Student dra wenstorie oor dood aan baanbreker oupa op

Hana Gammon is pas as die Afrika-streekwenner in die 2023-Statebond-kortverhaalkompetsie aangewys. (Foto: Verskaf)

Die kleindogter van wyle prof. Christo Viljoen, voormalige dekaan van die fakulteit ingenieurswese en president van die konvokasie by die Universiteit Stellenbosch (US), is pas as die Afrika-streekwenner in die 2023-Statebond-kortverhaalkompetsie aangewys.

“Ek het die storie aan my oupa, wat ʼn baie spesiale mens in my lewe was, opgedra,” vertel die 20-jarige Hana Gammon, ʼn derdejaar BA-student in taal en kultuur aan die US. Viljoen het ʼn betekenisvolle plaaslike en internasionale impak as navorser en onderwyser gemaak. Hy is op 13 Januarie ná ʼn kort siekbed oorlede.

Sy sê sy was “verras en in die sewende hemel” toe sy gehoor het dat haar storie as ʼn streekswenner gekies is. Hanna het dié nuus via ʼn Zoom-oproep ontvang en het onmiddellik na haar pa, Donald, gehardloop om hom te vertel.

“Hy kon dit eers nie glo nie. Ons het gewag vir my ma, Annakie, om huis toe te kom en toe dans ons sommer in die kombuis.”

Haar wenstorie The Undertaker’s Apprentice gaan oor ʼn groep kinders se interaksie met ʼn klein dorpie se somber, dog gawe begrafnisondernemer. Soos wat die kinders grootword, word hulle gedwing om die kwessies van groei, aftakeling en die wisseling van verskillende liggaamlike toestande te bevraagteken.

Hana sê die storie is “effens makaber”. “Die dood en alles wat daarmee verband hou, het my nog altyd gefassineer en dit blyk uit baie van my werk. Die storie is deels deur my navorsing verlede jaar oor die begrafnisbedryf geïnspireer, wat ek as loopbaan oorweeg het.”

Die beoordelaars het Hana geprys vir haar “sensitiewe waarneming, geduldige vertelling en ʼn voortreflik geskrewe storie oor die jeug, en die maniere waarop volwassenheid deur die ervaring van verlies en die dood bereik word”.

Hana erken sy het nie verwag dat haar kortverhaal so ver in die kompetisie sou vorder nie, veral omdat sy ʼn ongepubliseerde skrywer is. Sy hoop haar verhaal sal tot lesers spreek en ʼn “klein bydrae lewer” tot hoe mense die lewe, dood en verandering aanvaar.

“Hierdie temas het my selfs meer geraak sedert my oupa aan die begin van die jaar dood is. Dit was die eerste keer dat ek iemand wat so na aan my is, verloor. Oupa was ʼn gerekende skrywer en akademikus en was een van die eerste mense wat my liefde vir skryf aangemoedig het.”

Prof. Christo Viljoen (Foto: WAT/Facebook)

Hana is vlot in Afrikaans en Engels en het Duits tot op tweedejaarsvlak geneem. Vanjaar is haar vakke Engelse letterkunde, geskiedenis, antieke kulture en Latyn. Modernistiese letterkunde inspireer haar en sy vermeld die skryfwerk van Franz Kafka as ʼn spesifieke invloed.

“Die modules wat ek studeer, het my beslis gehelp om die wêreld uit verskillende perspektiewe te bekyk. Geskiedenis en antieke kulture het my gehelp om die verlede op ʼn nuwe manier te verstaan.”

Wanneer Hana haar nie met skryfwerk besig hou nie, geniet sy dit om te teken, hekel, brei, histories-geïnspireerde klere te maak, en om verskeie koddighede te versamel. Sy hou ook van die buitelewe.

“Die sublimiteit van ons natuurlike landskappe inspireer my baie. Dit klink dalk soos ʼn cliché, maar ek put baie inspirasie uit wandelings in die berge, die woude en die strande. Kaapstad se winters is veral vir my mooi – daar is ʼn rede dat dit eens die Kaap van Storms genoem is.”

Haar ouers is albei ingenieurs, en al is hulle volgens haar meer “linkerbrein-mense”, het hulle hul dogters se kreatiewe pogings ten volle ondersteun. Emma, haar jonger suster, is mal oor ballet, kook en bak.

Hoewel Hana onseker oor haar toekoms en loopbaan is, weet sy, sy wil aanhou skryf. Sy het reeds twee manuskripte vir boeke voltooi waarvan een onlangs aan ʼn uitgewer voorgelê is.

“Ek oorweeg dit om volgende jaar ʼn honneursgraad in antieke kulture te doen. Ek wil steeds aanhou skryf, al is dit nie noodwendig as ʼn heeltydse werk nie.”

Gevra wat haar raad aan jong skrywers sou wees, sê Hana sy het geleer dat goeie skryfwerk baie oefening verg. “Baie van die stories en gedigte wat ek aan tydskrifte gestuur het, is verwerp. Ek moes leer om verwerping te aanvaar. Die eerste stories wat ek geskryf het, was nie baie goed nie. Die enigste manier om te vorder is om aan te hou skryf en te oefen.”

Hana het vyf sterk mededingers op die kortlys vir die prys getroef: mede-Suid-Afrikaners Michael Boyd en Matshediso Radebe, die Keniaanse skrywers Buke Abduba en Josiah Mbote, asook HB Asari van Nigerië. Sy dring na die eindronde deur en die algehele wenner sal op 27 Junie aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Welgedaan, Hana. Trots op jou. Ek het ook die grootste respek vir jou oupa. Voorspoed op die skryfpad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.