Stem en wen: Help kies Maroela se Bruid van die Jaar

As daar een dag in ʼn vrou se lewe is wanneer sy straal, is dit natuurlik op haar troudag – en ons het gesien dat Afrikaanse vroue beslis die mooiste in die land is!

Ons het deur die loop van die jaar vier seisoenebruide aangewys en nou is dit jou kans as Maroela-leser om uiteindelik Maroela se Bruid van die Jaar 2022 uit dié vier wenners te kies.

Danksy Dream Hotels and Resorts het elkeen van die vier bruide reeds ʼn tweede wittebrood gewen, en hulle kom nou in aanmerking vir ʼn groot vakansie!

Bruid van die jaar – Le Franschhoek Hotel & Spa

Die algehele wenner van ons Bruid van die jaar-kompetisie wen drie nagte vir twee persone wat deel by die Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek in die Wes-Kaap ter waarde van R19 080-00.

Stem en wen

Jy kan ook wen! Kies jou gunsteling uit dié vier pragtige bruide en staan die kans om ʼn baie spesiale Tupperware-geskenkpak te wen. Dié geskenkpak sluit in een Universal Cookware Pot-stel, ʼn Chefseries-ketel, ʼn Extra Chef-kerwer, ʼn MicroGourmet-stoompot en ʼn geskenkbewys ter waarde van R1 500 vir gebruik in Tupperware se aanlyn winkel.

Dié geskenkpak se waarde beloop R12 000.

Laat weet ons voor 15 Januarie 2023 wie jóú gunsteling is uit ons vier seisoenbruide.

Ons vier seisoenbruide

Somerbruid – Emelia le Roux

Emelia le Roux van Meyerton is ons Somerbruid. Sy en haar man Donavan is op 22 Januarie 2022 by Zomerlust Country Estate getroud.

Emelia en Donavan was saam op skool, maar die liefde het eers ná skool begin blom. Die twee verliefdes se broers is vriende en hulle het mekaar by ʼn huisbraai ontmoet. Donavan is ʼn skaapboer in die Heidelberg-omgewing en Emelia is ʼn ontvangsdame by ʼn staalmaatskappy. Hulle is al drie jaar lank aan mekaar se sy.

Oor hul spesiale dag het Emelia geskryf: “ʼn Dag vol van lag, liefde, emosie en blydskap. Ons het gesing, gedans, gebid, gehuil en gelag. Dit was ʼn dag wat ons vir niks sal wil verruil nie! Elke oomblik saam met mekaar en ons vriende en familie was so kosbaar en ʼn fees. Dit was sprokiesmooi met ʼn bietjie plaas. Dit was ongelooflik om op ons spesiale dag die Here so naby ons te voel.”

Herfsbruid – Adell van Wyk 

Adell van Wyk van Standerton is ons Herfsbruid. Sy en haar man Renier is op 12 Maart 2022 by Lavender Hill Country Estate net buite Bethlehem in die Vrystaat getroud.

Adell en Renier werk al sedert 2017 saam by dieselfde skool, maar die liefde het eers in 2019 begin blom. Sy skerts hy het al hoe meer tyd in haar klaskamer begin deurbring en toe hulle een naweek saam met vriende weg is, het hulle die skoot hoog deur gehad. Adell is ʼn Engelsjuffrou vir graad 6 – 7’s, en Renier bied sosiale wetenskappe en Afrikaans aan vir die graad 4 – 6’e. Hulle was drie jaar lank in ʼn verhouding voor hulle verloof geraak het.

Oor hul spesiale dag het Adell geskryf: “Die mooiste dag en sommer hele naweek! Almal was daar! Ons is so geseënd om al ons ouers nog te hê wat ons liefde vir mekaar saam met ons te kon deel en vier. Ek weet nie wie het méér uitgesien om by die gangetjie in die kerk af te stap nie – ek of my pa. Hy was so spoggerig en trots. Die weer was perfek, maar ekstra warm toe ons mekaar vir die eerste keer sien. Ons het voor die seremonie privaat ontmoet. Die doel was om tyd te spaar en meer tyd met ons gaste deurbring – dit het selfs meer spesiaal uitgedraai as wat ons gedink het. Baie senuwees is verlig op dié manier. Ek het ses strooimeisies en Renier het een strooijonker gehad. Die mooiste mense in ons lewens. ʼn Ware sprokiesverhaal. Die boodskap tydens die seremonie het gehandel oor ʼn slot wat oopgesluit word wat ons toekomstige lewe saam simboliseer en hoe die Here deel vorm hiervan. As ons nou terugdink, kan ons niks sien wat verkeerd geloop het nie… alles het verloop volgens plan. Selfs die blommemeisies en hofknapies.”

Winterbruid – Ané Krause 

Ané Krause van Lydenburg is ons Winterbruid. Sy en haar man Werner is op 20 Augustus by @Boshoek getroud.

Ané en Werner het mekaar by vriende se troue ontmoet, maar hy het eers teen 23:00 die aand met haar begin gesels! Daarna het hulle nooit ophou kuier nie. Vier jaar later het hy haar die jawoord gevra.

Ané is ʼn graad R-onderwyseres en Werner werk met statistieke in inligtingstegnologie.

Oor hul spesiale dag het Ané geskryf: “Saterdag 20 Augustus het aangebreek … Ons troudag ná maande se beplanning is hier! Onbeskryflik mooi. Dit was alles waaroor ek gedroom het as ʼn klein dogtertjie. My sprokie het waar geword en my rok was selfs nog mooier as wat ek gedink het! Ek voel vandag soos ʼn prinses wat afstap in my pappa se arm terwyl my prins vir my wag. Ek het die mooiste man gekry – hy is so goed vir my en hy dra my op sy hande. Ons dans was ons hoogtepunt (ons het maande lank geoefen!). Hoe kan een dag só wonderlik en perfek wees? Ons is baie dankbaar.”

Lentebruid – Nicaile Oosthuizen

Nicaile Oosthuizen van Jeffreysbaai is ons Lentebruid. Sy en haar man Amand is op 24 November 2022 by Lombardini getroud.

Nicaile sê sy en Amand het mekaar al lank gelede ontmoet, maar sy het aanvanklik nie belanggestel nie. Ná ʼn stilte van sewe jaar het hy haar tydens die Covid-19-afsonderingsperiode gekontak – so ewe om haar te laat weet van ʼn spelfout op haar WhatsApp-status! Hulle het begin gesels en ná ʼn vriend se partytjie het die liefde behoorlik begin blom.

Nicaile is ʼn studieleier vir tuisskoliere en sy doen ook administratiewe werk. Amand is in die motorbedryf waar hy die verkope van motoronderdele hanteer.

Oor hul spesiale dag het Nicaile geskryf: “Vandat ek ʼn klein dogtertjie was, droom ek al van my groot troudag. My asemrowende man en ons spesiale dag het my verwagtinge oortref! Ons dag was so geseënd, die liefde was in oorvloed en ons gaste het saam met ons gejubel! Ek sal nooit my liefde teenoor my man, ons gaste en die spesiale tyd van dans saam met familie en vriende vir enige iets verruil nie. Ek voel skatryk! Ek het my eie wonderlike gesin en nou is ek ook deel van ʼn nuwe gesin van 12. Ek sal vir altyd ons spesiale herinneringe van ons troufees koester.”

Stem nou vir die Bruid van die Jaar

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Bruid van die Jaar te stem is 15 Januarie 2023 om 23:45.
  • Die wenner van die Tupperware-geskenkpak sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as die wenner van die Tupperware-geskenkpak aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal die wenner kontak en jou fisiese adres bekom sodat die geskenkpak aan jou gestuur kan word.
  • Maroela Media en Tupperware kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige skade of verlies wat jy mag ly wanneer jy van die geskenkpak gebruik maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.