Talle antwoord op ma van outistiese seun se pleidooi

Klein Ethan (Foto: Verskaf)

Carina Verwey, ʼn Wes-Kaapse vrou en ma van ʼn outistiese seun, sê haar vertroue is ten volle in die mensdom herstel nadat honderde mense haar genader het ná ʼn pleidooi om hulp op Facebook.

Verwey het vroeër vandeesmaand in ʼn inskrywing op Facebook gesê haar seun, Ethan, dra al vir ʼn geruime tyd een paar tekkies wat hy intussen al ontgroei het, en weier om ander tekkies – hoe soortgelyk ook al – te dra.

Sy het verder gevra of daar nie ouers van jong seuns is wat moontlik dieselfde paar tekkies gekoop het by wie sy dit weer kan koop nie, omdat dit die enigste skoene is wat jong Ethan wil dra.

Intussen het meer as 30 mense Carina direk genader om haar met die soekproses te help. Altesaam 15 ander ouers, en die kettingwinkel Ackermans, het ook laat weet dat hulle wel van dié einste tekkies het.

“Meer as 1 200 wonderlike mense het my post geshare en baie wat self met outisme te doen het, het my genader en raad gegee en sommer net my gevoelens gedeel oor hulle weet waardeur ek gaan,” het sy vertel.

Carina vertel dié inskrywing het gevolg ná ʼn oggend wat sy heeltemal moedeloos gevoel het.

“Hy was sommer net omgekrap oor die tekkies nie meer lekker pas en nie lekker aan sy voete sit nie. Ek mag dit net in die motor aantrek voor ons skool toe gaan en nie in die huis nie. Ek het vroeër vir hom ʼn ander paar groter rooi tekkies gaan koop, want dié paar is amper heeltemal te klein. Hy wou niks van dié tekkies weet nie – ek mag dit nie eens naby hom bring nie.

“Ek het besef ek sal moet soek na die einste tekkies wat ek verlede jaar by Ackermans gekoop het, want ek kry dit nie meer in die winkels nie. Ek was in trane oor sy ontsteltenis en meltdown en het die inskrywing gemaak in die hoop dat iemand kan help. Die terugvoering was ongelooflik! Soveel mense het my inskrywing gedeel en my genader en selfs Ackermans het uit hul pad gegaan om vir ons skoene te soek.

“Ek het selfs ʼn onverwagse oproep van Ferdinand Rabie, die Big Brother 2001-wenner en eienaar van Ferdinand’s Tours and Adventures en sy vrou, Samantha, gekry, en hy het deurgery en vir ons sy seuntjie se paar tekkies gebring.”

Carina sê sy het nou bykans al die groter pare van dieselfde soort tekkie.

Sy sê dié gebaar wys hoeveel goedheid daar steeds te midde van slegte omstandighede in die land is. “Dis wonderlik dat daar so baie goeie mense daarbuite is wat by mekaar staan en hul hand uitreik om ander te help. Ek wil vir elkeen van hulle baie dankie sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Mooi Man! ·

Ethan – jy rock! As jy hou van ‘n paar skoene is dit reg so seun …. sorg die volgende paar is net dieselfde. Dankie mamma vir jou moeite.

Gvs ·

Wow, dankie aan elkeen wat die mamma gehelp het. Ja daar is nog goeie mense.

Mariette ·

Carina eks so bly jyt soveel positiewe reaksie gekry. Waar ‘n wil is, is ‘n weg. Jys n mamma 1000…

wou net se ·

So ‘n ma kort n medalje vir uithou vermoe – mooi skoot vir almal wat help want hier in ons land is daar nog b a i e goeie mense en ons hoef ook nie te ver te soek nie
Ons het 2 maande terug ‘n baba seuntjie gekry om in plek van veiligheid te hou aangesien sy ouers altwee verslaafdes is – en mense het van oral om vir ons klere en doeke en alles wat nog nodig kon wees gegee – baie dankie aan almal wat altyd so bereid is om te help julle sal geseen word gelukkig slaap ons God nooit nie ne!

Liezl ·

Hi ‘wou net sê’. Hoe jammer van babatjies wat dit oorkom. Sal hy ooit ‘n normale lewe in die vooruitsig kan hê? Of sal hy opgegee word vir aanneming? Ons het ‘n huis sonder kinderstemmetjies en smag so daarna. Die aannemingsproses is ook lank en uitgerek. Ek vra maar net.

Melt Olckers ·

Ek self is outisties, en vind jou opmerking aanstootlik. Ek ly ‘n normale lewe, met die regte steun en is self onderhoudend. Jy sal verbaas wees wat mense met outisme kan vermag. Baie bekende wetenskaplikes en engineers was outisties, soos Einstein, Newton en selfs die aktrise Daryl Hannah, en akteurs soos Tom Hanks en Dan Aykroyd het erken dat hulle outisties is. Outistiese mense is ook van my beste vriende.

Liezl ·

Hi Melt, ekskuus, ek het nie na die artikel verwys nie. Ek het op ‘wou net sê’ se kommentaar geantwoord. Ekskuus, het nie uitgebrei wat ek bedoel met ‘normale lewe’ nie. Die seuntjie waarvan sy praat se ma en pa is albei verslaafdes. En ek bedoel met ‘n ‘normale lewe’ is dat hy in sorg van goeie ouers geplaas word wat hom liefde kan gee. Plek van veiligheid is net ‘tydelik’. ‘n Babatjie het ‘n mamma en pappa nodig. Sterkte aan die kindjie. Dankie vir jou verdere inligting oor Outisties, waardeer dit. Dit is wonderlik wat mense kan vermag.

Marietjie ·

Melt Olckers – ‘Liezl’ het verneem na die baba seuntjie wat ‘wou net sê’ in pleegsorg het. Sy het nie van outisme gepraat nie.

Kietsie ·

Melt sy praat nie van n outistiese kindjie nie, maat wel van die baba in “wou net se” se boodskap, wie se ouers beide verslaafdes is. xx

Ruby ·

Liezl, jou antwoord aan Melt is mooi, rustig en sag, dit spreek boekdele van jou karakter.

Mag julle geseën word met pienk voetjies.

Elizabeth ·

Geseënd is die mamma en elkeen wat gehelp het om die engelkind se hartjie gelukkig te hou. Wonderlike voel goed storie om ñ deurmekaar dag mee af te sluit. Dit gee sommer ñ wip in my stap om te weet daar is soveel goed en goeie in die lewe, ek moet net meer rond kyk.

Engela ·

Ai nee Melt Olckers wat is so aanstootlik vir jou aan Liezl se kommentaar. Sy smag na ‘n kinderstemmetjie in haar huis. Lees dalk net weer haar kommentaar.

vonnie ·

my seun is ook outisties en dit is vrek moeilik. vanoggend weer ‘n slegte oggend agv klein goedjies wat vir hom die wêreld beteken en vir jou eintlik niks is nie. is so dankbaar as jy sien hoe mense saamstaan. dankie vir die wat wel omgee en ook vir die wat net vir jou kyk en sê “ek weet en verstaan”.

Theresa ·

Heerlik om te lees van mense wat so ingespring het om te help! Trots op die mamma wat gevra het. Ethan is ‘n pragtige seun – mag sy lewe vol seën bly.

Lynette ·

Dit is so wonderlik om te lees van die goeie mense in ons samelewing!!! Dankie vir almal wat gehelp het om die mamma te help.

Liezl ·

Dankie, Ruby Jy sit sommer ‘n glimlag op my gesig :) Geseënde dag vir jou

Meraai ·

My seuntjies is ook outisties en dit is verstommend hoe positief mense se reaksie is as hulle net eers weet dat hy outisties is en nie sommer net stout nie! Hy dra net crocs en sagte klere (t-hemde en “polar fleece”) en raak verskriklik omgekrap as sy roetine omver gewerp word. Na elke uitbarsting het ek ook gewens vir die aarde om oop te maak en my in te sluk. Mens voel onbekwaam en selfs skaam; veral as jy ‘n regte “control freak” soos ek is! Dit het egter verander toe ek ‘n doelbewuste besluit geneem het om kalmer op te tree en mense eerder in te lig as om weg te skram van situasies wat as snellers kon dien. Die uiteinde is dat ons nou meer gereeld en sonder voorval uitstappies kan onderneem en geniet. Dit bly egter ‘n uitdaging – sterkte! Geniet jou seuna en omarm sy unieke menswees.

Ekke ·

Saam in dieselfde boot. Ons het 6 jaar gevat om uittevind wat “fout” is met my seun. Weet net jy is nie alleen nie. Her sit ‘n mamma en huil by haar tafel van hartseer en bly, want dis nie net ek wat so voel nie.

CHRISTELL ·

HI ek sit met die selfde ,my dogter ook sal graag met die mamma in kontak wil kom

Carina Verwey ·

Hallo julle almal! Baie dankie vir jul mooiste woord! Elkeen van julle se storie en kommentaar het my in trane en julle is almal so amazing!!! Julle het deur julle goedheid en liefde en omgee weer vir my geinspireer en gee my soveel moed. Ek het ‘n blog nou op Facebook begin want elkeen se verhaaltjie is so spesiaal en tog kan ons almal ‘relate’ en mekaar verstaan! Soveel mammas het my gekontak en hul stories met my gedeel. Deel asb ook jul verhale en ervaringe daarop saam met my sodat ons alle Outisme mammas kan inspireer en ook moed en raad gee en nog meer mense kan bewus maak van Outisme. Ek sien so uit en is sommer opgewonde daaroor!Dankie dankie so baie! Die Facebook blog se naam is Autism – I Am His Voice He Is My Heart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.