Tuinroete-brandbestryder op pad na Wêreldspele

Emile Conrad (Foto: Tuinroete-distriksmunisipaliteit)

Emile Conrad, senior brandbestryder van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en veelvoudige wenner van die Suid-Afrikaanse taaiste brandbestryder-kompetisie, vertrek Woensdag na Portugal om aan die 14de Wêreld-brandbestryderspele deel te neem. Dié kompetisie word van 30 April – 7 Mei 2022 gehou.

Emile is ʼn bekende in die brandbestrydingsgemeenskap in Suid-Afrika. Hy het verskeie kere as wenner uit die stryd getree in die individuele manskategorie as taaiste brandbestryder in Suid-Afrika. Hy het in 2011 vir die eerste keer aan dié kompetisie deelgeneem.

Die Wêreld-brandbestryderspele word elke twee jaar in ʼn ander land gehou en brandbestryders van reg oor die wêreld neem deel. Dit sluit permanente en deeltydse brandbestryders en vrywilligers van strukturele brandbestryding in, asook bosbrandbestryders, lugvaartbranddienste en weermag-nooddienste. Meer as 50 verskillende uitdagings insluitend boogskietery, rugby-sewes, branderplankry, poker, swem, atletiek en sagtebal in. Die wenner word as die “taaiste brandbestryder ter wêreld” aangewys.

Emile is deel van ʼn span van 20 brandbestryders, 18 van die Wes-Kaap en twee van die Oos-Kaap, wat onder die vaandel van die Wes-Kaapse Brandbestrydersvereniging sal deelneem. Dié mans en vroue sal Suid-Afrika en hul onderskeie munisipaliteite verteenwoordig.

“Ek is oorweldig en dankbaar vir alles wat God in my lewe gedoen het,” sê Emile. “Ek wil ook my vriende en Charnaud Protective Wear bedank – hulle het my nie net toegerus met die beste brandbestrydingstoerusting nie, maar ook die reis na Portugal moontlik gemaak. Ek kan nie wag vir die Spele nie!”

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en personeel het Emile in ʼn verklaring sterkte toegewens vir die kompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.