ToekomsVenster: Ons tyd op aarde is so min

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

‘n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos ‘n skaduwee verby. – Psalms 144:4

Ons tyd op aarde is soos ʼn  skaduwee, dit gaan verby

Die gebeure van die afgelope twee, drie jaar het ʼn mens opnuut besonders bewus gemaak van hoe kortstondig die lewe is en hoe plotseling dit tot ʼn einde kom. Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd tot gevolg gehad dat duisende mense die lewe gelaat het. Op ʼn stadium was die nood so groot dat mense nie plek kon vind in hospitale nie, dae aaneen in gange en ingangsportale moes lê om bed te vind. Mens kan nouliks glo dat ons dit werklik beleef het en is so dankbaar dat nuwer variante van Covid-19 nie so noodlottig is nie.

Die gebeure in Oos-Europa met Rusland se aggressie teenoor Oekraïne en die sterftes wat daarmee gepaard gaan, bring eweneens die kortstondigheid van die lewe onder ʼn mens se aandag. Nader aan die tuisfront dink ek aan die gebeure in KwaZulu-Natal waar ongeveer 400 mense weens vloede dood is. Die stormwaters het platgevee sonder om navraag te doen oor stand of status. Vir talle mense het hul lewens in ʼn oogwink onherroeplik verander, die wat gesterf het en die wat agtergebly het. Dit laat ʼn mens dink aan die woorde van Psalms 8: Wat is die mens dat u aan hom dink?

Ons is eintlik maar net voorlopig, vleeslik, nietig, tydelik, eenmalig, kortstondig en weglaatbaar. Wanneer ʼn mens met hierdie realiteite gekonfronteer word dink ʼn mens diep na oor die lewe. As die lewe dan so onvoorspelbaar en tydelik is, hoe moet ek dit leef?

Wat los ek agter?

Wat het ek tot stand gebring?

Waarvoor sal ek onthou word?

Waartoe het God my bestem en was ek inderdaad daarmee besig?

Sal ek hoor dat Hy van my sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in, in die heerlikheid van jou Heer”?

Die bedoeling is geensins om jou negatief en swaarmoedig in te stel nie, veel eerder om jou aan te moedig om alles uit vandag te haal.

Die digter sê iewers: “Leer my om my dae so deur te bring dat ek wysheid sal bekom”.

Betuig dankbaarheid, omhels, liefkoos, bemoedig, stel belang, staan op, stap, ruik, proe en doen. Na alles, ons het net hierdie oomblik.

Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ‘n skaduwee, dit gaan verby. – 1 Kronieke 29:15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.