Sakeman gereed vir ‘lewe in oorvloed’ ná amperse dood

Corrie Moolman, 17 weke na die ongeluk. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Corrie Moolman, 17 weke na die ongeluk. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Corrie Moolman kom sukkelend, maar sonder enige hulp, aangestap en groet met ʼn breë glimlag. ʼn Mens sou nie kon raai dat dié 42-jarige sakeman van Pretoria skaars 17 weke gelede by die dood omgedraai het na ʼn massiewe motorfietsongeluk in Lusaka, Zambië, nie.

Hy kom sit met ʼn kreun in die houtstoel op die stoep. Sy vrou, Yolande, bied koffie aan en verskoon haarself na die lessenaar in die hoek van die vertrek vanwaar sy haar rekenmeesterspraktyk aan die gang hou.

“Sy hou nie daarvan om hieroor te praat nie,” verduidelik Moolman en sit agteroor, “maar sy luister altyd met een oor.”

Die kreatiewe houtplankies met Bybelverse en kleurvolle gesinsfoto’s teen die stoep se mure getuig van ʼn doodgewone, Christelike gesin wat hiér woon. Maar op 31 Augustus vanjaar het dié gesin se lewe so byna onherroeplik verander.

“Ek was op pad terug van Malawi af deur Zambië nadat ek vir ʼn sendeling, wat ek daar bo ondersteun om kerke op die been te bring, oudio-Bybels geneem het. Ek en ʼn vriend wat saam met my gery het, was albei op ons motorfietse. Sowat 10 km voor Lusaka het ʼn motor ʼn trok probeer verbysteek in ons baan in en hy is toe oor die kant van die pad.”

Die panniersakke aan die kante van die twee vriende se motorfietse het aan mekaar vasgehaak. “Ek was die naaste aan die middellyn en ek is voor die trok ingeslinger. Ek het die trok kop-aan-kop getref.”

Corrie se motorfiets ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Corrie se motorfiets ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

Al wat hy kan onthou, is hoe hy die teerpad getref het. “Ek het my oë toegemaak en Johannes 10:10 gebid. Die oomblik wat ek daar gelê het, was dit asof die Here bevestig het dat ek sal lewe. Ek het besef die Here is daar om vir my lewe in oorvloed te gee en my lewe is nog nie verby nie.”

Sy vriend, wat wonderbaarlik niks oorgekom het nie, was eers bang om vir Moolman op sy rug te draai. “Ek het vir hom gesê hy moet my draai, maar hy was bang. Hy het gesien albei my polse is gebreek, want dit het in verskillende windrigtings gestaan. Ek kon praat en was by my volle bewussyn.”

Moolman, wat bykans jaarliks ʼn reis in Afrika onderneem, vertel hy kon dadelik agterkom sy linkerskouer, pelvis, regterfemur en regtervoet is gebreek. “Toe my vriend my draai, het ek kliphard geskree van die pyn. Die femurbreuk was die seerste van alles. Later in die hospitaal het die narkotiseur vir my gesê my pelvisbreuk was van so ʼn aard dat hy nie kon glo dat ek dit oorleef het nie.”

Corrie in die hospitaal in Lusaka, Zambië. (Foto: Verskaf)

Corrie in die hospitaal in Lusaka, Zambië. (Foto: Verskaf)

Die ambulansdienste was binne enkele minute op die toneel en Moolman is na die naaste akademiese hospitaal gehaas om gestabiliseer te word.

“In die hospitaal het hulle ʼn naald in my maag gedruk om te kyk of ek inwendige bloeding opgedoen het, maar daar was niks nie. Hulle het toe agtergekom dat my uretra geskeur is en dat ek ʼn operasie daarvoor moes ondergaan. Die akademiese hospitaal het nie die geriewe daarvoor gehad nie en ek is geskuif na ʼn private hospitaal in Lusaka. Die volgende oggend het Netcare my teruggevlieg Suid-Afrika toe.”

Vir Yolande, wat by die huis in Suid-Afrika was, is dit hier waar die eerste groot beproewing op haar gewag het. “My mediese fonds dek nie onkoste in Zambië nie en sy moes toe die geld vir die vlug leen om my terug te kry in Suid-Afrika. Sy het ʼn haas uit ʼn hoed getrek en ek is binne 48 uur in Unitas in Pretoria opgeneem,” sê Moolman.

Vandaar het die magdom operasies op sy gebroke liggaam begin. “Hulle het so twee-twee goed op ʼn slag reggemaak. Ek moes ook ʼn veloorplanting ondergaan. Omdat ek so swak was, het die dokters die eerste twee weke na die ongeluk nie gedink ek gaan dit oorleef nie en was elke operasie baie traumaties. Die internis het later gesê hulle kan nie meer so gereeld opereer nie. Ek het op daai stadium amper 20 kg verloor en my liggaam kon nie meer herstel nie.”

Corrie by die rehabilitasiesentrum. (Foto: Verskaf)

Corrie by die rehabilitasiesentrum. (Foto: Verskaf)

Uiteindelik, ná weke in die hospitaal, is hy na ʼn rehabilitasiesentrum waar hy van voor af moes leer loop. “Vyf weke na die ongeluk het ek my eerste tree gegee. In my vierde week by die sentrum kon ek 200 meter stap. Nou, 17 weke ná die ongeluk, is ek uit my rolstoel en sonder my loopraam. Selfs die dokters sê dit is ongehoord dat iemand so ongelooflik vinnig herstel.”

Tog was dit nie elke dag vir hom ewe maklik om uit die bed uit op te staan nie en moes ʼn sielkundige hom help om die trauma te verwerk. “In die hospitaal en in die sentrum het ek minstens een keer per week ʼn slegte dag gehad wat ek net wakker word en nie die krag gehad het nie. Dit is nog steeds verskriklik moeilik, moet my nie verkeerd verstaan nie. Jy gaan deur een van die mees traumatiese goed wat jy kan deurmaak – dit is soos die dood, en ek kan die pyn nie vir enigiemand beskryf nie.”

Hy wys na die twee krake regoor die voorkant van die motorfietshelm wat onder die gesinsfoto op die kas staan. “Ek skryf dit toe aan die Here se genade dat ek nie ʼn hoofbesering opgedoen het nie. Ek het nie eers ʼn ribbebeen gekraak of gebreek nie – as ek het, sou dit my longe beskadig het of ek sou moontlik inwendig doodgebloei het.”

Die impak van sy lyf teen die trok het hom oneindige nagmerries gegee totdat hy ʼn sielkundige gaan sien het. “Omdat ek op soveel medikasie en morfien was, het ek heeltyd geslaap. Die impak was vir my die ergste gewees. Ek is nou op ʼn baie sterk plek en ek is positief. Die dokters het my nou die groen lig gegee om die rolstoel en loopraam te bêre. Ek het nie gedink dit gaan so gou gebeur nie.”

Corrie wys van sy beserings uit. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Corrie wys van sy beserings uit. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Moolman meen hy sou in Lusaka gesterf het as hy nie geweet het sy vrou en twee seuns, Francois (15) en Gian (10), wag vir hom by die huis nie. “Die seer was so ongelooflik dat ek vir ʼn oomblik wou opgee, hoewel ek geweet het ek gaan leef deur God se genade.”

Hy vertel hoewel Francois die ongeluk redelik goed hanteer het, het Gian gesukkel om sy emosies te verwerk. “Hy is ʼn fisieke mens, so hy wil drukkies hê en hy wil vasgehou word en dit was vir hom baie moeilik dat hy my nie kon sien of vir my ʼn drukkie kon gee nie. Die eerste keer wat hy my kon sien was vier weke na die ongeluk, en selfs toe mag hy nie aan my geraak het nie.”

Moolman verduidelik dat kinders hulle pa’s as superhelde sien, en maak nie saak wat gebeur nie, hou hulle aan hom hulle pa’s so te beskou. “Nou breek my superhero, wat kan met my gebeur as my superheld so kan breek? Ek het dit eers besef toe ek sien hoe hy sukkel. Ons mans het so ʼn groot verantwoordelikheid teenoor ons kinders.”

Yolande, sy vrou van 20 jaar, is sy rots en steunpilaar. Hy vertel sy was alleen by die huis toe sy die oproep van Moolman se ongeluk gekry het. Moolman se oë versag wanneer hy oor haar praat.

“Sy het dadelik die praktiese deel gesien en wat moet gebeur. Ek wil amper vir jou sê sy het op daardie punt uit die emosie geklim, hoewel sy dit steeds ervaar het. Sy het die mediese fonds gebel, die administratiewe reëlings getref en die vlug gereël om my in Suid-Afrika te kry. Ons familie was almal hier om haar by te staan, maar sy is ongelooflik goed daarmee om ʼn krisis te hanteer. Ek self sou nie daardie hoeveelheid druk op my kon hanteer sonder om te vou nie.”

Die Moolman-gesin: Corrie, Yolande en hul seuns, Francois en Gian. (Foto: Facebook)

Die Moolman-gesin: Corrie, Yolande en hul seuns, Francois en Gian. (Foto: Facebook)

In die nege weke wat hy in die hospitaal en in die rehabilitasiesentrum was, was daar nie ʼn dag wat Yolande nie by hom was nie. “Intussen moes sy albei van ons se sakeondernemings bestuur, sy moes die huishouding aan die gang hou en sy het ook gesorg dat ek kos met goeie voedingswaarde inkry – ek weet nie hoe sy dit alles gedoen het nie.”

Sy broer, die sjef Ivan Giani, en sy beste vriend Manie, het uit die VSA na Suid-Afrika gereis toe hulle van die ongeluk te hore kom. “Ek was eers vies vir hulle, want ek het gevoel dit is nie nodig nie, maar hulle het dit gedoen. Dit het my so geraak hoe ander mense bereid is om uit hulle pad uit te gaan vir my. Die mense by die rehabilitasiesentrum het soos familie geraak vir my – die dag toe ek daar uitstap het ons almal gehuil.”

In Lusaka het die motorfietsgroep saam met die ambulans gery van die hospitaal af na die lughawe sodat die ambulans ʼn oop pad het.

Sy oë skiet vol trane.

“Ek het net gedink, ek ken nie die mense nie, hoe kan hulle dit vir my doen? Hoe kan ʼn dokter 00:30 in die oggend ná al sy operasies eers ʼn draai by my maak om te kyk of ek oraait is? Hoe kan my broer uit Amerika vlieg en al die geld en tyd spandeer net om by my uit te kom? Toe ek hom vra, was sy antwoord: Jy sou dieselfde vir my gedoen het.”

Corrie op sy motorfiets in Afrika. Hy reis sowat jaarliks in Afrika. (Foto: Verskaf)

Corrie op sy motorfiets in Afrika. Hy reis sowat jaarliks in Afrika. (Foto: Verskaf)

Hoewel daar nog ʼn lang herstelpad vir hom voorlê, is hy dankbaar dat hy weer die klein goed, wat hy altyd as vanselfsprekend aanvaar het, weer self kan doen. “Die moeilikste vir my was om nie tande te kon borsel of om myself te kon help in die badkamer nie. In die laaste week in die sentrum kon ek weer myself help in die badkamer en ek het geleer om weer self te eet met ʼn lepel wat langer is. Die dag wat ek self kan stort, gaan ek ʼn dam leeg stort,” lag hy.

Moolman benadruk dat sy ongeluk nie vrees by sy kinders moet kweek nie. “My oudste seun het ʼn motorfiets en ek wil vir my jongste ook een koop. Ek wil hê hulle moet ten volle leef – die dag wat hulle hierdie wêreld verlaat, moet hulle kan sê daar is niks wat hulle nié gedoen het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae