Twee babas op 14 – nou help sy ander swanger tieners

Salome Vonita Tadford (54) het haar seer gebruik om ander in dieselfde situasie te help. (Foto: Verskaf)

Sy is al op vyf- of sesjarige ouderdom gemolesteer en het aan twee babas geboorte geskenk voordat sy 14 jaar oud was. Sewentien maande uit mekaar.

Salome Vonita Tadford (54) se lewe was verwoes en haar skoolloopbaan verby. Van sorgvrye kinderjare was daar geen sprake nie.

Die grootste trauma wat sy egter beleef het, was toe haar seun op drie maande vir aanneming van haar af weggeneem is; vermoedelik onwettig.

“My seun is vanjaar 40 jaar oud en alle soektogte na hom het doodgeloop. Ek het hom nooit weer gesien nie. Al wat ek van hom oor het, is een babafoto wat ek altyd saam met my ronddra.

“Ek sal altyd vir hom lief wees en ek dink elke dag aan hom. Ek wil net weet of hy oukei is.”

Maar hoe gebeur dit dat ʼn jong meisie in so ʼn penarie beland?

“Ek kom uit ʼn disfunksionele familie waar ek gemolesteer en later deur familievriende verkrag is.

Salome as kleuter van ongeveer drie jaar oud. (Foto: Verskaf)

“Omdat ek jonk was, het ek nie werklik besef wat gebeur het nie. Ek het dit nie verstaan nie. Dit het begin nadat ek weens witseerkeel uit die hospitaal ontslaan is en ʼn familievriend ons kom besoek het, kamma om te kyk of ek oukei is. Ek moes my bewussyn as gevolg van die medikasie verloor het en aan die slaap geraak het. Vyf maande later het ek uitgevind ek is swanger. My ma het my dokter toe geneem omdat ek siek gevoel het. Sy wou gehad het ek moes ʼn aborsie ondergaan, maar die swangerskap was reeds te ver gevorder.

“Daar is vasgestel wie die pa is, maar daar is niks omtrent die saak gedoen nie.

“Enkele maande na die geboorte van my dogter het ʼn ander familielid by ons kom woon en ek is gedwing om seks met hom te hê.

“Hy was baie ouer as ek. Ek was net 13. Hoe keer jy iemand wat baie ouer as jy is? Toe raak ek weer swanger.

“Dit was vir my traumaties om met my eerste kind se geboorte op 13 na ʼn baba om te sien. Ek is tydens beide swangerskappe na tehuise vir ongehude moeders gestuur, maar ek was nie baie gelukkig daar nie omdat die ander meisies almal ouer as ek was en wou weet hoe dit gebeur het. Ek het wel ondersteuning met die eerste geboorte gehad. My ma was daar.

“Die geboorte van my seun was erg traumaties. Ek is net daar in die kraamsaal gelos. Daar was niemand om my hand vas te hou en te vertroos nie.

“Ek is daarna uit die gemeenskap verwyder, uit die skool geskop en ek het nooit weer teruggegaan nie. Ek het besef dat ek nooit ʼn normale sosiale lewe sou hê nie. Daar sou nooit ʼn matriekafskeid wees nie. Ek was alleen met die babas. My pa wat meestal nagskof gewerk het, het bedags geslaap. My ma het gewerk en ek was op my eie.

“Ek het ook besef dat talle swanger tienermeisies dikwels uit disfunksionele families kom. Ek onthou nog hoe my pa destyds baie gedrink en my ma om die tafel gejaag het.”

Salome is bekommerd oor jong meisies wat hul vandag in sulke omstandighede bevind. Waarheen vlug hulle as hulle moet?

“Baie woon in beknopte ruimtes. As hulle eers swanger is, gaan hulle ook nie terug skool toe nie.”

Salome met haar jongste seun Ferdie as baba. (Foto: Verskaf)

Dit is hoekom sy en haar man KIDSA, ʼn organisasie sonder winsoogmerk, vir kinders in nood gestig het (registrasienommer 261-718).

Hoe het Salome daarin geslaag om die siklus te verbreek?

“Ek het dit oorkom deur positief te bly. Ek het twee kinders gehad om te versorg. Ek kon eenvoudig nie tou opgooi nie en ek wou ook nie my kinders prysgee nie. Dit was nie vir my ʼn opsie nie.

“Ek wou ook nie hê dat enigiemand anders moes deurmaak wat ek deurgemaak het nie. Ek het ʼn goeie verhouding met my oudste dogter van 41 wat deur my man aangeneem. Ons het nog twee kinders en ons is ʼn hegte gesin. Ek is ook die trotse ouma van vier kleinkinders.

“Ons is al 37 jaar lank gelukkig getroud en hy ondersteun my heelhartig.

“Ek was 16 toe ek my man ontmoet het en hy was 18. Toe ek sy familie ontmoet het, het ek dadelik besef hulle verskil hemelsbreed van myne. Hulle was ʼn funksionele en liefdevolle familie en het my met ope arms aanvaar.

“Ons wil meisies in dieselfde omstandighede op praktiese wyse help, maatskaplike werkers, dokters en verpleegsters onderrig oor hoe om met die meisies te werk en ook om die oortreders aan te keer.

“As ʼn minderjarige meisie dokter toe gaan en uitvind sy is swanger behoort die dokter dit aan te meld. Daar is tans geen verpligtings of strukture in plek nie.

“Ons wil graag geriewe vir die kinders beskikbaar stel, want hulle wil nie skool toe gaan nie. Hulle is bang dat hulle gespot word. Ons wil ook ʼn plek hê waar die babas versorg kan word sodat hulle hul nie oor hul kinders hoef te bekommer nie. Daarbenewens moet hulle ook kan studeer. Daar moet iemand wees met wie hulle kan praat en hulle moet toegang tot die nodige owerhede hê.

“Daar is soveel tieners hier buite wat selfdood oorweeg. Ons het ons kinders nodig, want hoe sal ons anders ʼn toekoms hê?” vra Salome.

Leonard en Salome is gelukkig getroud en ondersteun haar met haar liefdadigheidswerk. (Foto: Verskaf)

Terug na haar verlore seun.

Mense onbekend aan haar het destyds haar ouerhuis besoek en haar babaseun weggeneem, onthou sy. Hulle was glo van die “welsyn”.

Geen rekord kon van die aanneming van haar seun verkry word nie. Hoewel die owerhede daaroor beskik, wou hulle nie daaroor uitbrei nie. Sy glo dit het onwettig gebeur omdat daar voorheen reeds ongerymdhede was en omdat haar eie geboortesertifikaat aandui dat sy as die kind van Susanna en Otto Schwartz gebore is terwyl haar grootmaakma Helena Erasmus was.

Haar oorlede grootmaakma het ʼn verklaring afgelê dat haar geboortesertifikaat in die naam van haar aanneempa geregistreer is. Salome meen dit was ook vals, want haar grootmaakma was destyds met ʼn ene Neal Johnson getroud.

Sy het wel jare later haar biologiese pa ontmoet wat drie jaar gelede oorlede is, maar weens sy ouderdom kon hy nie veel van die gebeure onthou nie.

Salome het wel haar biologiese pa ontmoe maar hy is drie jaar gelede oorlede. (Foto: Verskaf)

Haar grootmaakma en haar ma se destydse man het boonop haar dogter onwettig aangeneem, hoewel Salome toe al mondig en getroud was.

Toe Salome se man dit uitgevind het, het hy die hof genader en toe self haar dogter in 1993 aangeneem.

Oor haar verlore seun sê sy hy het ʼn merk onder sy tepel gehad wat amper soos ʼn derde tepel gelyk het.

“Ek dink nog elke dag aan hom en bid vir hom. Ek glo God hou hom in die palm van sy hand en ek weet dat hy groot vreugde sal bring aan wie ook al bevoorreg is om sy ouers te wees. Hy verdien ook om te hoor wat met sy biologiese ma gebeur het.”

Salome het deesdae ‘n gelukkige gesin. Hier is almal saam ongeveer twee jaar gelede: Salome (54) voor met haar kleindogters Vaylynne (10) en Aila (8) met agter haar haar twee dogters, Bronwynne Fuller (34) heel links en langs haar haar oudste dogter Vonita Mc Cloud (41). In die middel agter is haar skoondogter Ursula (35) en Salome se seun Ferdie (35). Langs hom is haar skoonseun Vic Mc Cloud (64) en heel regs David Fuller (43), haar jongste dogter se man met klein Nicholas (toe 2) Heel voor is Salome se man Leonard (57) en Ferdie se jongste seun Theodore (toe 6). (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

a3a3 ·

Ek glo dat hierdie lewe die eerste akkoorde is van ’n lied wat stadig opbou om uit te mond in ’n ewige ode. Ek glo in God – Vader, Seun en Heilige Gees – en ek glo dat ’n lewe tot sy eer ’n sinvolle lewe is. (Deur Ockert Meyer verwoord) Bron: Die Groot Gebedeboek,

Zombie ·

Jammer al die goed moes in die eerste plek met jou gebeur het en dat daar nie iemand/iets was om jou te beskerm nie.

Janice ·

Hierdie is nou absolute bewys laat daar altyd iets goed uit enige situasie kan kom, maak nie saak hoe benard dit mag wees nie.

anniekiewiet ·

My trane loop. Soveel liefde, soveel genade waarin jy nou omvou word, hoeveel vroue smag na ‘n liefde en ondersteuning van ‘n man soos joune. Mag jul nog baie jare met jul pragtige organisasie kan voort gaan en jul familie lewenslank jul liefde so kan uitdra. Vou ons God se seën oorvloedig oor almal van julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.