‘Die Gelofte’ skitter op Naledi-kortlys

‘Die Gelofte’-akteurs in aksie. (Foto: Facebook/AfriForum Teater)

Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel is een van vanjaar se voorlopers met tien benoemings vir die Naledi-teaterpryse, terwyl Karoo Suite 2: Karoonagte, Brel/Piaf, Plesierengel en Hans steek die Rubicon oor ook in verskeie kategorieë benoem is.

Dié benoemings is Maandag by die Lesedi-teater in Braamfontein, Johannesburg, bekendgemaak.

Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel is onder meer vir beste musiekteaterproduksie benoem, en Jannes Erasmus het ʼn benoeming vir beste regisseur in die kategorie vir musiekteaterproduksies ontvang.

Bernice West en Johan Vorster ding mee om die toekenning vir beste vertolking deur ʼn akteur en aktrise in ʼn hoofrol in ʼn musiekproduksie, terwyl Amanda Strydom en André Schwartz ook in dié onderskeie kategorieë benoem is vir hulle vertolkings in Brel/Piaf.

Ander kategorieë waarin Die Gelofte: ʼn Musiekblyspel benoem is, sluit in beste oorspronklike musiek of musikale verwerkings (Johan is saam met Jacomien de Wet benoem), beste deurbraakvertolking (Jordan Human), beste vertolking deur ʼn aktrise in ʼn ondersteunende rol in ʼn musiekproduksie (Zoricke Snyman), beste vertolking deur ʼn akteur in ʼn ondersteunende rol in ʼn musiekproduksie (Eddie de Jager), beste musikale regisseur (Francois Lessing), en beste klankontwerp (Pieter-Louis van Twisk).

Deon Meyer en Coenie de Villiers. (Foto: Gareth van Nelson/rooi rose)

Karoo Suite 2: Karoonagte deur Coenie de Villiers en Deon Meyer is ook een van die voorlopers vir vanjaar se Naledi-teaterprys. Coenie, Deon en Mauritz Lotz ding mee om beste ensemble in ʼn musiekteaterproduksie, terwyl Coenie en Mauritz vir beste musikale regisseur en beste oorspronklike musiek of musikale verwerkings benoem is. Die produksie het ook benoemings vir beste vertolking deur ʼn akteur in ʼn hoofrol in ʼn musiekproduksie (Coenie) en beste nuutgeskrewe Suid-Afrikaanse teks (Deon) ontvang.

Die teaterverwerking van Leon van Nierop se Plesierengel pryk ook op die benoemingslys. Leon is benoem vir beste nuutgeskrewe Suid-Afrikaanse teks, terwyl Franco Prinsloo vir beste klanklandskap en Ruan Wessels vir beste vertoning in ʼn soloproduksie benoem is.

Besoek Naledi-teaterpyse se webwerf vir die volledige lys van die benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.