Teaterman vir kunstefees op water vereer

Frans Swart, uitvoerende hoof van Lefra Produksies. (Foto: Verskaf)

Omtrent ʼn dekade gelede het Frans Swart, ʼn teaterman, regisseur, skrywer en uitvoerende hoof van Lefra Produksies, met die idee vorendag gekom om ʼn kunstefees op die water aan te bied.

So het die eerste Oppiwater Kunstefees in 2014 plaasgevind, en dit is sedertdien op verskeie MSC-plesierbote aangebied. Van die begin af was kunstenaars en Jan Publiek gaande oor dié inisiatief.

Oor die afgelope nege jaar het meer as 18 000 kunsteliefhebbers na sowat 200 produksies by die Oppiwater Kunstefees gekyk. Bykans 400 kunstenaars het hulle talent tentoongestel en meer as 200 tegnici was by die produksies betrokke.

Swart, wat bekend is vir skreeusnaakse klugte soos My vrou se man se vrou en Groet die Grotman, is Maandag tydens die 2023-Naledi-teatertoekennings vereer vir die bydrae wat Oppiwater Kunstefees tot die plaaslike kunste gelewer het.

Lihan Pretorius, uitvoerende hoof van die Naledi’s, het tydens die oorhandiging van die prys gesê dié inisiatief is ʼn voorbeeld daarvan dat die kunste ʼn enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie kan lewer.

Op sy beurt het Swart gesê die Oppiwater Kunstefees is een van Lefra Produksies se grootste suksesverhale.

“Dit is suksesvol te danke aan ʼn groot ondersteuningsnetwerk wat bestaan uit my span by Lefra, die MSC-organisasie, kunstenaars en ʼn klomp ander rolspelers. Ek is dankbaar vir elke persoon wat bereid is om hierdie fees saam met my aan te pak.”

Afgesien van Swart se huldiging vir sy innoverende werk, is Bernard Jay en Paul Slabolepszy elkeen met ʼn lewensbydrae-toekenning vir hulle bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstebedryf vereer.

Benoemdes, rolspelers in die bedryf en uitgesoekte gaste het by die Lesedi-teater in Braamfontein, Johannesburg, byeengekom om die room van die Suid-Afrikaanse kunstebedryf te vier.

Drie kunstenaars het erkenning vir hulle bydraes in Afrikaanse produksies ontvang.

Amanda Strydom het die prys gewen vir beste vertolking deur ʼn aktrise in ʼn hoofrol in ʼn musiekproduksie. Sy het dié prys vir haar rol in Brel/Piaf, wat sy saam met André Schwartz aanbied, ontvang.

Ruan Wessels vertolk die rol van Tristan in “Plesierengel”. (Foto verskaf)

Die akteur Ruan Wessels het met die prys vir beste vertoning in ʼn soloproduksie weggestap, vir sy toneelspel in die teaterverwerking van Leon van Nierop se Plesierengel.

Pieter-Louis van Twisk van Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel is as die wenner in die kategorie vir beste klankontwerp aangewys.

Maroela Media het vroeër berig dat Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel in tien kategorieë benoem is, onder meer vir beste musiekteaterproduksie, beste regisseur in die kategorie vir musiekteaterproduksies (Jannes Erasmus) en beste vertolking deur ʼn akteur en aktrise in ʼn hoofrol in ʼn musiekproduksie (Johan Vorster en Bernice West).

Besoek Naledi-teaterpyse se Facebook-blad vir die volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.