‘Shoot for Food’ samel kos vir diere in

Een van Cat Schramm se modelle. (Foto: Cat Schramm Photography)

Vyf weke lank het Cat Schramm 105 troeteldiere, wat tot ’n goedgemanierde rot met die naam Grimm ingesluit het, gekiek. Hiervoor het sy nie geld gevra nie, maar wel kos, speelgoed en komberse wat later aan die Love-a-bull-organisasie geskenk is.

Met trots vertel sy dat die inisiatief vanjaar meer as ’n ton hondekos, 130 bakkies en sakkies hondelekkernye, 148 komberse en 190 verskillende soorte hondespeelgoed opgelewer het.

“Ons is nie noodwendig in die posisie om geldelike skenkings aan dierewelsynsorganisasies te maak nie, maar ek het talent, en dit kan ek gebruik om ’n verskil mee te maak,” het Schramm wat al vir die afgelope tien jaar troeteldierfotografie as loopbaan beoefen, aan Maroela Media vertel.

Sy is ook vanjaar benoem as een van Solidariteit se #GoeieGons toptien fotograwe in die afdeling vir aktuele fotografie.

Die Love-a-bull-organisasie is ’n skuiling vir Amerikaanse veghonde (pitbull- terriërs).

“Ek het in 2014 my eerste pitbull gekry, en hoewel my ander vier honde huishondjies is, lê my pitbull my baie na aan die hart.”

Dit is juis om hierdie rede dat sy vanjaar kos en speelgoed ingesamel het vir ’n pitbull-organisasie.

“Ek het trane in my oë gekry toe ek sien hoe hulle aan die kos wat ons geskenk het begin eet.”

Die kos, speelgoed en komberse wat vanjaar ingesamel is. (Foto: Cat Schramm Photography)

Toe ’n vreemde vrou in ’n tyd van nood ’n anonieme skenking voor die Schramm-huishouding se hek kom neersit het, het Schramm besef dat die daad voortgesit moet word.

Sy en haar man, Lotie Schramm, het vyf aanneemhonde. Toe hy in 2018 siek en bedlêend word, het die swaarkry homself kom tuismaak in hul huishouding. Tot dié mate dat sy nie geweet het waar haar honde se volgende ete vandaan sou kom nie.

“Ek weet tot vandag toe nie wie die vrou was en hoe sy geweet het van ons situasie nie, maar sy het vir elkeen van my honde kos, lekkernye en speelgoed kom aflaai.”

So is die Shoot for Food-inisiatief gebore, ’n hartprojek van Schramm wat sedertdien van krag tot krag gegaan het.

“Ek moet bieg, ek sê altyd dat wanneer ek nie ten minste drie nuwe honde oor ’n naweek teëkom nie, is dit maar ’n slegte week wat voorlê,” skerts Schramm.

Veronica Strydom, ’n fotograaf in KwaZulu-Natal het deelgeneem aan vanjaar se fotosessies en Schramm sê dat sy graag nog fotograwe sal wil betrek.

“Ons is kontantloos, ons neem die foto’s vir die skenkings, dus is dit die fotograwe wat hul tyd moet skenk.”

Sy nooi dus fotograwe met vrywilligerharte uit om haar te kontak indien hulle deel van die projek wil word.

Sy vertel ook trots dat daar ander fotograwe is wat onder ander vaandels soortgelyke projekte van stapel gestuur het.

Vir Schramm gaan dit oor een ding, die welstand van die diere.

“Jy kan dalk nie almal help nie, maar jy kan iewers ’n verskil maak,” maak Schramm haar uitgangspunt duidelik.

Sy is ook reeds besig om te soek na ’n dierewelsynsorganisasie of skuiling waarna 2023 se Shoot for Food-skenkings gestuur kan word.

“Ek is klaar besig om ’n lys op te stel. Mense is welkom om vir my te laat weet van skuilings wat hulle na aan die hart lê. Ek sal ’n draai daar gaan maak en dan later besluit watter een die skenkings gaan ontvang.”

Sy beoog ook om kleiner, soortgelyke projekte van stapel te stuur om sodoende meer skuilings te kan help.

Die borge van vanjaar se Shoot for Food-inisiatief, Irene Village Mall, CarniRaw, Chané & Co, Floofen Treatz Pet Bakery, O Little Winks, TSD Group, Nala & Me, Pawsitively Pet Sitting and Training en SHR3D Water, het al te fluks allerhande lekkernye vir die modelle van die inisiatief geskenk. Case Hire het vir die bakkie, sleepwa en brandstof gesorg tydens die aflewering van al die skenkings aan die Love-a-bull-organisasie.

  • Vir meer inligting oor die Shoot for Food-inisiatief besoek die Facebook-blad.
  • Kontak Cat Schramm vir ʼn fotosessie deur ʼn Whatsapp te stuur na 061 740 9975. Haar e-posadres is [email protected].
  • Vir meer inligting oor die Love-a-bull-organisasie, besoek die Facebook-blad 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.