ʼn bate was die besonderse veerkragtigheid wat sag op die hand, pols en skouer is.

Van die begin af het ek besluit dis nie ʼn bêrekierie nie, maar my loopkierie wat moet keer dat ek nie struikel en val nie. As ʼn mens (ontkennend) oud word, kwyn die vermoë om, goed gebalanseerd, jouself op die voete te hou en soms voel dit of jy ʼn paar knertse te veel in het, terwyl jy nie eens aan die prop geruik het nie. Ja, en as jy loop, voel dit vir jou of jy jou voet vier duim oplig en dan is dit nie eens ʼn halfduim nie. Dis dán wanneer jou kierie jou derde been en redder word.

Ek het nooit kon droom watse reaksie my ou kieriemaat sou uitlok nie. Van die begin af was daar gemengde reaksie. Mense hou van die kierie of hulle hou nié van die kierie nie. Vir die manne wat reguit kyk, sien en dink moet ʼn kierie reguit en fyn afgewerk wees. Verkieslik draaibankgedraai met ʼn handvat wat spesiaal gevorm is vir ʼn gerieflike greep en as ʼn koperring of been ingewerk is, nóg beter. Ja en daar is nog fyn kerf- en inlegwerk wat die kierie se waarde verder verhoog.

Van die manne het só reageer – amper met sigbare afkeer en afkeuring: “Haai man,” kopskuddend en duidelik afkeurend, “kan jy nie maar liewer vir jou ʼn reguit kierie kry nie?”. ʼn Man het mos darem nog sy trots!” Die ander ou was amper hartseer van verontwaardiging: “Nee my magtag man, dis mos nie ʼn kierie nie. Dis dan ʼn krom stok! Jy gaan nog oor die dêm ding struikel.” Sou ek my dan nou steur aan manne wat nie vir my kan sê watter wet sê dat ʼn kierie reguit móét wees nie?

Dis nogal opvallend hoe kinders reageer as hulle my met die kierie sien. “Pa/ Ma, kyk daai (soms ou oom) se snaakse kierie!” Pa’s gee net so ʼn skewe kyk en ma’s skep die indruk dat hulle saam met die kind stem. Dan is daar die knaap wat voor my kom staan het. “Jis oom, dis ʼn mooi kierie! Hoe’t oom hom so krom gekry?” “Nee,” sê ek, “ek het hom nie so krom gemaak nie. Die Here het hom so krom gemaak – sommer daar in die veld in ʼn Rooibosboom.” Met lewendige oë het hy eers na die kierie gekyk en toe na my. “Jis oom, God is groot!” Dit was ʼn kosbare gesprekkie.

Laat ek nou eers verder oor die manne praat. So 2 uit 10 skud hulle koppe in ongeloof by die gedagte dat ʼn man met so ʼn ding in die openbaar sy lope kan loop. En dan sien ek hulle werksplekke. Pynlik netjies, nie ʼn ding uit sy plek nie. Nie ʼn stoffie nie. Alles gemerk en hy soek nooit na iets nie. Ek raak in die noute as ek aan my werksnes dink.

So ʼn 5 uit 10 staan belangstellend nader met vriendelike opmerkings en sinvolle vrae. Dit gee my die geleentheid om die vreugde en genot om boskieries te soek, uit te haal en dan af te werk tot ʼn bruikbare hulpmiddel vir watter doel ook al, met hulle te deel. ʼn Mens loop met hom, steun op hom, slaan met hom indien nodig, slaan jou pad oop as daar nie een is nie. Hy raak jou boesemvriend. Gaan kyk maar as twee manne oor hulle kieries gesels. Die goed word gestreel en stories word saggies vertel.

Hulle praat verder oor die ideale bome vir kieries. Die een sal sê Sekelbos is die beste. Nee, sê die ander, my pa het aan Rooibos en Mopanie geglo. Moenie vergeet van Kierieklapper nie en dan voeg hy by dat al die combretums goeie kieries lewer. My oupa het geglo jy kry nie beter as Olien nie. Ons groet soos ou vriende.

Ek skryf effens versigtig hierdie stukkie, máár met die huiwerende goedkeuring van my privaat inwonende sensortjie en ʼn paar van my dierbare sensitiewe lesers. Soms gebeur dit mos dat ʼn ondeuendheidjie nie maar net weg-  en afgelag kan word nie. Nee, jy vertel hom oor en elke keer word daar lekker gelag oor ʼn lekker komiese voorvalletjie.

ʼn Man, ook nie vandag se kind nie, sien my met die kierie en hy stuit in sy spore en wag stout, glimlaggend tot ek binne praatafstand van hom af is. Ek groet en hy begin, al kykende na my kierie, praat. “Meneer,” sê hy, “ kan ek vir jou sê hoe jy daai kierie reguit kan kry?” Nuuskierig, vra ek toe hóé. “Daar’s net een manier om ʼn krom kierie reguit te kry. Jy draai die warm waterkraan oop en tap genoeg warm water in die bad om die kierie te bedek in en gooi dan ʼn handvol Viagra-pille in en jy sal sien.”

Sonder om verder te praat, het hy ondeund kop geknik, die prettige stoffie wat hy opgeskop het, in die lug laat hang en verder aangestryk. Ek het staan en wonder vir wie ek eerste van die (boere)raat gaan vertel! Daar was geen plan om dié raad te volg nie. Ek had nie die pille nie en ek is in elk geval dood tevrede met my krom kierie!

Nou die dag het ek by die koöperasie ʼn paar vriende raakgeloop. Een van die manne was ʼn dokter met boerderybelange. Soos te wagte is allerhande opmerkings oor my kierie gemaak. Ek vertel toe vir hulle van die raad wat ʼn man vir my gegee het hoe om die kierie reguit te kry. Die manne het lekker gelag en die dokter het ondeund sy opinie gelewer: “Oom, as dokter wil ek jou aanraai om liewer die pille te drink.” Nouja, ʼn man hoef jou nie altyd aan ʼn dokter te steur nie.

Nou een dag, het ons naby Stellenbosch by die bekende aarbeiplaas aangery vir ʼn lekker koffietjie. Ek het pas uit die motor geklim en kierie in die hand die wêreld bekyk. So ʼn entjie weg het ʼn bussie vol manne stilgehou – almal in wit gewade met keppies op die kop. Hulle het uitgeklim en voor het ʼn bejaarde man met ʼn tipiese oumenskierie uitgesukkel. Hy was uiteindelik op die grond en met sy kierietjie in die hand het hy die wêreld verken. Toe hy na my kant toe kyk het my kierie sy oog gevang en was daar amper konsternasie. In Thailand het ek mos die vermoë bemeester om gebare-, lyftaal en oogkontak te gebruik om te verstaan en betekenis aan vreemde woorde te heg.

Die manne se tonge was los oor die kierie en ek sien toe hulle sê vir hom hy moet vir my vra of ons kieries kan ruil, wat hy toe ook doen. Baie vriendelik, maar beslis, was ek nie daarvoor te vinde nie. Toe praat hulle weer en ek verstaan hulle sê hy moet die kierie by my koop. Hy haal toe sy dik beursie uit en hou hom oop na my kant toe. Ek haal toe my platter beursie uit en wys dat ek genoeg het en ek beduie die kierie het nie ʼn prys nie.

Onverrigtersake, het ek afgelei hy vra of hy die kierie van nader kon bekyk en toe laat ek hom die kierie van nader bekyk. Ek het vir hom beduie dat die vat van die kierie so is dat hy in beide hande gevat kan word. Hy het die kierie liefderik gestreel en van nader bekyk, aan hom geruik en hy het baie vir die ander manne te sê gehad − te veel om nou hier neer te skryf. Ons het nog lekker “gesels” en toe is ons dik vriende uitmekaar uit. En iewers in Bangladesj gaan die ou man vertel van die ander ou man met die krom kierie in Suid-Afrika.

Wat dan van die skoner geslag? Wat sê die vrouens – seker tereg dames, maar dit maak die lekker kuierstoriestorie te formeel. Nog nie één het iets negatiefs van my kierie gesê nie. Dit lyk vir my hulle kyk met ʼn sagter oog. Hulle is mos geseënd met kunssinnigheid, met ʼn oog vir iets moois, iets anders, iets uniek en besonders. Hulle wil van naderby kyk en aan hom voel en luister aandagtig na die storie wat ek oor die kierie te vertelle het.

Hoekom dit so is kan ek nie bepaal nie. Dalk heg hulle waarde aan krulle, kartels en kurwes. Dalk is dit ʼn stuk kunssinnigheid om iets moois en ʼn geheel andersheid raak te sien. En ʼn vrou kan mos opgewonde blom oor ʼn ding!

Hier waar ek en my Bittereindertjie ons laaste dae deurbring en vier, het ons ʼn dierbare hoof verpleegkundige, Linda, en die eerste keer wat sy my met dié kierie gesien het, was haar woorde: “Oom Johan, skryf nou my naam op daai kierie. Hy’s myne as oom eendag vóór my doodgaan.”

Nou die dag loop einste Linda my raak waar ek op my kierie leun. “Oom!” sê sy. “As ek daai kierie sien wil ek dans!” En toe wikkel sy daai lyf volgens die kronkels en kurwes van my krom kierie wat daar in die Bosveld in ʼn rooibosboom gewag het, totdat ek hom raakgesien en uitgehaal het.

Gaan sit nou en kuier by iemand wat oor jare kieries bymekaargemaak het. Kyk hoe haal hy een uit. Kyk hoe hy hom liefderik vryf en luister as hy die kierie se storie vir jou vertel: “Dit was my oupa se olienhoutkierie. Ek het hom nooit sonder sy kierie gesien nie. Kyk hoe glad is hy. Dis my oupa se skurwe boerhande en merinowololie wat hom oor die jare so glad en blink afgewerk het. Ek ruik nog my oupa aan hierdie kierie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

quartus ·

Hoe kan so blink storie sonder enige kommentaar gelaat word ? Beste storie wat ek in n lang tyd gelees het

Andre ·

Die jonger geslag weet nie van beter nie. Ek het my eerste kierie op 40 jarige ouderdom by twee stuitige dames gekry wat gedink het ek sal dit eendag nodig kry. En ek het. Intussen het ek self nog 7 gemaak. Die een wat ek nou mee besig is, is ook krom, maar ongelukkig nie soos joune. Geniet dit.

Doompie Daan ·

Johan Oosthuizen beskik nie net oor die gawe om oor ‘n kromhout kierie ‘n storie op te dis wat ‘n ouman se vereelte tone laat omkrul van lekkerkry nie, hy doen dit ook so keurig met allerlei nuutskeppende uitdrukkings en sêgoed dat ek dit hardop wil uitbasuin: “Hiep-hiep hoera vir die mooiste en soetste Moedertaal wat nie ‘n sentimeter hoef terug te staan of gebuk hoef te gaan onder die aanslae van diegene wat dit met geradbraakte slengtaal of aaklige anglisisme wil befomfaai of wil afkraak tot die taal van sg onderdrukkers nie!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.