Topsjefs en gemeenskap in Franschhoek dek tafel vir honderdes

Altesaam 500 kospakkies word gepak. (Foto: Facebook.)

Met sy geskiedenis van die Franse Hugenote, Kaaps-Hollandse argitektuur, eeue oue wingerde, fauna en flora en wildlewe is die Franschhoek-vallei in die Wes-Kaap ’n besonderse bestemming vir reisigers wêreldwyd. En is dit ook dié vallei se lewensonderhoud: toerisme.

Ekonomieë wêreldwyd gaan kreunend gebuk onder die huidige Covid-19-pandemie waar byna elke aspek van die mens se bestaan tans deur dié virus beïnvloed word. ’n Industrie, wat soos baie ander industrieë die effek van die pandemie direk voel, is die toerismebedryf.

Te midde van die onsekerheid van hoe lank Covid-19-maatreëls gaan geld, volg die eens besige strate van Franschhoek ’n ander ritme en roetine. Veral die betrokkenes by die Disaster Management Franschhoek-groep.

Buiten vir die winkels wat vir noodsaaklikhede oop is, is die bekroonde restaurante Foliage en Le Coin Français in Franschhoek ook oop. Maar nie vir besigheid soos gewoonlik nie. Nee, om die gemeenskap te bedien.

Topsjefs soos, onder andere, die Nederlandse Margot Janse, Darren Badenhorst, Chris Erasmus, vrywilligers en inwoners in Franschhoek gebruik die Foliage en Le Coin Français se kombuise om maaltye en kospakkies voor te berei en om voedselverligting te bied aan kwesbare gemeenskapslede weens die Covid-19-pandemie.

“Aangesien ons nie ons werkmag kan betaal nie, moet ons hulle voer. Dit is die realiteit daarvan,” sê Chris Erasmus, sjef- en eienaar van die Foliage-restaurant.

Tussendeur die opmaak van pakkies, verduidelik Erasmus oor die foon deur by die begin te begin…

“Drie jaar terug, tydens die groot brande in Franschhoek, het Ashley Bauer (’n brandveiligheidskonsultant) my gebel en gevra kan ek nie kan help om kos voor te berei vir die brandbestryders nie. Ek het op ons WhatsApp-sjefgroep gevra wie kan help. Die volgende oggend maak ons ontbyt vir sowat 700 brandbestryders.”

So het die Disaster Management Franschhoek-groep ontstaan. Ashley Bauer is ’n sleutelrolspeler en spankoördineerder van die groep wat, ingeval van ’n brand, die leisels neem om nooddienswerkers van maaltye te voorsien.

Met die aanvang van Covid-19 en die staat van algehele afsondering is die groep besiger as ooit.

Erasmus verduidelik: “Ons is 12 mense wat deel vorm van die Disaster Management-groep in Franschhoek. Dan is daar baie vrywilligers wat help. Ons werk saam met drie niewinsgewende organisasies, Franco, Sci Care Suid-Afrika en die Lions Klub FHK (Franschhoek).”

Dokters, nooddienspersoneel, brandbestryders, polisielede en lede van die verkeersdepartement ontvang daagliks ’n bord kos om voort te gaan met die werk wat hulle doen in die bekamping van Covid-19.

Maar dié meelewendheid stop nie daar nie.

“Ons het die week (Woensdag) begin om droëkospakkies vir 500 families te pak. Die gesinne word deur leiers in die gemeenskap identifiseer. Daar is ook lyste van mense wat nie na die sopkombuise toe mag kom nie vir wie ons ’n warm maaltyd neem.

Dit lys van begunstigdes hou nie op nie. Erasmus vertel verder.

“Daar is regtig mense wat sukkel en swaarkry wat nie winkels toe kan ry nie. Ons kry oproepe van kinders wie se ouers in Franschhoek is en by wie hulle nie kan uitkom nie omdat hulle in die Paarl of Klapmuts woon en nie mag ry nie. Daai mense help ons ook.

Daar is maatskaplike werkers wat ook help – jy kan dink wat nou alles by die huis aangaan, daar is baie gesinsgeweld op die oomblik… aan hulle word daar ook ’n maaltyd voorsien. Ook aan die haweloses wat in tente woon in Klapmuts, ook hulle kry warm kos elke dag.

Ons help nie blindelings nie, ons werk met gemeenskapsleiers wat terugvoering gee of daar nog mense is wat hulp nodig het. Informele nedersettings soos Groendal, Mooiwater en Langrug is van die wyke, maar daar is ’n paar wyke tussenin ook waar daar behoeftiges is.”

Chris Erasmus is die sjef en eienaar van Foliage. (Foto: Verskaf deur Chris Erasmus.)

En die reaksie van die gemeenskappe?

Mense spring in. As jy ’n aartappel kan skil, gaan ons jou intrek.

Skenkings kom uit inwoners se groentetuine – basielkruid, tamaties, eiervrug, suurlemoene, pruime, pomelo’s, kaas en vars brood. Slaghuise het ook begin help, hulle bring maalvleis, bredie, hoender. Ons verskaffers kyk regtig mooi na ons deur produkte teen ’n korting te voorsien.

Daar is ook ’n boekhouer wat aan boord gekom het, elke sent wat inkom, word neergeskryf en gebruik om vir mense kos te kook. Dit is al wat ons nou doen.”

Maar hoe lank kan dié noodgedronge voedselskema uithou?

Erasmus is bewus van die onsekerheid wat voorlê.

“Ons weet nie wat ons volgende week gaan maak nie. Ons probeer geld bymekaarmaak. Ons het op een dag R115 000 op kos vir 500 huisgesinne gespandeer.

En die getal vermeerder soos ons bewus raak van mense wat ook agterplaasbywoners huisves. Mense het ook nou dalk genoeg, maar ons weet nie hoe dit oor twee of drie weke gaan lyk nie”.

Erasmus sê hy verwag nie om binnekort sy restaurant se deure oop te maak nie.

“Ek is seker daarvan dat ek nie binnekort weer my restaurant sal kan oopmaak nie. Dit sal tien teen een nou ’n gemeenskapsprojek bly tot ons hier deur is. Ons moet positief bly en ons moet besig bly”.

Die ritme en roetine in Franschhoek, maar ook in die hele Suid-Afrika, is deur die Covid-19-krisis verander. Mense moet aanpas. Erasmus se boodskap is duidelik wanneer hy sê:

“Ons moet nou saamstaan. Ons moenie worrie oor ons rekeninge en aftrek-orders nie. Ons kan later daaroor worrie, nou moet ons seker maak ons kyk na mekaar en die eerste prioriteit is kos. As daar ekstra is in jou huis, moet jy deel. Dié wat welaf is, het grootmaat gekoop. Deel jou ekstra rys, blikkieskos, meel, mieliepap en hawermout. Bring dit vir ons, dat ons dit vir ander kan gee wat dit regtig nodig het. Daar is dié van ons wat gemaklik hierdeur gaan. Maar die realiteit is 80% van ons land sukkel.”

  • Raak betrokke deur die Facebook-groep te besoek: Disaster Management Franschhoek. Besonderhede om skenkings te maak, is op die blad beskikbaar. Of kontak Ashley Bauer by  [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.